Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
AfriForum wil komitee ‘muilband’ met aansoek oor grond

AfriForum probeer doelbewus die parlement se wetgewende prosesse te kortwiek. Hul hofaansoek waarin ’n parlementêre komiteeproses rondom grondhervorming bevraagteken word, is in werklikheid daarop gemik om die instelling te “muilband”.

Lewis Nzimande, medevoorsitter van die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee, voer dié argument in die parlement se beantwoordende hofstukke aan nadat AfriForum die hooggeregshof in Kaapstad vir ’n dringende interdik genader het om te voorkom dat die parlement die verslag van die komitee aanvaar.

Dit kom nadat die komitee twee weke gelede in hul finale verslag aanbeveel het dat art. 25 van die Grondwet gewysig word om die onteiening van grond sonder vergoeding duidelik in die Grondwet uit te stippel.

Benewens die dringende interdik versoek AfriForum in die tweede gedeelte van sy aansoek dat die hof die aanvaarding van die verslag as onwettig verklaar en dit terugverwys word na die komitee vir heroorweging.

Nzimande voer in sy stukke aan dat die aansoek nie dringend is nie en dat dit met koste van die hofrol geskrap word.

“Dié aansoek is in werklikheid ’n muilbandbevel,” lui sy beëdigde verklaring.

AfriForum sal volgens Nzimande 'baie meer geleenthede' hê om wesentlik deel te wees van die voorstel om die Grondwet te wysig.

“Die aansoek is niks anders nie as die misbruik van ’n proses wat doelbewus daarop gemik is om die parlement se vermoë te stuit om beleidsopsies te oorweeg waarmee AfriForum nie saamstem nie.

“Dit behoort nie toegelaat te word nie omdat dit prakties litigeer om die parlement se grondwetlik verskanste verpligting, om wetgewing te oorweeg en goed te keur wat dit goeddunk, in die wiele te ry.”

AfriForum se aansoek is volgens Nzimande te laat sowel as voortydig.

Dit is te laat omdat die organisasie ’n interdik wil hê teen gebeure wat reeds plaasgevind het, insluitend dat die organisasie se skriftelike voorleggings nie deur die komitee oorweeg is nie.

Dit is voortydig omdat die komiteeverslag nie finaal is nie.

Nzimande wys in sy beëdigde verklaring daarop dat die verslag opsigself geen finale invloed het nie, omdat geen finale besluit nog geneem is nie.

Nzimande wys ook daarop dat openbare deelname nie ’n numeriese oefening is nie.

AfriForum sal volgens Nzimande “baie meer geleenthede” hê om wesentlik deel te wees van die voorstel om die Grondwet te wysig.

“Dit kan nie die uitkoms daarvan vooruitloop of vooraf oordeel nie – die potensiële wysiging is nie ’n uitgemaakte saak nie. Die parlement moet steeds die kwessie oorweeg en steeds in wese daaroor stem. Die komiteeverslag is nóg bindend nóg bepalend.”

In reaksie op AfriForum se argument dat sekere skriftelike voorleggings nie deur die komitee oorweeg is nie en dus nie “in aanmerking geneem” is nie, voer Nzimande aan dat dit die voorleggings ontvang het en dat dit deur ’n derdeparty-diensverskaffer oorweeg is.

In sy verduideliking oor waarom seker voorleggings uitgesluit is, wys Nzimande daarop dat dit “duplikaat, blanko, onverwante e-posse en navrae” was. “Dit beteken dit is ‘oorweeg’, maar uiteindelik uitgegooi weens die foute daarin.”

Altesame 176 780 duplikaat-e-posse is ontvang. “Die inhoud van die e-posse is vasgelê en in ag geneem is. Dit was eenvoudig die duplikate wat nie getel is nie.”

Nzimande wys ook daarop dat openbare deelname nie ’n numeriese oefening is nie. “As dit was, sou ’n steekproef van die voorleggings nie waarlik verteenwoordigend wees van die gevoel van die kiesers nie, maar eerder die menings vervat het van diegene wat daaraan deelgeneem het.”

Hoewel die gewig wat die getalle dra nie geïgnoreer kan word nie, behou die parlement steeds die diskresionêre bevoegdhede om te bepaal hoe om dié voorleggings te aanvaar of te verwerp.

Meer oor:  Afriforum  |  Grondhervoming  |  Hofaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.