Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Afrika se woede oor xenofobie in SA kring uit

Die domino-steentjies het Donderdag bly val soos wat Afrikalande hul misnoeë met die xenofobiese geweld in Suid-Afrika te kenne gegee het.

Bobby Moroe (regs), waarnemende Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Nigerië, is vandeesweek deur dié land se regering ingeroep oor die geweld teen Nigeriese burgers in Suid-Afrika. In die middel is Geoffrey Onyeama, Nigerië se minister van buitelandse sake. Foto: Twitter

Air Tanzania het sy vlugte na Suid-Afrika opgeskort, terwyl Nigerië sy hoë kommissaris (ambassadeur) in Suid-Afrika herroep weens die aanvalle op buitelanders in die laaste tyd in Gauteng.

Die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in die Nigeriese hoofstad, Abuja, en die konsulaat in Lagos is tydelik gesluit weens dreigemente, sê die Suid-Afrikaanse regering.

Boonop het Madagaskar se sokkerspan, soos dié van Zambië, besluit om nie Saterdag in ’n vriendskaplike wedstryd teen Bafana Bafana in die Orlando-stadion in Johannesburg te speel nie.

Die nuusagentskap Reuters berig Air Tanzania skort sy vlugte na Suid-Afrika op omdat hy sê die geweldpleging in Suid-Afrika hou ’n gevaar vir sy passasiers in.

Die aankondiging in Dar es Salaam is gedoen deur Isack Kamwelwe, Tanzanië se minister van vervoer.

Minstens vyf mense is dood in aanvalle op buitelanders vroeër vandeesweek in Johannesburg en Pretoria.

Dit het gelei tot wraakaanvalle op Suid-Afrikaanse maatskappye in Nigerië, Zambië en ook in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Suid-Afrikaanse maatskappye in Lusaka, Zambië, is aangeval, terwyl oproeriges volgens eNCA die ruite van die Suid-Afrikaanse konsulaat in Lubumbashi in die suidooste van die DRK uitgegooi het.

Lai Mohammed, Nigerië se minister van inligting, het Donderdag in Abuja op ’n nuuskonferensie bekend gemaak Nigerië herroep sy hoë kommissaris uit Suid-Afrika weens die geweld, berig Reuters.

Bobby Moroe, waarnemende Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Nigerië, is vroeër vandeesweek reeds deur die Nigeriese regering ingeroep vir ’n verduideliking.

Ambassadeurs na Statebondslande staan as hoë kommissarisse bekend.

Die Nigeriese regering sal nou ’n spesiale gesant na pres. Cyril Ramaphosa stuur om die aanvalle op buitelanders te bespreek.

Ramaphosa het die aanvalle die laaste paar dae verskeie kere skerp veroordeel.

Weens dreigemente het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) besluit om die Suid-Afrikaanse missies in die Nigeriese stede Lagos en Abuja tydelik te sluit ter wille van die veiligheid van die personeel.

Minstens vyf mense is dood in aanvalle op buitelanders vroeër vandeesweek in Johannesburg en Pretoria.

Dr. Naledi Pandor, minister van die departement, het Donderdagmiddag in ’n verklaring gesê die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Abuja en die land se konsulaat in Lagos is tydelik gesluit.

Sy het ontken dat daar enige fisieke aanvalle op Moroe, of die missies en personeel was en sê berigte daaroor is vals.

Pandor sê Dirco het Suid-Afrikaanse maatskappye met belange in Nigerië gevra om in noue verbinding met die departement van internasionale betrekking en samewerking te bly.

Die minister sê in die verklaring sy hoop om teen vroeg aanstaande week met die missiehoofde van Afrika-lande in Suid-Afrika te vergader.

Pandor het vroeër in Kaapstad op die Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika aan Reuters gesê die Afrofobie en wraaksugtigheid wat in die land voorkom, moet aandag kry.

Volgens haar maak Nigeriese wetgewing nie voorsiening vir die instel van eise deur Suid-Afrikaanse maatskappye daar vir vergoeding rakende hul eiendom wat in oproer beskadig word nie.

Vroeër Donderdag het die Nigeriese departement van buitelandse sake gesê ’n private Nigeriese lugdiens, Air Peace, het aangebied om ’n vliegtuig Suid-Afrika toe te stuur om Nigeriërs wat wil terugkeer huis toe, te gaan haal, het Al Jazeera berig.

Meer oor:  Air Tanzania  |  Nigerië  |  Xenofobie  |  Afrika  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.