Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Afrikaans is ’n walglike taal’ – LP

Die EFF respekteer nie Afrikaans nie, en daarom sal hulle na Afrikaans as “walglik” verwys in die parlement.

Tebogo Mokwele, ’n parlementslid van die EFF, het Woensdag tydens die begrotingsdebat van die departement van openbare werke en infrastruktuur die VF Plus-LP Philip van Staden in die rede geval om te kla dat haar gehoorstuk se vertalingsfunksie nie werk nie.

Tebogo Mokwele, EFF-LP... respekteer nie Afrikaans.

“Dit is ’n walglike taal. Ek wil na ’n behoorlike taal luister,” het Mokwele vir Van Staden onderbreek in ’n pleidooi aan die waarnemende speaker, die ANC se Jane Ma­nganye.

“Die enigste tale wat dit (die gehoorstuk) toelaat is Engels en Afrikaans,” het Mokwele voortgegaan.

Die waarnemende speaker het geantwoord dat die probleem na die vertaaldienste verwys is.

Philip van Staden, VF Plus-LP... hy is onderbreek.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het hierna ’n punt van orde geopper en die waarnemende speaker gevra dat Mokwele haar stellings oor Afrikaans moet terugtrek.

“Ek stem saam dat die taaldienste beskikbaar moet wees, maar jy kan nie ’n taal as walglik beskryf nie. Daar is 11 amptelike tale en hulle almal het gelyke status. Hulle moet in hierdie huis gerespekteer word,” het Steenhuisen gesê.

Wouter Wessels van die VF Plus is toe al reeds twee keer deur die voorsitter geïgnoreer toe hy probeer vasstel het of Mokwele wel na Afrikaans as “walglik” verwys het.

“Presies so,” het Mokwele self bevestig.

“Ek was deel van die jong leeus wat baklei het teen Afrikaans, so ek sal nooit Afrikaans respekteer nie.”

Toe Manganye haar vra om haar stelling terug te trek, het sy geweier.

“Dit is my demokratiese reg om nie Afrikaans te respekteer nie. Niemand sal my dwing om Afrikaans te respekteer nie,” het Mokwele gesê.

Manganye het toe probeer bemiddelaar speel, waarna Mokwele net weer herhaal het dat sy nie Afrikaans sal respekteer nie.

“Niemand vra haar om die taal te praat nie,” het Steenhuisen gesê, “maar sy moet dit respekteer.”

Die ANC se Madala Ntombela, wat later as voorsittende beampte by Manganye oorgeneem het, het aan die einde van verrigtinge probeer uitsluitsel gee oor die kwessie.

“By tye het ons persoonlike situasies en lewensverhale ’n impak op hoe ons na sekere kwessies kyk. In hierdie geval het ons die vryheid om onsself in hierdie huis uit te druk in die taal wat ons verkies. Terselfdertyd het lede die keuse om na die debat te luister in ’n taal waarmee hulle gemaklik is. Ek is bedag daarop om nie enige lid se vryheid van spraak te beperk nie. Persoonlik sien ek niks onparlementêr in wat eerbare Mokwele gesê het nie.” Hierna het hy die huis verdaag.

Wessels sê sy party is besig om ’n brief aan die speaker, Thandi Modise, te skryf om Ntombela se besluit te hersien omdat hulle nie daardeur ’n presedent wil skep dat dit aanvaarbaar is om iemand se moedertaal as “walglik” te beskryf nie.

Wessels het daarop gewys dat EFF-lede nie kla as iemand in ’n ander taal praat nie, maar slegs as ’n spreker Afrikaans praat.

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Parlement  |  Afrikaans  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.