Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Afrikaans laat wit heerskappy voortbestaan – Malema

Die tesis vir sy BAHons(Phil) handel oor Afrikaans se rol in die voortbestaan van wit heerskappy – maar dis nié gemik teen die mense wat die taal praat nie, sê Julius Malema.

Die honneursgraad in filosofie is Woensdagaand by die Universiteit van Suid-Afrika se gradeplegtigheid in Pretoria aan die EFF-leier toegeken.

“Ek glo sterk dat Afrikaans gebruik word om wit heerskappy te laat voortbestaan in Suid-Afrika,” het Malema ná sy gradeplegtigheid gesê.

“As jy sê Afrikaans Must Fall, is dit nie noodwendig teen die mense wat Afrikaans praat nie, maar dit is teen Afrikaans as ’n simbool wat witheid laat voortbestaan.”

Malema sê sy studies was nie altyd maklik nie.

Julius Malema, leier van die EFF, Woensdagaand op die verhoog in Pretoria nadat die graad BAHons(Phil) deur Unisa aan hom toegeken is. Foto: Felix Dlangamandla

“Ek moes baie dinge in my lewe verander sodat ek ’n akademiese program kon inpas.”

Hy was veronderstel om tydens die Staatsrede in Februarie eksamen te skryf, en sou dit eerder toe wou aflê.

“Toe ek hoor dat pres. Jacob Zuma soldate ingeroep het na die parlement, moes ek daardie eksamen uitstel om te gaan leiding gee.”

Gaste wat Malema na die gradeplegtigheid begelei het, was onder andere sy vrou, Mantwa, wat glansend in ’n blink, liggeel rok gelyk het.

Malema se ouma, Sarah, het ook die geleentheid bygewoon.

Sommige van Malema se kollegas van die EFF, onder andere Floyd Shivambu, die adjunkhoof van dié party en Mbuyeseni Ndlozi, die EFF se nasionale woordvoerder wat onlangs ’n doktorsgraad in filosofie behaal het, het die seremonie bygewoon, geklee in akademiese drag.

Mantwa Malema, (in die liggeel rok) kom Woensdag by Unisa in Pretoria aan waar haar man, Julius Malema, EFF-leier, ’n honneursgraad verwerf het. Malema se ouma Sarah en ander familielede het hom ook vergesel. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons is trots op sy prestasie omdat dit die indruk by ons almal laat om onderrig hoog te ag. Met al die druk om ons mense te dien in die EFF, in die parlement en in Afrika, het Malema steeds tyd gemaak om sy opvoeding te verbeter,” het Ndlozi vroeër in ’n verklaring gesê.

Hy sê dat die EFF dié stelling maak in die wete dat universiteitgelde die grootste struikelblok bly vir baie mense wat toegang tot onderrig wil kry.

“Malema se kwalifikasies moet dus ’n bewys wees vir diegene wat aandring op die einde van universiteitsgelde om só te doen omdat hulle inderdaad akademies verdienstelik is.”

Mandla Makhanya, die visekanselier van Unisa, het Malema gelukgewens dat hy sy studies kon voltooi onder die moeilike omstandighede om die leier van ’n politieke party te wees.

“Ons wens hom die beste toe en hoop dat hy sy opvoeding sal voortsit en sodoende jong mense aanmoedig om onderrig ernstig te ag sodat hul lewens verbeter kan word,” sê Makhanya.

Malema het vroeër ’n diploma in jeugontwikkeling voltooi en sy BA-graad in kommunikasie en Afrikatale ontvang, albei aan Unisa.

Meer oor:  Julius Malema  |  Unisa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.