Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Afrikaners mag nie weer laer trek nie’

Afrikaners kan nie langer die onwilligheid bekostig om hul verlede waterpas in die oë te kyk nie.

Só het Gert van der Westhuizen, stemmeredakteur van Netwerk24, Vrydag op ’n byeenkoms van die geskiedeniskomitee van die Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria gesê.

Die tema was “Die Afrikaner onder druk, 1902-2020”.

Van der Westhuizen sê baie Afrikaners was heeltemal onvoorbereid op die nuwe Suid-Afrika.

“Baie van hulle kon nie, en wou nie, ná jare se apartheids- en totale aanslag-propaganda vir hulself dink nie.

“Baie van hulle het nie besef dat hulle baie sal moet gee in die nuwe Suid-Afrika nie . . .” sê Van der Westhuizen.

Gert van der Westhuizen, stemmeredakteur van Netwerk24, aan die woord op ’n byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

“Baie het nie besef wat dit beteken om die politieke mag prys te gee nie.

“Baie het nie besef dat politieke mag nie al is wat prysgegee of gedeel moet word nie, maar dat ekonomiese mag net so belangrik is,” sê hy.

“Baie kon, of wou nie, hul verlede waterpas in die oë kyk en dit konfronteer nie.

“Hulle was skepties teenoor iets soos die Waarheids-en-versoeningskommissie. Ons het sedertdien eintlik nog nie weer ’n behoorlike nasionale gesprek gehad oor waar ons vandaan kom en waarheen ons wil gaan nie.

“Hoe ons dit gaan doen, weet ek nie. Ons sal daaroor ook moet praat en skryf.

“Die ongesonde nostalgie oor die verlede wat byvoorbeeld onlangs weer in die debat oor die ou vlag na vore gekom het, maak nie net ons medelandgenote seer wat onder apartheid gely het nie.

“Dit gee ook skietgoed aan die neo-fasciste in die EFF en die ANC wat hulle teen die Afrikaner kan gebruik. Dis nie so maklik om te sê vergeet van die verlede ter wille van die toekoms nie.”

“Ons sal soos die filosoof Azille Coetzee sê, weer moet luister na die pyn van ander en kan eenvoudig nie toelaat dat onverdraagsames toenemend die Afrikaner-narratief bepaal en andersdenkendes as verraaiers en politiek-korrektes afmaak nie.

“Afrikaners sal ook moet leer om na mekaar te luister. Ons moet weer van binne behoorlik na onsself kyk.

“Ons kan steeds ons eie ding in Afrikaans doen – boeke en rolprente en kunstefeeste en selfs Afrikaanse skole en instansies vir hoër opleiding – maar ons kan nie ander daardeur uitsluit nie.

Ons kan steeds ons eie ding in Afrikaans doen – boeke en rolprente en kunstefeeste en selfs Afrikaanse skole en instansies vir hoër opleiding – maar ons kan nie ander daardeur uitsluit nie.

“En ons mag nie weer laer trek nie,” sê Van der Westhuizen.

“Daarom is dit belangrik om te besef dat ons almal in die land onder druk is. Misdaad bedreig nie net die Afrikaners nie.

“Die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding bedreig nie net die Afrikaner nie. Dis nie net Afrikaans wat bedreig word nie, maar ook ander inheemse tale.

“Daar is baie ander dinge wat ook onder druk is.

“Ons demokrasie is onder druk, ons Grondwet is onder druk, ons geliefde geskiedenis as vak is onder druk en ja, selfs die waarheid oor die verlede en die hede kom al hoe meer onder druk.

“En dit kan ons nie langer toelaat nie. Daaroor sal ons baie meer moet begin praat,” sê Van der Westhuizen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.