Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: Agri SA dien eie verslag in

Agri SA het ’n minderheidsverslag oor grondhervorming en onteiening sonder vergoeding aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur, want hulle weier om ’n amptelike verslag in dié verband te onderteken.

Dan Kriek, president van Agri SA, is een van tien paneellede wat Ramaphosa in September 2018 aangestel het om hom te adviseer oor die pad vorentoe ten opsigte van grondhervorming en onteiening sonder vergoeding.

Die amptelike verslag van die paneel is geskeduleer om op 24 April aan Ramaphosa oorhandig te word.

Die verslag geniet egter nie die steun van die volle paneel nie.

Kriek en minstens een ander lid het geweier om die verslag te onderteken weens verskeie kwessies – waarvan onteiening sonder vergoeding die neteligste is.

“Ons het ’n alternatiewe verslag uitgereik waarin ons perspektiewe oor grondhervorming gegrond op bewese landboupraktyke en volhoubare ekonomiese groei uiteengesit het,” sê Kriek in verklaring, wat Vrydag uitgereik is.

Dan Kriek, president van Agri SA. Foto: Sarel van der Walt

Die alternatiewe verslag stippel volgens hom duidelik uit watter voorstelle en aanbevelings in die paneel se verslag ondersteun word en watter verwerp word. Dit poog ook om duidelikheid te bied oor belangrike gapings in die paneel se verslag, asook op die voorstelle wat nie daarin ingesluit is nie, maar wat oorweging regverdig.

Kriek het daarop gewys dat “vyf kern segmente” van die minderheidsverslag by die paneel ingedien is, maar dat dit slegs “oppervlakkig” hanteer is.

“Die president behoort alternatiewe te oorweeg en te besluit wat Suid-Afrika benodig. Die minderheidsverslag is progressief van aard en fokus op planne wat prakties sinvol is vir die landbou.”

Werkbare voorstelle oor die finansiering van grondhervorming word in die verslag vervat. Dit fokus ook op grondhervorming in landelike gebiede, hoe om grondhervorming te versnel sowel as die vestigting van boere.

Die minderheidsverslag bevat volgens Agri SA “haalbare oplossings” om die nasie as een soewereine demokratiese staat te bou wat op die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid gegrond is.

Ramaphosa is die afgelope Maandag deur Agri SA van sy voorneme ingelig om ’n minderheidsverslag in te dien en die redes daarvoor. Die verslag is aan die paneelvoorsitter gestuur.

Ander lede van die paneel onder leiding van dr. Vuyo Mahlati, ’n kommissaris van die Nasionale Beplanningskomitee en leier van die African Farmers Association of South Africa (Afasa), sluit in adv. Tembeka Ngcukaitobi van die Johannesburgse balieraad, Bulelwa Mabasa, ’n prokureur, Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, prof. Mohammed Karaan van die Universiteit Stellenbosch, prof. Ruth Hall van die Universiteit van Wes-Kaapland, dr. Thandi Ngcobo van die Universiteit van KwaZulu-Natal, Kriek, Thato Moagi, wat in die Wes-Kaap en Limpopo boer, en Nick Serfontein, ’n megaboer van die Vrystaat.

Die presidensie het vroeër aangedui dat die mandaat van die paneel is om ’n verenigde perspektief oor beleid te verskaf ten opsigte van restitusie, herverdeling en die hervorming van eiendomsreg. Die paneel sal die regering adviseer oor hoe om sy grondwetlike mandaat vir grondhervorming en sy onteieningsmagte te gebruik in belang van grondhervorming.

Nóg Kriek, nóg Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, kon Vrydag vir verdere kommentaar bereik word.

Meer oor:  Dan Kriek  |  Agri Sa  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.