Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Agterstand met DNS-toetse: Cyril wil private sektor betrek

Pres. Cyril Ramaphosa wil die private sektor betrek om die polisie te help om die reuseagterstand met DNS-toetse in te haal.

Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, het dit Woensdag aan die portefeuljekomitee oor polisie gesê.

Cassel Mathale
Cassel Mathale, adjunkminister van polisie. Foto: GCIS

Dit kom nadat LP’s weer hul frustrasie uitgespreek het met die onvermoë van genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en Bheki Cele, minister van polisie, om die agterstand uit te wis. Cele was afwesig.

Vroeër is berig daar is ’n agterstand van 172 000 sake landwyd in die polisie se forensiese afdeling, terwyl nuwe DNS-monsters weekliks instroom. Dit het ’n enorme effek op die afhandeling van hofsake in ernstige misdade soos moord en verkragting.

Die komitee het egter gehoor dat die staatsinligtingstegnologie-agentskap Sita ’n nuwe digitale DNS-stelsel ontwerp het wat vanaf 6 April vanjaar aanlyn sal wees om die agterstand te probeer inhaal.

Dít kom na ’n uitgerekte stryd met die maatskappy Forensic Data Analysts (FDA). Dié weier sedert verlede jaar weens ’n geldgeskil en talle hofsake dat die polisie sy tegnologie en inligtingstegnologiestelsels vir DNS- en vuurwapentoetse gebruik.

Mathale het verder gesê die presidensie is met die private sektor in gesprek oor die bydrae wat dit kan lewer om die DNS-agterstand te help uitwis. Volgens hom sal alle belanghebbendes in die strafregstelsel nou betrokke wees by enige vorm van ondersteuning wat die private sektor bied.

Hy het erken dat die probleem nie oornag opgelos sal word nie, maar gesê dat bogenoemde pogings daartoe sal bydra dat dit nie soos nou meer ’n skande vir die polisie sal wees nie.

Mathale het bygevoeg dat vordering in die forensiese afdeling gemaak word en dat kontrakteurs binnekort aangestel sal word om die agterstand vinniger uit te wis.

Dit kom nadat Tina Joemat-Pettersson, komiteevoorsitter, en ander LP’s Woensdag hul kommer uitgespreek het oor “onakkurate en verkeerde” inligting wat die polisie glo aan die komitee oor die DNS-situasie verskaf.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê misdadigers het weens die agterstand “ ’n fees in Suid-Afrika” en dit moet stopgesit word.

Volgens Okkie Terblanche, DA-LP, was Cele “gerieflik” Woensdag afwesig, maar dat hy en Sitole pa moet staan vir die “gemors wat die hele strafregstelsel verlam”.

Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-LP, het gesê die probleem is dat hy nie weet of hy die polisie se inligting steeds kan vertrou nie.

Volgens die EFF-LP Henry Shembeni “doen iemand nie sy werk nie” omdat ’n gebrek aan persoonlike beskermende toerusting en chemikalieë as hoofrede vir die agterstand gegee word.

Luvuyo Keyise, Sita se uitvoerende hoof, het bevestig dat hul DNS-stelsel op 6 April aanlyn gaan. Sitole het dit beaam én dat die polisie intussen alle bande met die FDA verbreek het.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, het egter sy kommer hieroor uitgespreek omdat die polisie volgens hom nog nie aan die FDA geskryf het om sy dienste te beëindig nie. Volgens hom was daar ’n kontrak met die FDA en hy voorsien groot hofsake daaroor. Dit sal op vrugtelose uitgawes  neerkom as nog geld aan die FDA betaal moet word.

Hy het bygevoeg dat hy met die polisie en Sita daaroor sal vergader om oplossings te probeer vind.

Joemat-Pettersson het dié stap verwelkom en gesê dat dié aangeleentheid al lank sloer en dat dit “ ’n rekord gaan wees as ons dit oplos”.

Volgens haar moet die DNS-krisis in die belang van vrede en veiligheid in Suid-Afrika opgelos word.

Meer oor:  Cyril Rampahosa  |  Dns-Toetse  |  Agterstand  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.