Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Agterstand met DNS-toetse wek kommer – LUR

Die agterstand in DNS-toetse wek kommer en het veral ’n uitwerking op die afhandeling van verkragtingsake, het Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, gewaarsku.

Fritz het gesê sy departement het al talle klagtes ontvang oor sake wat vertraag of verwyder is van die hofrol weens die agterstand wat die polisie se forensiese laboratoriumdienste ondervind.

Hy het Maandag in ’n verklaring daarop gewys dat die premier reeds in November 2019 aan die minister van polisie geskryf het oor klagtes dat die laboratoriums weens ’n tekort aan reagense nie DNS kon toets nie.

’n DNS-monster word in ’n laboratorium getoets. Foto ter illustrasie. Foto: Sean Gallup/Getty Images

Die nasionale raad vir forensiese oorsig en etiek (DNS-raad) het in sy 2018-’19-jaarverslag uitgewys dat hy vertragings in die toekenning van kontrakte vir die verkryging van voorraad om monsters te versamel en die instandhouding van toerusting teëgekom het.

Fritz het gesê dit het bygedra tot ’n daling in die aantal sake wat geregistreer en afgehandel word.

“Die agterstand lei daartoe dat belangrike leidrade in sake van verkragting en ander seksuele misdade gemis word.”

Die provinsiale regering implementeer tans sy veiligheidsplan as deel van die herstelplan vir die Wes-Kaap, met die oog daarop om die moordsyfer te halveer. Fritz het benadruk dat dit noodsaaklik is dat die strafregstelsel volstoom werk.

“Ons was te lank vuisvoos weens geslagsgeweld en moorde op vroue en dit is hoog tyd dat die polisie optree.”

Die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid het in Februarie verlede jaar sy bevindings bekend gemaak nadat amptenare polisiekantore besoek het om die hantering van DNS en beskikbaarheid van toerusting na te gaan.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Peter Abrahams/SON

Onder die 23 polisiekantore is “aansienlike gebreke” gevind wat onder meer samewerking met die forensiese laboratoriums en die beskikbaarheid van DNS-toetsstelle betref.

Fritz het toe gesê die tekort aan toetsstelle en toerusting om monsters in te samel het veroorsaak dat die DNS-raad opgehou het om monsters van veroordeelde misdadigers te neem.

Van die polisiekantore wat in 2019 besoek is, het slegs een dit opgeteken wanneer sake teruggetrek of geskrap word en dit by die forensiese laboratoriumdienste aangemeld, terwyl sommige tekorte aan toerusting vir die ondersoek na verkragtings en seksmisdade aangemeld het.

Tydens die besoeke is bevind dat slegs 43,5% van die polisiekantore voorraad het om monsters te neem en 13% het minder as vyf toesstelle vir die neem van DNS-monsters gehad.

Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Adrian de Kock

Bheki Cele, minister van polisie, het in November verlede jaar aan die parlement gesê die polisie het ’n regrukplan met ’n bykomende begroting van R250 miljoen om sy forensiese eenheid te red.

Dit nadat die portefeuljekomitee oor die polisie gehoor het dat die forensiese afdeling weens ’n gebrek aan geld en onvoldoende toerusting om toetse uit te voer op die rand van ineenstorting is.

Die komitee het verlede jaar gehoor dat dit reeds veroorsaak het dat meer as 10 000 sake van seksuele oortredings feitlik stilstaan.

Met die regrukplan word beoog om die agterstand van meer as 14 000 DNS-toetse binne 14 weke uit te wis, terwyl nuwe DNS-monsters ook verwerk word.

Meer oor:  Albert Fritz  |  Wes-Kaap  |  Dns  |  Dns-Toetse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.