Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Aksieplan kom oor lang toue by Sassa – minister

’n Konkrete aksieplan om die lang toue by kantore van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) landwyd, asook ander kwessies in die sektor op te los, sal binne twee weke aan LP’s voorgelê word.

Dit is die onderneming wat Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, haar departement en Sassa Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor maatskaplike sekerheid gegee het.

ANC- en opposisie-LP’s het hul misnoeë uitgespreek oor die “onmenslike behandeling” Vrydag toe die polisie begunstigdes van maatskaplike toelaes – wat gestremdes en kinders ingesluit het – by die Sassa-kantoor in Bellville, Kaapstad, met ’n waterkanon natgespuit het glo om hulle te dwing om ’n gesonde afstand te handhaaf.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling. Foto: GCIS

Zulu het gesê die Menseregtekommissie (MRK), die Stad Kaapstad en die polisie ondersoek die voorval.

Volgens haar praat sy en Bheki Cele, minister van polisie, ook oor die voorval en sy sal binne twee weke daaroor aan die komitee verslag doen.

Sy het bygevoeg dat sy teenwoordig was tydens die voorval en het glo probeer ingryp toe sy besef die begunstigdes word natgespuit.

“Ek wat Lindiwe Zulu is, sou nooit die polisie gevra het om kwesbare mense in rolstoele en kinders nat te spuit nie.”

Mondli Gungubele, komiteevoorsitter, het gesê Sassa benodig ’n dringende aksieplan om onder meer die lang toue vir maatskaplike toelaes op te los.

“Die behoorlike behandeling en bestuur van Sassa-begunstigdes en die verbetering van hul ervaring in daardie lang rye moet die fokus daarvan wees. Dit sal die spanning verlig. Kom ons gee mense in 2021 ’n nuwe ervaring.”

Hy wou by Zulu weet of hulle binne twee weke met so ’n plan vorendag kan kom.

Sy het belowe dat hulle binne twee weke met die plan en tydsraamwerke vorendag sal kom.

Intussen het Busisiwe Memela, uitvoerende hoof van Sassa, Woensdag al die begunstigdes wat by die Bellville-voorval betrokke was om verskoning gevra.

Volgens Memela was 2020 die “uitdagendste” jaar sedert die aanvang van demokrasie in Suid-Afrika weens Covid-19 en die ekonomiese krisis.

“Die probleme is vererger deur die ekonomiese ontwrigting wat vinnig in ’n armoedekrisis verander het omdat huishoudings nie genoeg hulpbronne het om in hul basiese behoeftes te voorsien nie.”

Volgens Memela was Sassa ’n kernrolspeler om noodsaaklike sosio-ekonomiese verligtingsmaatreëls in werking te stel.

So het Sassa volgens haar van Mei tot Oktober verlede jaar sowat R30 miljard bestee om die bestaande maatskaplike toelaes vir ses maande te verhoog.

’n Bykomende R15 miljard is ook op die Covid-19-toelae van R350 vir meer as 6 miljoen werkloses bestee.

Dit terwyl die geldigheid van die tydelike ongeskiktheidstoelae wat in Januarie verlede jaar verval het, weens die pandemie tot 31 Desember verleng is.

Memela het bygevoeg dat Sassa ook steeds bystand verleen in gebiede wat deur brande en vloede geraak word.

Dianne Dunkerley, Sassa se hoof van toelaes, het aan die komitee gesê die tydelike ongeskiktheidstoelae is aan sowat 210 000 begunstigdes uitbetaal.

Dit is ’n toelae vir ses tot 12 maande aan mense wat weens ongeskiktheid of ’n mediese toestand nie kan werk nie.

Volgens haar sal dit Sassa sowat R1,2 miljard kos om hierdie toelae vir 2021 te verleng. Sassa het egter net R411 miljoen in sy jaarlikse begroting daarvoor.

Meer oor:  Sassa  |  Menseregtekommissie  |  Lindiwe Zulu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.