Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Al meer wil uit SA emigreer

Al meer Suid-Afrikaners gaan soek groener weivelde in die buiteland en daar is toenemende belangstelling om na Amerika te emigreer.

Verskeie emigrasieagentskappe, wat spesifiek op Amerika fokus, sê daar is ’n skerp toename in Suid-Afrikaners wat belangstel om na dié land te trek.

Dianne Stewart, besturende direkteur van Pathway USA, sê daar was die afgelope 18 maande by dié maatskappy ’n toename van 400% in belangstellendes wat dit oorweeg om in Amerika te gaan bly.

“In Johannesburg het gewoonlik 20 tot 30 mense ons seminare bygewoon. Nou is dit tussen 120 en 150 mense.” Stewart sê daar was ook ’n skerp toename in mense wat deur middel van ’n beleggingsvisum na dié land trek. Die EB-5-beleggingsvisum vereis dat mense $500 000 belê om permanente verblyfreg in Amerika te kry.

“Waar daar gewoonlik net ’n paar aansoeke vir beleggingsvisums in ’n jaar was, het dit nou gestyg tot sowat 50 beleggers per jaar.”

Stuart Ferguson, uitvoerende hoof van American Dream, sê die aantal navrae wat Suid-Afrikaners daagliks tot dié maatskappy rig, is skrikwekkend.

“Daar is ’n dramatiese toename in mense wat dit oorweeg om te emigreer. Ek sou sê daar was ’n toename van 200% in die laaste 12 maande.”

Hy sê die meeste van die navrae kom van gesinne uit die Wes-Kaap.

Daar is ’n dramatiese toename in mense wat dit oorweeg om te emigreer. Ek sou sê daar was ’n toename van 200% in die laaste 12 maande.

Ferguson meen een van die redes waarom Suid-Afrikaners na Amerika wil emigreer is omdat daar nie spesifieke vereistes daaraan verbonde is nie.

“As jou $500 000 op ’n eerlike manier bekom is en jy geen misdaadgeskiedenis het nie is jy byna gewaarborg om ’n groenkaart te kry. Lande soos Australië en Nieu-Seeland het byvoorbeeld spesifieke mediese- en ouderdomsvereistes waaraan voldoen moet word.”

Volgens Ferguson is die lewenskoste in Amerika ook aansienlik laer as in ’n land soos Australië.

“In Amerika kan jy ’n huis koop vir sowat R4 miljoen terwyl ’n huis in Australië jou sowat R20 miljoen uit die sak sal jaag.”

Hy waarsku egter dat dit onder pres. Donald Trump se presidentskap al moeiliker vir Suid-Afrikaners gaan raak om na Amerika te emigreer.

“Die EB-5-beleggingsvisum se regulasies gaan in Desember hersien word en ons verwag dat die beleggingsbedrag tot $1 miljoen verhoog kan word.”

Suid-Afrikaners kyk egter nie slegs na Amerika as ’n nuwe tuiste nie.

Jonty Leon, ’n regspesialis verbonde aan Financial Emigration, sê die aantal Suid-Afrikaners wat emigreer, styg maandeliks.

“Ons grootste mark is die Verenigde Arabiese Emirate (VAE). Baie Suid-Afrikaners trek na Dubai of Katar omdat salarisse hoog en belasting laag in dié lande is. Dit is ’n goeie begin om uit Suid-Afrika te kom.”

Ons grootste mark is die Verenigde Arabiese Emirate (VAE). Baie Suid-Afrikaners trek na Dubai of Katar omdat salarisse hoog en belasting laag in dié lande is. Dit is ’n goeie begin om uit Suid-Afrika te kom.

Hy sê alhoewel Amerika nie hul grootste mark is nie, is daar tog ’n toename in belangstelling onder hul kliënte om na dié land te emigreer.

Leon sê die uittog van Suid-Afrikaners na ander lande is ’n groot verlies vir die land.

“Ons verloor hoogs opgeleide mense. Ons moet dan mense invoer met vaardighede van ander lande af. Suid-Afrika betaal nie genoeg om mense hier te hou nie.”

Pew, ’n Amerikaanse navorsingsentrum, het in Maart vanjaar ’n verslag bekend gestel oor die aantal mense suid van die Sahara wat in die buiteland gaan woon het.

Luidens die verslag het sowat 100 000 mense wat in Suid-Afrika gebore is in 2017 in Amerika gewoon. Sowat 51% van Suid-Afrikaners het gesê hulle sou in ’n ander land gaan woon het as hulle die geleentheid gehad het, en 22% het gesê hulle beplan om in die volgende vyf jaar na ’n ander land te trek.

FNB se kwartaallikse eiendomsbarometer toon dat die aantal huiseienaars wat emigrasie as rede verskaf vir die verkoop van hul huis van 5,5% in die eerste kwartaal van 2016 tot 7,8% in die tweede kwartaal van 2018 gestyg het.

Ons verloor hoogs opgeleide mense. Ons moet dan mense invoer met vaardighede van ander lande af. Suid-Afrika betaal nie genoeg om mense hier te hou nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.