Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Alle moorde is ’n topprioriteit vir NVG’
Adv. Rodney de Kock Foto: Son

Alle moorde, insluitende dié op plaasboere en hoëprofiel polisielede soos lt.kol. Charl Kinnear, is almal topprioriteite vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê adv. Rodney de Kock, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolgings.

Dit is die reaksie van De Kock toe hy en adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, en die res van die NVG-topbestuur voor die parlement verskyn het.

Batohi het egter die chaos wat Dinsdag in Senekal in die Vrystaat tydens ’n hofverskyning van twee vermeende plaasmoordenaars uitgebreek het ten sterkste veroordeel.

Plaasmoorde 'n bron van kommer

Volgens De Kock is plaasmoorde ’n baie ernstige bron van kommer vir die NVG.

“Alle moorde is vir ons ’n prioriteit. Ook plaasmoorde. Die polisie moet dit as ’n prioriteit ondersoek,” het De Kock gesê nadat adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, wou weet wat die NVG anders gaan doen om vermeende plaasmoordenaars meer doeltreffend te vervolg.

De Kock het gesê dat die NVG bekommerd is oor die vlakke van ernstige geweldsmisdade in Suid-Afrika.

“Ons moet dit gesamentlik in alle gemeenskappe takel. Ons wil die versekering gee dat ons alle moorde as baie ernstig beskou.”

Moorde op wetstoepassers

Oor die moorde op wetstoepassers het De Kock gesê dat dit ook as baie ernstig deur die NVG opgeneem word.

“Ons werk dikwels nou saam met die ondersoekers in hierdie sake en veral in die Kinnear-ondersoek.

“Ek het Dinsdag ’n omvattende verslag van die direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaapse ontvang oor bewerings dat die NVG vroeër nie ingestem het tot die vervolging van klagte wat Kinnear ingedien het nie. Dié kantoor het ’n gedetailleerde verslag Dinsdag met verduidelikings aan my in daardie verband gestuur wat ons nou bestudeer.”

Batohi het oor die moorde op polisielede en die skade wat Dinsdag by die landdroshof in Senekal aangerig is gesê dat daar nou “ ’n stand van wetteloosheid is” wat in Suid-Afrika heers.

'Senekal-wetteloosheid' veroordeel

“En dit is ’n reuseprobleem, nie net in die NVG nie, maar vir alle agentskappe in die hele strafregstelsel en die regering. Ons moet werklik kyk wat ons in ons onderskeie sektore kan doen om dit te stop.

“Dit is kommerwekkend dat wetstoepassers vermoor word. Ek hoop daar bly genoeg van ons oor wat sal voortgaan om ons werk te kan doen, ten spyte van wat gebeur.

“Die wetteloosheid Dinsdag by die hof in Senekal moet ten sterkste veroordeel word. Die oppergesag van die reg moet seëvier in die land. Dit maak nie saak na wie die bewyse lei nie. Ons moet dit deeglik ondersoek en vervolg,” het Batohi gesê.

Bulelani Magwanishe, komiteevoorsitter, het op sy beurt gesê dat mense wat Dinsdag in Senekal by die landdroshof ingebars het, “ ’n bedreiging vir die oppergesag van die reg is. Dit kan nooit aangemoedig word nie omdat dit ’n daad van intimidasie is. Sulke intimidasie teen aanklaers, landdroste en ander regsamptenare sal nooit aanvaar of in Suid-Afrika geduld word nie. Dit moet ten sterkste veroordeel word,” het Magwanishe gesê.

Die wetteloosheid Dinsdag by die hof in Senekal moet ten sterkste veroordeel word. Die oppergesag van die reg moet seëvier in die land. Dit maak nie saak na wie die bewyse lei nie. Ons moet dit deeglik ondersoek en vervolg.

Meer oor:  Nvg  |  Shamila Batohi  |  Rodney De Kock  |  Polisiemoorde  |  Moorde  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.