Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Almal moet inspring en NGV stuit - DA
Siviwe Gwarube
Siviwe Gwarube

Alle Suid-Afrikaners moet hul stemme laat hoor om te keer dat die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) die reeds gebrekkige gesondheidstelsel op dieselfde vernietigende pad as alle ander staatsentiteite plaas, meen die DA.  

Die party het om dié rede Sondag ’n beroep op die parlement gedoen om sy openbare deelnameproses vir die NGV-wetsontwerp oor die volgende paar weke landwyd en na elke provinsie uit te brei.

Dié wetsontwerp is tans voor die parlement vir oorweging en waar openbare insae ook in ag geneem moet word voordat dit deurgevoer word.

Siviwe Gwarube, DA-LP en woordvoerder oor gesondheid, het Sondag gesê die wetsontwerp, “wat tot die nasionalisering en oorsentralisering van die gesondheidstelsel sal lei”, het verreikende gevolge vir elke landsburger.

“Dit is waarom dit noodsaaklik is dat elke entiteit, belangegroep, burgerlike organisasies en gewone landsburger as deel van die openbare deelname proses insette lewer in die wetgewende proses.”

Volgens Gwarube is die NGV-wetsontwerp bevlek met ernstige probleme wat opgelos en skuiwergate wat toegestop moet word.

Sy het gesê van die probleme is dat daar nog geen volhoubare finansieringsmodel vir die implementering van die wetsontwerp is nie, terwyl dit ook die minister enorme magte gee om die NGV-raad aan te stel wat die multimiljardrand NGV-fonds sal bestuur.

Verder is provinsies se rolle in die NGV nog onduidelik, terwyl dit verdere belastingdruk op Suid-Afrikaners gaan plaas.

Gwarube het bygevoeg dat die rol van mediese skemas in die NGV ook nog omskryf moet word, terwyl die NGV ook die staatsdiens met sy streekvlak-entiteite sal vergroot en verder burokratiese verstoppings in die stelsel sal veroorsaak.

“Uiteindelik is dit die mense van hierdie land wat daaronder sal ly en nie gesondheidsdienste ontvang wat hulle desperaat nodig het nie.

“Die bestaande stelsel moet hervorm word om die onvolhoubare vlakke van ongelykheid in die land te oorbrug. Daar is egter volhoubare maniere om dit te kan doen wat ’n fiskaal verantwoordelike benadering vereis.”

Gwarube het om dié rede ’n beroep namens die DA op alle Suid-Afrikaners gedoen om hul stemme in die parlementêre openbare deelnameproses te laat hoor.

“Die DA sal nie van stryk gebring word in ons stryd teen hierdie vernietigende wetsontwerp nie. Suid-Afrikaners moet by die stryd aansluit en die geleentheid gegun word om met die parlement in al nege provinsies oor dié wetgewing te kommunikeer.

“Die toekoms van die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel en inderdaad die ekonomie maak staat op ons vermoë om die NGV-wetsontwerp in sy spore te stuit,” het Gwarube gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.