Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Almal wag vir entstowwe, nie net SA, sê Cyril

“Nie net Suid-Afrika wag vir die entstof nie; die hele wêreld wag daarvoor.”

Só het pres. Cyril Ramaphosa Vrydag in ’n onderhoud met die radiostasie 702 gesê nadat die regering die afgelope ruk onder kritiek deurgeloop het omdat hy sloer om ooreenkomste te beklink om entstowwe teen die Covid-19-virussiekte in die hande te kry.

Hy het ook uitgebrei oor ander kwessies soos korrupsie, die moontlike skorsing van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, en oor of ’n nuwe ekonomiese stimuluspakket verwag kan word.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Argief

Entstowwe

Ramaphosa het toegegee van die ander lande was gelukkig genoeg om voorafbestellings vir entstowwe te kon plaas, maar volgens Ramaphosa het dié lande verlede jaar ’n risiko geloop deur miljard rand vooraf te betaal, hoewel dit nie duidelik was of die entstowwe sou werk en of hulle dit sou ontvang nie.

Volgens Ramaphosa sal die nasionale tesourie seker maak dat geld beskikbaar is vir die aankope van entstowwe om mense se lewens te red.

Volgens Ramaphosa het hulle van die noordelike lande se voorbeeld gevolg en is hulle betrokke met bilaterale onderhandeling met ontwikkelaars om spesifiek die entstowwe van AstraZeneca, Pfizer, Johnson & Johnson en Moderna te bekom.

Dié bilaterale onderhandelings sal slegs een van die kanale wees waarmee die regering poog om 20 miljoen dosisse entstof te bekom, het Ramaphosa verduidelik. Die res sal aangeskaf word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Covax-fasiliteit, asook deur die Afrika-Unie (AU).

Die 270 miljoen dosisse wat voorlopig deur die Afrika-Unie (AU) bekom is, sal volgens Ramaphosa aan Afrika-lande toegedeel word volgens ’n spesifieke formule.

Suid-Afrika verwag sy eerste besending entstowwe van die Serum-instituut in Indië wat deur die AU bekom is in Januarie en Februarie en dit sal aan gesondheidsorgwerkers toegedien word.

Korrupsie

Volgens Ramaphosa sal die aankope van entstof nie dieselfde hanteer word as die proses verlede jaar toe grootskaalse korrupsie plaasgevind het met die aankoop van beskermende toerusting nie.

Volgens hom was die regering toe onder die indruk dat die maatreëls van die tesourie en die ouditeur-generaal genoeg sou wees.

“Maar wanneer jy met slinkse mense te doen het, sal hulle altyd skuiwergate vind om die stelsel te kul. Die ander swakpunt was uiteraard dat die aankope op ’n noodgrondslag gedoen is, en mense het bloot die reëlboek weggegooi toe hulle aankope gedoen het.”

Johnson & Johnson se kantore in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Stimuluspakket

Op ’n vraag oor hoekom die regering nie weer ’n ekonomiese stimuluspakket instel vir die huidige vlak-3-inerpking soos wat verlede jaar met die inperking die geval was nie, het Ramaphosa gesê die eenvoudige waarheid is dat die land nie geld het nie.

“Ons is beperk uit die oogpunt van befondsing. Die verligtingsmaatreëls van verlede jaar was 10% van die BBP, wat baie geld is vir ’n middelinkomsteland soos Suid-Afrika. Ons wil hê die huidige (vlak-3) maatreëls moet op korttermyn toegepas word om doelwitte te bereik, en dit is nie veronderstel om medium- tot langtermyn- maatreëls te wees nie.”

Ramaphosa gee toe dat die ANC-regering ’n “deel” van die skuld moet dra vir die toestand van die ekonomie, hoewel dit nie nou die tyd is om die vinger te wys nie.

“Ons moet die pandemie hanteer. Ons is in ’n gat. Ek neem verantwoordelikheid, maar ons wil ’n leer bou om uit hierdie gat te kom.”

Volgens Ramaphosa wil hy hê die ANC se integriteitskomitee moet sonder vrees, partydigheid of vooroordeel as ’n onafhanklike entiteit in die ANC bedryf word.

Ace Magashule

Die kommissie het onlangs bevind dat Magashule opsy moet staan nadat hy strafregtelik van korrupsie, bedrog en geldwassery aangekla is.

Volgens Ramaphosa is die integriteitskommissie ’n “nuwe fenomeen” in die ANC en word daar gepoog om dit te versterk.

Volgens hom handel die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC nog met die kwessie oor of Magashule opsy moet staan.

“Ons kyk na al die fyner aspekte van die kwessie, maar die besluit van die integriteitskommissie bly staan. Ek weet daar is mense wat die kwessie wil verby kry. Ons slaap nie by die werk nie.”

Op ’n vraag of Ramaphosa, wat ook die president van die ANC is, in sy hoedanigheid as president van die land wil hê dat Magashule opsy moet staan, het Ramaphosa gesê oor die spesifieke kwessie kan hy nie die hoedanighede van mekaar skei nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Entstof  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Koronavirus  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.