Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Almal wat kan, moet betaal – Mabuza

Elke landsburger wat kan, maar weier om hul munisipale rekeninge te betaal, dra by tot die vernietiging van die land, sê adj.pres. David Mabuza.

Dit was Mabuza se antwoord Woensdagmiddag in die Nasionale Raad van Provinsies in reaksie op ’n vraag van Armand Cloete, VF Plus-LP, oor wat die regering doen om munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is, te verbeter.

Cloete wou in ’n opvolgvraag ook weet wat die regering doen om te verseker dat inwoners wat hul munisipale rekeninge kan betaal, maar dit nie doen, dit wel betaal.

Mabuza het gesê daar moet in gedagte gehou word dat munisipaliteite moet betaal om dienste soos water aan inwoners te kan lewer.

“As ’n waterpyp iewers gebars het, moet die munisipaliteit iemand stuur om dit te herstel. Daardie persoon moet betaal word. Daarom is dit die regte ding om vir munisipale dienste te betaal en is dit belangrik dat ’n munisipaliteit en sy raadslede weet wie in hul wyke woon. Hulle moet elke huishouding daar ken.

“Dit is sodat hulle kan weet watter huishoudings hulpbehoewend is en nie vir dienste kan betaal nie. Waar daar wel iemand in ’n huishouding werk wat vir dienste kan betaal, moet dit gedoen word.”

Adj.pres. David Mabuza. Foto: CITY PRESS

Mabuza meen dinge gaan verkeerd omdat raadslede nie hul inwoners ken nie.

“Die punt is dat inwoners vir elke diens moet betaal as hulle dit kan bekostig. As iemand dit nie kan bekostig nie, moet dit eers vasgestel word.

“Ons het gesê dat ons sekere dienste gratis aan pensionarisse sal lewer. Maar ons kan nie aan almal gratis dienste gee nie. Dit is verkeerd en plaas ’n las op munisipaliteite.

“Ons vernietig ons land op dié manier. Ons moet ’n bydrae maak waar ons dienste ontvang. As jy vir dienste betaal, onderhou jy ’n werkgeleentheid in ’n munisipaliteit.

“Jy verseker ook dat ’n munisipaliteit kan groei omdat die munisipaliteit met jou bydrae nuwe paaie, nedersettings en sakesentrums kan bou.”

Volgens Mabuza was hy wel tydens apartheid ook deel van die vryheidsvegters wat destyds geweier het om hul munisipale rekeninge te betaal as deel van boikotte.

“Ons het egter nou ons vryheid bereik en moet betaal. Ons kan nie daarheen teruggaan nie. Dit is tyd om die land te bou en ons almal moet verantwoordelik genoeg wees en ons land liefhê en die regte ding doen.”

Mabuza het bygevoeg dat pres. Cyril Ramaphosa onlangs ’n interministeriële komitee oor dienslewering op distriksvlak aangestel het.

“Dit is primêr om dienslewering en ondersteuning aan sukkelende munisipaliteite, ook die wat onder administrasie geplaas en waar dienslewering ineengestort het, te bespoedig. Dit moet ook bottelnekke uit die weg ruim en probleme opklaar wat dienslewering ondermyn.”

Hy het bygevoeg dat hierdie ingryping gekom het nadat die regering erken het dat munisipaliteite ernstige probleme ondervind wat tot gewelddadige betogings en die vernietiging van openbare en private eiendom lei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.