Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Amnestie: Duisende vuurwapens reeds ingehandig

Bykans 1 500 wapens en meer as 14 000 patrone is die afgelope maand by die polisie ingehandig as deel van ’n sesmaande-tydperk vir amnestie vir diegene wat vuurwapens en ammunisie onwettig in hul besit het.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Dinsdagmiddag in ’n verklaring gesê daar is die afgelope maand 1 248 handwapens, 75 haelgewere en 142 jaggewere by die polisie ingedien.

Daar is ook 14 861 patrone landwyd aan die polisie oorhandig.

Ballistiese toetse sal op al die vuurwapens gedoen word voordat dit vernietig sal word.

Naidoo sê na verwagting sal die meerderheid van die vuurwapens vernietig word, maar daar is aansoeke vir die hernuwing van vuurwapenlisensies wat onwettig verklaar is volgens die Wet op die Beheer van Vuurwapens.

Daar is tot dusver aansoeke ingedien om 247 handwapens, wat rewolwers en pistole insluit, agt haelgewere en nege jaggewere se lisensies te hernu.

Die amnestietydperk vir vuurwapens het op 1 Desember begin en sal op 31 Mei 2020 eindig.

Naidoo sê mense wat onwettig in besit van vuurwapens en ammunisie is, word aangemoedig om van die amnestietydperk gebruik te maak en om die vuurwapens en ammunisie so gou moontlik by die polisie in te handig om sodoende nie vervolg te word nie.

“Enigiemand wat ’n vuurwapen inhandig wat in ’n misdryf gebruik is, sal egter vervolg word,” sê Naidoo.

Volgens hom het die polisie behoorlike maatreëls in plek om die wapens wat ingehandig word veilig te bewaar.

Daar is nege gesentraliseerde bergingseenhede (een in elke provinsie) landwyd waar slegs polisielede, wat streng gekeur is, toegelaat word om met die vuurwapens te werk.

’n Taakspan is aangestel om ondersoek te doen na die vuurwapens wat moontlik met enige misdrywe verbind kan word.

Sodra die amnestietydperk einde Mei 2020 eindig, sal vuurwapens en ammunisie wat nie met enige misdryf verbind kan word nie, vernietig word. In November het die polisie meer as 20 000 ongelisensieerde vuurwapens gesmelt in die vernietigingsproses.

Naidoo sê die polisie moedig mense aan om ongelisensieerde vuurwapens of vuurwapens wat in onbruik is by polisiekantore in te handig.

Meer inligting kan by die sentrale vuurwapenregister se oproepsentrum by 012 353 6111 gekry word.

Meer oor:  Amnestie  |  Vuurwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.