Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Anargie: Waar was die staat?

Terwyl verslae inwoners nog die enorme koste van die afgelope week se plundery en brandstigting probeer bepaal, is staatsagentskappe reeds aan mekaar se keel oor wie verantwoordelik gehou moet word vir die anargie wat uitgebars het.

Gerhard en Tinka Pelser in hul verwoeste winkel in
Gerhard en Tinka Pelser in hul verwoeste winkel in Durban se middestad. Foto: Deon Raath

Waarnemers beskryf die afgelope week se gebeure – toe dele van Gauteng en KwaZulu-Natal dae lank onregeerbaar was – as die grootste druk waaronder die staat gekom het sedert die onluste wat gevolg het op die moord op Chris Hani in 1993.

Dr. Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit (NWU) sê ’n mens kan beslis die oproer beskryf as ’n “tydelike oorwinning” van die oproermakers oor die veiligheidsmagte.

“Die polisie was nêrens. Hulle was net useless. Die intelligensiedienste bestaan nie. Die weermag kon steeds ’n magsteenwoordigheid handhaaf, maar hulle is nooit werklik uitgedaag nie. As hulle uitgedaag is, dink ek sou hulle ook blootgestel gewees het. Hulle is nie opgelei om so iets te hanteer nie.

“Intussen gaan daar niks in die ANC aan nie en (pres. Cyril) Ramaphosa besef hy sit met ’n party wat niks kan bestuur nie.”

Die omvang van die skade en ontwrigting in die land se twee digste bevolkte provinsies is duiselingwekkend. Onder die duisende teikens wat beskadig, geplunder of verwoes is, tel:

  • 90 apteke;
  • 1 400 kitsbanke;
  • 300 banke en poskantore;
  • ’n Medisynefabriek van Cipla, een van die grootste vervaardigers van generiese medisyne in die land;
  • 12 Mr Price-winkels;
  • 99 Famous Brands-winkels, waaronder Steers- en Wimpy-restaurante;
  • 32 Cashbuild-winkels;
  • 190 klerewinkels van die Foschini-groep;
  • 489 Pepkor-winkels, waaronder Pep en Ackermans;
  • 33 Massmart-winkels, waaronder tien Game-, agt Builders Warehouse- en twee Makro-takke.

Plunderaars het selfs ’n bloedbank geteiken. Terwyl Ramaphosa besig was om op nasionale televisie vir kalmte te vra, was plunderaars besig om die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) se sentrum in die Queensmead Mall in Durban se rekenaars en proefbuise weg te dra.

‘Suid-Afrika moet weet ons het baie gekeer.’

Teen die einde van die week het ’n humanitêre krisis gedreig omdat die ketting van voedselverspreiding tussen KwaZulu-Natal en Gauteng lamgelê is weens die sluiting van die N3 en die grootskaalse verwoesting van kruidenierswinkels. Basiese kosvoorraad, brandstof en noodsaaklike mediese voorrade kon net tussen die provinsies beweeg op agterpaaie en onder gewapende beskerming. Teen Vrydag, nadat die N3 vir die eerste keer in sewe dae oopgestel is, het goedere weer vryelik begin vloei, hoewel daar gewaarsku word dat dit tot tien dae sal neem voordat die verspreidingskettings na normaal terugkeer.

AgriSA het Saterdagaand in ’n brief aan Ramaphosa vir dringende bystand gevra om plase in KZN te help beveilig wat deur oproeriges aangeval word, terwyl “politici boere en burgerlikes opdrag gee om hul padblokkades af te breek, en boere bitter min bystand van die polisie kry”.

Jorge Farinha, eienaar van die Riverside Spar in Durban, het Saterdag gesê hy kan steeds nie voorbly om produkte soos koekmeel, mieliemeel, rys en pasta op die rakke te kry nie. Hy laat klante steeds nie toe om meer as 15 items in hul mandjie te pak nie.

Talle akademici en amptenare is oortuig dat die afgelope week se oproer goed beplan is deur kamerade van oudpres. Jacob Zuma. Dit laat egter die vraag: Waarom het die land se intelligensiedienste nie die president hieroor gewaarsku nie? Veral aangesien die Zuma-kamp jare reeds met geweld dreig sou die oudpresident tronk toe gestuur word.

Ingeligte bronne het aan Rapport gesê die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) probeer die blaam vir die petalje voor die polisie se deur lê.

Maandag, op ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), was die lede woedend oor die polisie nie die naweek al protesoptogte in die kiem gesmoor het nie. “Ons kan net onsself blameer, want ons is gewaarsku en ons het nie opgetree nie,” het een NUK-lid op voorwaarde van anonimiteit gesê.

“Kameraad Bheki Cele moes vir ons vertel het dat hulle nie die (geweld) kan hanteer nie. So, ons moenie nou rondgaan en die mense (wat plunder) blameer nie, die polisie kon dit nie hanteer nie.”

Die kritiek op die polisie het Vrydag na die parlement oorgespoel toe lede van die polisie-portefeuljekomitee die polisieleierskap gebraai het.

Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, wou by die polisie weet of dit waar is dat die nasionale intelligensie-agentskap voor Zuma se arrestasie ’n dossier aan die SAPD oorhandig het waarin gewaarsku is dat Zuma se aanhouding ’n “onmiddellike bedreiging inhou”. Indien wel, waarom was die polisie nie beter daarop voorbereid nie, wou Whitfield weet.

Genl. Khehla Sitole, polisiekommissaris, wat laat was vir die vergadering, het ’n lang relaas gelewer, maar nooit op Whitfield se vraag gereageer nie. Cele, minister van polisie, het nie vir die vergadering opgedaag nie en dit aan sy adjunk, Cassel Mathale, oorgelaat om die kastaiings uit die vuur te krap. Mathale het erken die polisie is onkant gevang deur die omvang van die geweldpleging.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het Woensdagaand op ’n portefeuljekomiteevergadering erken hulle is “amper – ek wil nie sê broek om die enkels gevang nie – maar dis wat gebeur het”.

Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, het Dinsdag op ’n mediakonferensie probeer walgooi teen die bewerings dat intelligensieverslae te laat ontvang is. “Ek wil hê Suid-Afrikaners moet weet dat ons baie (geweld) gekeer het. Wat jy sien, is net ’n deel van wat alles kon gebeur het. So, ons as die SVA was nie buite aksie nie.”

Ook die president se kantoor is blykbaar baie ongelukkig oor die intelligensieagentskappe – en veral misdaadintelligensie in die polisie – se onvermoë om die oproer te voorspel en te keer.

“Dit was of die (nasionale) leierskap van die polisie bang was om verder petrol op die vuur te gooi, en toe dit handuit ruk, was hulle heeltemal onvoorbereid vir die chaos wat Sondag en Maandag plaasgevind het,” het een polisiebron op voorwaarde van anonimiteit gesê.

Volgens Rapport se inligting was die polisie so onvoorbereid dat daar eers Woensdag lede van die polisie se eenheid vir openbare orde  uit ander provinsies na KwaZulu-Natal gestuur is. Johan Booysen, afgetrede hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, sê die polisie moet oop kaarte speel oor wanneer en hoeveel intelligensieverslae hulle voor die begin van die onluste verlede Vrydag ontvang het.

“Óf die polisie het intelligensie gehad maar nie opgetree nie óf hulle het geen intelligensie gehad nie, wat net so angswekkend is,” sê Booysen.

“In elk geval, ek glo selfs al het die polisie genoegsame verslae gehad, hulle nie voorbereid sou wees op dié grootskaalse geweld nie.”

In die kabinet is daar twee teorieë oor hoe die plundery georkestreer is.

Die eerste is dat voormalige SVA- en MK-agente, wat onder Zuma gedien het, agter die geteikende plundery sit.

Die tweede is dat ANC-lede in eThekwini, wat Zuma-lojaliste is, baie van die geweld op WhatsApp-groepe georkestreer het.

Die regering het 12 “opstokers” geïdentifiseer wat blykbaar die geweld beplan het.

Een van hulle, Thulani Dlomo, eertydse SVA-agent en ’n voormalige ambassadeur in Japan, het Vrydag die Durban-Sentraal-polisiekantoor saam met sy prokureur, Philani Shangase, besoek nadat sy naam as een van die vermeende 12 genoem is. Hy is nie in hegtenis geneem nie en het ná sy besoek enige betrokkenheid by die aanvalle in verskeie TV-onderhoude ontken.

Mojo Motau, voormalige hoof van die weermag se intelligensie-eenheid, het ook enige betrokkenheid aan News24 ontken. “Hulle (die regering) gaan nie enige persoon kry wat die onrus georkestreer het nie,” het hy gesê.

“Ek kan nie sien hoe dit georkestreer was nie.”

Motau het gesê die regering soek iemand om te blameer vir sy onvermoë om betyds op te tree. “Ek twyfel of dit ’n opstand teen die regering was. ’n Opstand kan nie deur honger mense gelei word wat kos soek nie.”

Sy siening word deur Duduzane Zuma, oudpres. Zuma se seun, gedeel.

“Hierdie bewerings van ’n derde mag is nonsens in my oë. Dit voel soos ministers wat na verskonings soek,” het hy gesê.

Hy’t ook ontken dat die Zuma-familie die protesoptogte georkestreer het. “Dit kom nie uit my huishouding uit nie.”

Die bewering dat raadslede in Durban agter alles sit, word skynbaar bevestig deur ’n WhatsApp-groep met die naam “Ethekwini Shutdown”, waarvan baie raadslede blykbaar ’n lid was.

“My leier, ek sê die N2 (en) N3 moet gesluit word, dan sal ons hulle aandag kry, want ons vader (Zuma) is in die tronk, ons sekretaris-generaal (Ace Magashule) is geskors en ons woordvoerder (Carl Niehaus) is ook geskors. Hulle gaan nou te ver,” lui een van die boodskappe. In ander boodskappe woord bespreek hoe McDonald’s-kitskoswinkels geteiken moet word. Toe een lid probeer kapsie maak en sê dat winkels in swart besit ook in die slag bly, is hy gewaarsku: “Jammer, my kameraad, daar sal in elke revolusie onskuldige slagoffers wees.”

Die boodskapper moedig ook aanvalle op Shoprite, Woolworths, Pick n Pay, Absa, FNB en Capitec aan.

Toe Rapport die nommers kontak van waar die boodskappe gestuur is, is verskeie verskonings aangebied, soos dat hul selfone gekraak is, of dat hulle in die hospitaal was met Covid-19 en nie aan die plundery kon deelneem nie.

Nadat die geweld uitgebreek het, is die geweldenaars uit talle oorde aangehits, meestal deur mense met sterk Zuma-bande. Voor in die koor was Zuma se dogter Duduzile, wat temperature tot brandpunt opgejaag het met twiets wat onder meer die ANC-wapen met dié van die ou Suid-Afrikaanse vlag vervang het met die boodskap: “What the new @MyANC under proxy leadership controlled by WMC (white monopoly capital) looks like.” (Lees die berig hier.)

Mervyn Abrahams, direkteur van die Pietermaritzburg-instituut vir ekonomiese geregtigheid, sê die wyse en spoed waarop pakhuise van voedselreuse soos Unilever en Value Logistics in Hammarsdale, Cato Ridge en Richmond gestroop is, is aanduidend van beplanning.

“Dis ver van enige hoofroetes en min mense weet hoegenaamd van die bestaan daarvan, maar dit was van die eerste teikens in die stropery. Dis duidelik deeglik beplan. Almal waarsku al jare lank dat ons in Suid-Afrika op ’n kruitvat sit wat enige tyd kan ontplof. Wel, Jacob Zuma se arrestasie was die vonk in daardie kruitvat.”

Lukhona Mnguni, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), meen “minstens 20%” van die geweldpleging is beplan – die res was spontaan.

Abrahams en Mnguni waarsku dat die geweld en stropery die afgelope week nie die laaste gaan wees nie.

“Die land moet hom klaarmaak vir ’n tweede vlaag hiervan. Arm, honger mense het gesien hulle kan hiermee wegkom en iets verniet kry. Die ys is nou gebreek,” sê Abrahams.

Genl.maj. Leon Rabie, hoof van strategiese beplanning in die polisie, het Vrydag in ’n voorlegging oor die aanvalle aan die parlement gesê daar was ook planne om ander belangrike sleutelpunte aan te val.

Die eerste is die Impala-substasie buite Empangeni, ’n enorme installasie wat in die 1990's gebou is om Eskom se grootste enkele kliënt, die aluminiumsmelters van South32 in Richardsbaai, van krag te verskaf.

Vandag lewer dit krag aan al die nywerheidsaanlegte in hierdie hawestad.

Daar was ook planne om die King Shaka-lughawe en die Durbanse hawe buite aksie te stel.

* Verslaggewing deur Johan Eybers, Jan de Lange, Dawie Boonzaaier, Antoinette Slabbert en Pieter Malan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.