Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-aanslag op ons mense duur voort – Cope

Die ANC-aanslag op ons mense duur voort en die jongste verslag oor Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, se roekelose besteding van openbare geld kan nie langer geduld word nie.

So sê Makhotla Sefuli van Cope in die Vrystaat se kommunikasie-afdeling in ’n nuusverklaring.

Sy kommentaar volg ná Netwerk24 se berig van 14 September waarin die DA sê Ntombela het altesaam R214 miljoen bestee op maatskappye wat gesellighede of ander geleenthede reël. Dit kom neer op meer as R8 miljoen per maand oor 26 maande.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê boonop blyk dit dat die meeste van die geld aan vier maatskappye betaal is wat met mekaar verband hou – Dots Design Agency: R59 977 998,21; Quail Media-Cubicle Trading JV: R54 758 060,58; Thepa Trading: R61 335 128,27; en Central Plaza Investments: R38 446 573,31.

Sisi Ntombela Foto: Argief

Jankielsohn het Sondag in ’n nuusverklaring gesê meer as R8 miljoen is gemiddeld per maand op geleenthede bestee.

Sefuli sê nou die Vrystaat vra dat die Valke, die kantoor van die nasionale tesourie en die ouditeur-generaal (OG) moet toetree om die jongste bewerings oor Ntombela en haar kaders, “wat die staatskoffers leeg melk”, te ondersoek.

Sefuli sê die stilte van die regerende party is oorverdowend omdat hy die alleen-begunstigde van die plundertog is.

“Cope is oortuig dat ’n ondersoek sal kan blootlê hoe die maatskappye wat in die verslag genoem word op die een of ander manier met die ANC verbind is.”

Hy het gesê hulle vra daarom vir ’n deeglike ondersoek van al die maatskappye onder verdenking.

Ntombela moet by haar begrotingstoespraak van 2019 hou dat geen sent vermors sal raak nie, sê Sefuli.

• Setjhaba Maphalla, hoof van kommunikasie van die Vrystaatse provinsiale regering, het Sondag wal gegooi en gesê die aantygings is onwaar.

Hy het gesê die premier het getrou gebly aan haar belofte in haar provinsiale rede, asook in haar toesprake gedurende die begrotingsdebatte, dat haar administrasie verbind is tot etiese gedrag en dat meer bereik sal word met minder.

Hy het gesê die kantoor van die premier het die inligting wat die DA teen die premier gebruik, aan die Vrystaatse provinsiale wetgewer beskikbaar gestel as antwoorde op vrae oor die premier se siening om te alle tye ’n etiese, deursigtige en verantwoordbare regering daar te stel.

Hy het gesê die kontrakte is alles op wettige wyse aangegaan en dat die bestede geld gereguleerde pryse is waar toepaslike wetgewende raamwerke die riglyne neergelê het.

Hy sê dit is onwaar dat die premier “partytjies” met die geld van getroue belastingbetalers laat reël het.

Die premierskantoor het die mandaat vir al die geleenthede – dit was alles deel van die kalenderplanne.

Die belangrike geleenthede sluit in, maar is nie beperk nie, tot:

• Die provinsiale rede en begrotingsittings;

• Uitreikprogramme en veldtogte van die premier en haar departement in die algemeen;

• Die koördinering en viering van nasionale dae soos jeug- en vrouedae;

• Ander sleutel- en strategiese geleenthede wat deel vorm van die programme van aksie van die regering waarop die uitvoerende raad besluit het; en

• Die kantoor van die premier sit ook geld opsy vir die bekamping van geslagsgeweld. Een van die voorkeure van die premier is juis om voorvalle van geslagsgeweld te bekamp wat gereeld in die provinsie voorkom.

Meer oor:  Cope  |  Anc  |  Sisi Ntombela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.