Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-alliansie gekap oor weiering van IMF-hulp

Die ANC-alliansie is “skynheilig” omdat hulle vir Tito Mboweni, minister van finansies, in plaas van vir oudpres. Jacob Zuma en die Guptas wil blameer vir die finansiële krisis waarin Suid-Afrika hom midde-in sy stryd teen die Covid-19-pandemie bevind, meen Cope.

080618w Nuus- Durban - Former president Jacob Zuma
Voormalige president Jacob Zuma.

Dit was Dinsdag dié party se mening toe hy saam met die DA en ander partye die ANC en sy alliansievennote, die SAKP en Cosatu, skerp gekritiseer het oor hul uitlatings dat Suid-Afrika nie die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) of die Wêreldbank moet nader vir finansiële hulp nie.

Die DA en Cope was dit ook eens dat pres. Cyril Ramaphosa en Mboweni die land bo die ANC-alliansie moet plaas en dringend die IMF vir hulp moet nader.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal wat as Ramaphosa se grootste opponent in die ANC beskou word, Solly Mapaila, eerste adjunk-sekretaris van die SAKP, en Bheki Ntshalintshali, Cosatu se hoofsekretaris, het Maandag in ’n gesamentlik verklaring gesê om hulp van die IMF en Wêreldbank te aanvaar sal Suid-Afrika se soewereiniteit in die gedrang bring, en dat Suid-Afrika eerder vir China en Rusland om hulp moet nader.

Intussen sê Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, Dinsdag dat die ANC se binnegevegte oor die IMF Suid-Afrika se hulpprogramme in die lig van die koronavirus in gevaar stel.

Die regering het volgens hom baie min geld en benodig dringend soveel geld as moontlik vir hulp aan gesondheidswerkers, vir beskermende drag en mediese voorraad, sowel as om klein ondernemings en werkers wat hul werk verloor het, te help.

“Ons moet finansiering kry oral waar ons kan, veral met die lae rentekoers wat internasionale finansiële instellings nou bied. Om die regering te stop om die IMF te nader, is om die kleinlike ideologiese teenkanting bo die dringende behoefte van die verligtingsprogramme te plaas.”

Tans staar die land ’n baie ernstige vyand naamlik die koronavirus in die gesig wat nie net mense se lewe bedreig nie, maar wat ook die ekonomie kan laat ineenstort.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, sê Suid-Afrika is in groot moeilikheid en sal nooit weer dieselfde wees nie ongeag of hy die IMF, Wêreldbank of die Brics-ontwikkelingsbank sou nader nie.

“Sommige van ons wat die ANC verlaat het om Cope te stig, se optrede word weer eens geregverdig. Ons het by die ANC se Polokwane-konferensie in 2007 gewaarsku dat die ANC onder die leierskap van Zuma die land sal vernietig.

“Tans staar die land ’n baie ernstige vyand naamlik die koronavirus in die gesig wat nie net mense se lewe bedreig nie, maar wat ook die ekonomie kan laat ineenstort. En die land het nie geld vir die stryd teen die virus nie. Nou moet ons hoed in die hand gaan bedel vir hulp.”

Herman Mashaba, voormalige DA-burgemeester van Johannesburg wat intussen sy eie politieke party begin het, sê dat dit is verbysterend dat die ANC se alliansievennote enige stappe om finansiering van die IMF te soek, openlik verwerp.

Hy meen die enigste logiese verduidelik daarvoor is dat die IMF op hervormings sal aandring wat die “mafia-tipe” wurggreep wat vakbonde op die ekonomie het, sal verswak.

“Die brief waarin die ANC-alliansie hul teenkanting uitgedruk het is onderteken deur Magashule, wat weer eens bewys hoe die faksiegevegte in die ANC ons gebring het tot by die punt waar die uitslag van die party se Nasrec-konferensie steeds dreig om ons land se pogings om te herstel, ondermyn,” sê Mashaba.

Meer oor:  Cope  |  Imf  |  Anc  |  Tito Mboweni  |  Jacob Zuma  |  Guptas  |  Koronavirus  |  Covid-19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.