Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-alliansie verwerp steeds hulp van IMF, Wêreldbank
Ace MagashuleFoto: Daily Sun

Die ANC-alliansie is uiters bekommerd oor die ernstige ekonomiese én breër maatskaplike gevolge wat die Covid-19-pandemie op Suid-Afrika se miljoene armes, werkloses en laer middelklas gaan hê.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, en sy alliansievennote in die SAKP en Cosatu verwerp ondanks bogenoemde bekommernisse egter steeds enige voorstelle van onder meer Tito Mboweni, minister van finansies, dat die land die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) óf die Wêreldbank vir finansiële bystand weens dié krisis moet nader. Dít is omdat dit volgens hulle Suid-Afrika se soewereiniteit in gevaar stel.

Bogenoemde is van die besluite op ’n virtuele vergadering van die ANC-alliansie se sekretariaat wat die afgelope Donderdag gehou is om onder meer die impak van die Covid-19-pandemie op die land en ekonomie te bespreek.

Magashule, Solly Mapaila, eerste adjunkhoofsekretaris van die SAKP, en Bheki Ntshalintshali, hoofsekretaris van Cosatu – wat die alliansie-sekretariaat uitmaak – het die besluite van dié vergadering Maandag in ’n gesamentlike verklaring bekend gemaak.

Daarin sê hulle onder meer hul steun toe aan die staat van inperking wat pres. Cyril Ramaphosa verklaar het. Hulle doen ook ’n beroep op elke Suid-Afrikaner om die regulasies daarvan te gehoorsaam én om hul samewerking aan die gesondheids- en wetstoepassingsowerhede te gee.

Die sekretariaat loof alle gesondheidsorgwerkers vir hul bydrae en versoek dat voldoende persoonlike beskermende toerusting aan hulle verskaf word. Hulle loof verder die inklusiewe en raadplegende wyse waarop pres. Cyril Ramaphosa alle maatskaplike vennote in die stryd byeengebring het.

Solly MapailaFoto: Daily Sun
Bheki NtshalintshaliFoto: Daily Sun

Die drie lys dan in die verklaring hul kommer oor die impak wat die pandemie op armes, werkloses en die laer middelklas gaan hê. Hulle voeg by dat dit veral vererger gaan word weens die ongelyke ontwikkeling in veral landelike gebiede, informele nedersettings en townships.

“Hierdie ernstige situasie is vererger deur die besluit van Moody’s en Fitch om Suid-Afrika se kredietgradering na onder beleggingsgraad af te gradeer,” lui die verklaring.

“Die alliansie het ook sy kommer uitgespreek oor die impak van die pandemie op staatsentiteite soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en doen ’n beroep op konsultasie in die afhandeling van die SAL se sakereddingsplan wat nou tot 29 Mei vanjaar verleng is.”

Oor voorstelle om die IMF en Wêreldbank vir finansiële bystand te nader het die sekretariaat die behoefte benadruk om Suid-Afrika se nasionale soewereiniteit, fundamentele reg tot selfbeskikking en ononderhandelbare onafhanklikheid, selfs te midde van hierdie krisis, te beskerm. Die sekretariaat glo die Reserwebank moet eerder ’n kragtige ontwikkelingsrol in die regruk van die ekonomie speel.

“Die Reserwebank kan hierdie mandaat direk en indirek vervul in samewerking met instellings vir openbare ontwikkelingsfinansiering en die nasionale tesourie soos in die Grondwet vervat.”

Die regering moet luidens die verklaring in belang van die oorweldigende meerderheid van landsburgers ook alle bronne van plaaslike finansiering, wat industriële pensioenfondse en toepaslike beleidsinstrumente insluit, evalueer en ondersoek.

“In die mate wat dit nodig is, moet die regering dit ook ondersoek om die Brics-ontwikkelingsbank te nader. In dieselfde opsig moet dit ook oorweeg word om bilaterale samewerking en bystand met China en Rusland op die gebied van finansies, nywerheid, wetenskap en tegnologie te oorweeg, sowel as met betrekking tot die voorrade wat nodig is om die oorlog teen die Covid-19-pandemie te wen,” lui die ANC-alliansie se verklaring.

“Enige voorwaardes wat by sulke samewerking en bystand ter sprake sou wees, moet duidelik deur die maatskaplike vennote verstaan, onderhandel en mee gekonsulteer word en dit moenie ons demokratiese nasionale soewereiniteit ondermyn nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.