Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-ampsdraers sit vas oor Mlamleli

Olly Mlamleli, die ontsetelde burgemeester van die Mangaung-metro, se toekoms hang in die weegskaal aangesien ANC-ampsdraers in die Vrystaat ná haar inhegtenisneming Woensdag vassit oor watter pad die party met haar moet inslaan.

Mlamleli is Woensdagoggend in hegtenis geneem en na die Bainsvlei-polisiekantoor in Bloemfontein geneem.

Daar word verstaan haar inhegtenisneming hou verband met die omstrede asbeskontrak waarby sy betrek is gedurende haar tyd as LUR.

Ampsdraers in die provinsie het ’n dringende vergadering belê ná die inhegtenisneming van Mlamleli en ander hoëprofiel-persone in die provinsie.

’n Persoon in die binnekring sê hulle kan nie ooreenkom dat hulle resolusies van die ANC se nasionale uitvoerende komitee sal toepas dat almal wat by verkeerde optrede betrokke is, moet uittree of “om die party en die land se Grondwet te volg dat almal onskuldig is totdat hulle skuldig bevind word” nie.

“Daar word sterk aangedring dat die saak na die provinsiale werkkomitee verwys word wat Maandag sal vergader. In hierdie stadium is niemand bereid om in te gee nie,” het ’n bron in die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) gesê.

’n Ander bron sê Mlamleli, ’n lid van die PUK met noue bande met Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is steeds baie magtig in die provinsie.

Olly Mlamleli Foto: Argief

“Sy het ondersteuning en sy het die steun van kameraad Ace. Dit sê jou seker waarom hierdie vergadering twee lank geduur het en daar nog geen besluit geneem is nie. Dit gaan moeilik wees vir enigiemand om te eis dat sy uittree.

“Dit is nie soos in KwaZulu-Natal, waar kameraad Zandile se mag en nasionale steun aan die afneem is nie. Hierdie provinsie word steeds grotendeels beheer deur een faksie of een kant van die ANC. Dit sal ’n moeilike besluit wees om te neem,” het die bron gesê.

Thabo Meeko, woordvoerder van die ANC in die Vrystaat, het aan News24 gesê ampsdraers in die vergadering monitor die situasie soos dit ontvou. Hy sê daar is ’n aantal sake om te bespreek, waaronder Mlamleli se lot.

“Die amptenare is besig met ’n proses om die ANC se gedragskode toe te pas en die besluit van die NUK dat diegene wat verdink word van korrupsie moet uittree. Dit moet egter alles deur die Grondwet gelei word. Ons kan nie die wet van die land ignoreer en die ANC se grondwet wat sê iemand is onskuldig totdat hulle skuldig bevind word nie.”

Mlamleli sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

In Mei is Magashule en Mlameli betrek by ’n verdoemende verslag deur adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer.

Volgens die verslag het die provinsie nie behoorlike verkrygingsprosedures gevolg toe hy ’n kontrak van R200 miljoen toegeken het om ’n oudit van asbesdakke in die Vrystaat te doen nie. Daar is boonop voortgegaan met die kontrak ondanks die feit dat die ouditeur-generaal die verkryging reeds in Julie 2015 as onreëlmatig verklaar het.

Sy het verder beklemtoon dat die departement nie waarde vir geld ontvang het nie.

Die omstrede ooreenkoms is onderteken tydens Magashule en Mlamleli se tyd as onderskeidelik die premier van die Vrystaat en die LUR vir menslike nedersettings.

Die SAKP het intussen in ’n verklaring gesê die inhegtenisneming van belangrike politici en sakelui is ’n belangrike aanduiding dat die land die era van aanspreeklikheid betree het.

“Eerstens moet nog inhegtenisnemings volg. Tweedens moet daar suksesvolle vervolging wees. Derdens moet diegene wat skuldig bevind word tot swaar gevangenisstraf gevonnis word. Vierdens moet beslag gelê word op die bates wat verkry is deur korrupte optrede, bedrog en ander vorme van wangedrag.

“Alles moet gedoen word, nasionaal of internasionaal, om die openbare hulpbronne wat weens staatskaping en ander vorme van korrupte gedrag verlore is te verhaal,” het Alex Mashilo, woordvoerder van die SAKP, gesê.

Meer oor:  Staatskaping  |  Olly Mlamleli
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.