Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC besef hy verloor kiesers se geloof in hom – dokument

Die ANC is in ’n krisis en hy besef hy is besig om sy geloofwaardigheid en vertroue by al hoe meer kiesers te verloor.

Dit word gesê in ’n omvattende besprekingsdokument vir die party se vyfde algemene nasionale raadsvergadering wat volgende jaar plaasvind.

Die verslag is deur Jeff Radebe, die party se beleidshoof, bekend gemaak op ’n mediakonferensie in Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg.

Die ANC sê in dié dokument hy moet die foutlyne in eie geledere erken en meganismes in plek stel om groter vaardighede in die organisasie te bewerkstellig.

Die algemene nasionale raadsvergadering word in April of Mei aanstaande jaar gehou.

Daar word al geruime tyd bespiegel dat lede van die faksie wat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, steun, op dié konferensie ’n mosie van wantroue teen pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-leier, sal probeer instel.

Jeff Radebe, beleidshoof van die ANC Foto: Argief

Die politieke ontleder Theo Venter sê kragtens die ANC se grondwet kan ’n algemene konferensie soos dié nie leierskapskwessies hanteer nie, maar die grondwet-voorskrif hieroor is in die verlede al op “kreatiewe wyse” verbreek.

Dié nasionale algemene raad vergader gewoonlik tussen nasionale konferensies van die ANC sodat onder meer terugvoering gegee kan word oor die inwerkingstelling van resolusies wat op die vorige nasionale konferensie gehou is.

“Die idee is nie om beleid te aanvaar nie. Dit is die taak van die nasionale beleidskonferensie en die nasionale konferensie wat albei in 2022 gehou word,” het Radebe gesê.

Venter verduidelik die nasionale algemene raad speel eerder ’n adviserende rol oor beleid en optrede.

Radebe sê die ANC se nasionale uitvoerende komitee sal volgende naweek besluit waar en wanneer die algemene nasionale raadsvergadering sal plaasvind.

Die raad moes vanjaar vergader het, maar dit is weens die Covid-19-pandemie uitgestel. Dit is kragtens die ANC se grondwet nie ’n voorvereiste dat dit gehou móét word nie.

Daar sal op die algemene raadsvergadering veral gekyk word na sleutel-transformasiekwessies soos ekonomiese transformasie, maatskaplike kohesie, kultuur en erfenis, geslagskwessies, die verkiesingstelsel (om veral groter kiesersbetrokkenheid te verseker) en wat gedoen moet word om die ANC as party te vernuwe.

Internasionale tendense en kwessies sal ook bespreek word.

Pres. Cyril Ramaphosa

Die ANC erken in die besprekingsdokument hy het baie uitdagings. Hoewel hy in die laaste 26 jaar as regerende party baie reggekry het, is daar baie sake wat ernstige aandag moet kry.

Een daarvan is dat die land se jong mense nie onder apartheid grootgeword het nie, en hulle minder geneig is om soos hul ouers outomaties aangetrokke tot die ANC te voel.

Hul opvatting van die ANC en die regering word al hoe meer negatief, onder meer weens korrupsie en die party se stelsel van patronaatskap.

Een van die voorstelle is dat die ANC-jeugliga weer ’n kragtige organisasie gemaak moet word.

Die ANC verloor ook al hoe meer die steun van studente en intellektueles en besef hy sal iets moet doen om hul vertroue te herwin.

Radebe sê as die ANC sy leierskapsposisie in die samelewing wil behou, sal hy moet belê in vaardige leiers met bewese waardes wat teen korrupsie gekant is.

Een van die gevolge van swak leierskap is dat dit lei tot faksievorming wat die party verswak.

Venter sê dit is duidelik die ANC is baie bekommerd oor die stand van die land se ekonomie.

“Wat veral vir my insiggewend is, is dat die ANC erken die staat kan nie ondernemings oorneem nie. Hy kan die sakewêreld bloot reguleer.

“Vir my lyk dit na ’n duidelike kodetaal vir die wegbeweeg van nasionalisering.”

Ace Magashule

Die ANC maak dit in die dokument duidelik dat verskille oor beleidsprioriteite en strategieë die vertroue van private beleggers skade berokken en huiwerig gemaak het om in Suid-Afrika te belê.

Dié beleggers is ook afgeskrik deur staatskaping en korrupsie.

Die kabinet en presidensie het albei ’n groot behoefte aan vaardighede en mense met tegniese kundigheid.

Boonop het Covid-19 die erge ongelykhede in die land vererger, terwyl klimaatsverandering ’n baie negatiewe invloed op landbou en toerisme het omdat droogtes en vloede al meer voorkom.

Jesse Duarte, adjunksekretaris-generaal van die ANC, sê subkomitees sal die besprekingsdokument in die aanloop tot die algemene vergadering onder die loep neem.

Die volledige besprekingsdokument is te kry by https://www.anc1912.org.za/umrabulo-special-edition.

Dié verdeeldheid pla

Dit kwel die ANC dat Suid-Afrikaners hulle steeds nie sien as een nasie met gemeenskaplike uitdagings en ’n verenigde toekoms nie.

Die land se mense is steeds verdeel deur ras en etniese identiteite, en mense gaan te maklik oor tot geweld wanneer daar konflik tussen groepe is. Daar is ook woede en/of vooroordeel wanneer daar konflik tussen groepe is.

Die ANC besef hy sal kompromieë moet aangaan om konfliksituasies in gemeenskappe te voorkom. Hy sal in konflikbeslegting moet belê.

Ná 26 jaar van demokrasie is daar ook steeds te veel geweld, rassisme, vreemdelingehaat en seksisme.

“Suid-Afrika bly verdeel en ongelyk. Armoede en ongelykheid het ’n baie negatiewe invloed op veral vroue en die jeug.”

Die party sê hy is veral bekommerd oor die status van vroue in sekere gemeenskappe.

Van die aanbevelings oor wat nodig is om die ekonomie ’n hupstoot te gee:


• ’n Volhoubare pakket om ekonomiese groei te laat herleef;

• Maatreëls om ekonomiese geleenthede vir werkende mense op ’n beduidende skaal te verbeter;

• Die minimumloon moet jaarliks met 1,5% bo die inflasiekoers verhoog word;

• Toegang tot elite-onderwysinstellings – van primêre tot tersiêre vlak – moet verbeter word vir mense met lae inkomste. Dit sluit in kwotas vir plek vir leerlinge uit gesinne met ’n lae inkomste;

• Groter maatskappye moet in die toekoms aangemoedig word om vakbonde te nooi om deel van hul direksies te wees. Dié maatskappye moet ook aangemoedig word om werknemer- en gemeenskapseienaarskap uit te brei;

• ’n Oplossing is nodig vir kommunale grond en verblyfreg. Gemeenskappe moet betrek word by die breër ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse gemeenskap met sy diversiteit. Veral vroue moet gehelp word;

• Die kapasiteit in die presidensie moet verhoog om dié proses te prioritiseer, koördineer en moniteer terwyl dit in werking gestel word;

• Staatsdepartemente se vermoëns moet verbeter word om voorstelle te ontwikkel om iets te doen aan die belangrikste beperkings op mededingendheid en groei in spesifieke waardekettings; en

• Die land het ’n maatskaplike ooreenkoms nodig om geskille tussen al die belanghebbendes te bestuur. Al die partye moet ’n langtermyn-beskouing hê en besef dat inklusiewe groei tot voordeel van almal is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.