Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC besluit eers later oor Ace

’n Besluit deur die ANC oor die lot van sy sekretaris-generaal, Ace Magashule, is vir eers uitgestel.

Ace Magashule,sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Daily Sun

Dít nadat die regerende party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) nie soos verwag gaan vergader direk ná sy lekgotla die naweek nie.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Donderdag aangekondig die party se eerste NUK-vergadering vir die jaar – waarop besluit moet word of partyleiers wat van korrupsie of ander ernstige misdade aangekla word van hul poste moet afstand doen – is tot 13 en 14 Februarie uitgestel.

Pres. Cyril Ramaphosa en die res van die ANC se topses-leiers sal ook eers vergader om riglyne te finaliseer oor hoe die sogenaamde opsystaan-reël onder sy lede in werking gestel moet word.

Die NUK sal dan op bogenoemde vergadering ’n besluit daaroor neem.

Magashule se lot kan die ANC nog verder verdeel. Dit omdat hy en nog 12 ander mense op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery van sowat R250 miljoen in die landdroshof in Bloemfontein teregstaan.

Dit hou verband met ’n asbesdak-projek in die dae toe Magashule nog die premier van die Vrystaat was.

Die pandemie en tweede vlaag van infeksies het daarom ook die ANC en ander politieke partye of organisasies se planne omvergewerp.

Die verdeeldheid in die ANC is Desember verlede jaar verder op die spits gedryf nadat daar in ’n uitgelekte verslag van die ANC se nasionale integriteitskommissie aanbeveel is dat Magashule dadelik sy pos moet ontruim totdat die strafregtelike saak teen hom afgehandel is.

Mabe het Donderdag gesê dat die NUK van Vrydag tot Sondag ’n virtuele NUK-lekgotla sal hou.

Die party sal dan met sy alliansievennote, Cosatu en die SAKP, ANC-lede in die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsfere, sowel as met verteenwoordigers van die private sektor, burgerlike samelewing en tradisionele leiers, vergader.

Mabe het bygevoeg dat die lekgotla kort ná die party se 8 Januarie-verklaring plaasvind en dus sal daar ook op die sleutelprioriteite, soos in dié verklaring uiteengesit is, gefokus word.

“Dit is om die Covid-19-pandemie te verslaan, aandag te gee aan die land se ekonomiese herstelplan, plaaslike regering en dienslewering en die Afrika-agenda en ’n beter wêreld,” het Mabe gesê.

Intussen het prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, Donderdag gesê dit is verstaanbaar dat die ANC eers op sy lekgotla wil fokus omdat die pandemie, die regering se entstofprogram en die land se ekonomiese herstelplan belangrike kwessies is waarop die regering nou eers moet fokus.

“Die pandemie en tweede vlaag van infeksies het daarom ook die ANC en ander politieke partye of organisasies se planne omvergewerp. Dit is dus verstaanbaar dat die ANC ook sy program verander het om as regerende party eers aandag aan die pandemie en ander belangrike kwessies te skenk.”

Hy meen egter dat die Magashule-kwessie nie ’n maklike een vir die ANC is nie en dat die NUK-vergadering waarskynlik uitgestel is “sodat die gemoedere kan bedaar en die aangeleentheid later rasioneel hanteer kan word”.

Meer oor:  Anc  |  Besluit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.