Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC dink diep oor Roelf se kies-plan

Die kiesafdelingstelsel wat ’n dinkskrum onder leiding van Roelf Meyer verlede week voorgestel het, kan volgens die ANC stukrag gee aan die regering se nuwe distriksontwikkelingsmodel.

Roelf Meyer tuis. Hy en sy groep het ’n kiesafdelingstelsel voorgestel wat die land in 66 kiesafdelings verdeel met proporsionele verteenwoordiging. Foto: Felix Dlangamandla

Die party koppel dié vraagstuk ook aan die moontlikheid om die munisipale verkiesings wat tussen Augustus en November moet plaasvind, saam met nasionale en provinsiale verkiesings te hou.

Meyer en sy groep het ’n kiesafdelingstelsel voorgestel wat die land in 66 kiesafdelings verdeel waar parlementslede proporsioneel verkies word. Die kiesafdelings word afgebaken op grond van distriksgrense en metrogrense – dieselfde gebiede waarmee die regering verlede jaar begin het om die chaotiese dienslewering van staatsdepartemente en plaaslike owerhede te integreer.

“Dit sal meebring dat openbare (politieke) verteenwoordigers op al drie regeringsvlakke met mekaar verbind word deur die mandate waarmee hulle verkies is (binne ’n kiesafdeling),” lui die ANC-gespreksdokumente vir sy hoofraadsvergadering later vanjaar.

In die ANC-dokument word die skep van super-kiesafdelings oorweeg waarin parlementslede proporsioneel verkies word.

Dit word in die ANC-dokumente en deur die Meyer-dinkskrum beskou as ’n manier om te voldoen aan die konstitusionele hof se bevel in Junie dat die Kieswet gewysig word sodat onafhanklike kandidate parlement toe kan gaan.

Die kloof tussen burgers en die regering raak al hoe groter.

Die hofbevel vereis dat die Kieswet binne twee jaar – voor Julie 2022 – gewysig word sodat ’n nuwe stelsel reeds met die volgende parlementêre verkiesing in 2024 geld.

Die skrywers van die gespreks­dokumente is net soos politieke ontleders bekommerd oor die ontnugtering onder Suid-Afrikaners met die huidige kiesstelsel. Dit bring mee dat al hoe minder kiesers stembus toe gaan. Daarom is die hofbevel ’n manier om die kiesstelsel só te verander dat parlementslede meer direk aan kiesers verantwoordbaar is en minder aan hul politieke party.

“Die konstitusionele hof se bevel het die debat oor die kiesstelsel dringend gemaak,” lui die ANC-dokument.

“Daarom fokus ons nou op twee kwessies: Of ons elemente van die kiesafdelingstelsel in ons nasionale en provinsiale verkiesing moet inbou en of ons verkiesings vir ons nasionale, provinsiale en munisipale owerheid op dieselfde tydstip moet hou.”

In 2019 het minder as 46% van alle kiesers gaan stem. Die ANC-gespreksdokument waarsku ook protesoptrede in gemeenskappe oor gebrekkige dienslewering wys die kloof raak al hoe groter tussen burgers en die regering.

“Die geloofwaardigheid van verkiesings word ook ondermyn deur die toenemende gebruik van fop-nuus, die manipulering van data en die gebruik van sosiale media soos in die Cambridge Analytica-skandaal (tydens die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president in 2016) gewys het,” lui die dokument.

Die voorstel dat kiesafdelings teruggebring word, kom uit die verslag van die Van Zyl-Slabbert-kommissie, wat ’n alternatiewe kiesstelsel ondersoek en in 2003 aan die parlement verslag gedoen het.

Die ANC sê politieke verteenwoordigers in die huidige stelsel is meer verantwoordbaar aan partybase as aan die kiesers.

Die probleme en wanbestuur in munisipaliteite, wat in wyke (kiesafdelings) verkies word, wys egter dat kiesafdelings op hul eie nie noodwendig beter verantwoordbaarheid aan kiesers waarborg nie.

“Sommige ontleders voer aan dat ’n kiesafdeling-kiesstelsel net so gemanipuleer kan word deur politieke partye soos proporsionele kieslyste.

“Kiesers kan net so ontevrede en ontnugter wees omdat die kiesafdeling groot gaan wees en verskillende gemeenskappe met uiteenlopende belange sal moet verteenwoordig,” lui die ANC-dokument.

Meer oor:  Roelf Meyer  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.