Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC, EFF handgemeen tydens gronddebat
Lede van die EFF en die ANC raak Maandagmiddag tydens ’n debat oor grondonteiening sonder vergoeding handgemeen in die ZK Matthews-saal by Unisa in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Chaotiese tonele het hulle Maandagmiddag in die ZK Matthews-saal op die Unisa-kampus in Pretoria afgespeel toe EFF- en ANC-lede tydens ’n debat oor grondonteiening sonder vergoeding handgemeen geraak het.

Dit nadat Roland Lamola, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, deur EFF-lede uitgejou is toe hy die ANC se standpunt oor die kwessie wou stel. Van die EFF-lede het op stoele in die saal gedans.

Die debat is amptelik aangebied deur Unisa se departement van menslike wetenskappe, maar dit het op die oog af meer na ’n EFF-byeenkoms gelyk.

Lamola kon nie sy toespraak voltooi nie en was woedend toe hy sy sitplek ingeneem het.

Kort hierna het die twee groepe handgemeen geraak. Lamola is terug na die podium en het ’n beroep om kalmte gedoen.

Toe hy later die saal verlaat, het Lamola aan Netwerk24 gesê hy is diep teleurgesteld. “Dit wat hier gebeur het, is onaanvaarbaar. Ons het na almal geluister, maar die EFF is onverdraagsaam. Hulle luister na niemand anders nie, maar net na hulself.”

Roland Lamola (links), lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, probeer die gemoedere kalmeer toe lede van die ANC en die EFF Maandag in die ZK Matthews-saal by Unisa in Pretoria handgemeen geraak het. By hom is Mandisa Mashego, voorsitter van die EFF in Gauteng. Foto: Sarel van der Walt

Die polisie, wat buite die gebou gewag het, is in ’n stadium ontbied, maar veiligheidsbeamptes het die situasie onder beheer gebring.

Die EFF-lede in die saal het deur die dag verskeie van die sprekers gekoggel wanneer hulle nie met hulle saamgestem het nie. Onder dié sprekers was Mosiuoa Lekota, die leier van Cope, en Larry Varrie van die Greater Aboriginal Community Council of South Africa.

Die ANC is deur verskeie deelnemers aan die debat gekritiseer.

Nadat Lamola en talle ANC-ondersteuners die saal verlaat het, het Andile Mngxitama, president van die organisasie Black First Land First (BLF), opnuut die BLF se standpunt herhaal dat alle grond in die land so gou moontlik aan swart mense oorhandig moet word.

Hy het gesê hy vertrou nie die ANC of EFF met grondhervorming nie.

Volgens hom het pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-leier, en Julius Malema, die EFF-leier, gesê grond wat produktief is, sal nie onteien word nie.

“Albei van hulle is bang die landbousektor word verwoes. Die werklikheid is dié grond wat onproduktief is, is dié wat wit boere nie wil hê nie.”

Meer oor:  Anc  |  Eff  |  Unisa  |  Gronddebat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.