Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC eis dat Cyril optree teen De Lille

Die messe is skynbaar uit vir Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur. Talle ANC-hoës dring aan op optrede teen haar ná bewerings van inmenging in haar departement se verkrygingsprosesse.

Senior ANC-lede het aan City Press, Rapport se susterkoerant, gesê die ANC se besluit dat amptenare opsy moet staan as hulle van korrupsie beskuldig word, geld ook vir De Lille, leier van die Good-party.

“Die vraag is wat gaan met De Lille gebeur; sy is nie ’n lid van die party nie, maar ’n politieke aanstelling deur die president, so al die oë is op hom om op te tree teen sy ontplooide.”

’n Minister het gesê die herrie gaan daaroor dat individue soos Bongani Bongo, Andile Lungisa en Zandile Gumede met “minagting” behandel is, terwyl De Lille voorkeurbehandeling kry.

Een ANC-lid het selfs gesê die Ramaphosa-faksie in die party wys openlik minagting vir bondgenote van oudpres. Jacob Zuma. Die lid het gesê selfs wanneer ernstige bewerings teen “die president se eie politieke aanstelling gemaak word, word sy vrye teuels gegee om selfs die werknemer wat haar beskuldig te dissiplineer, terwyl daar aangedring is dat ons opsy staan”.

’n Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee het gesê De Lille se personeel het kommer uitgespreek oor “die minister wat haar familielede aanstel” en oor Samuel Vukela, haar geskorste direkteur-generaal, se bewerings van growwe inmenging in sy aansoek voor die hooggeregshof in Pretoria.

Patricia de Lille Foto: Son

De Lille was die afgelope week in die visier van Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge, Nolitha Ntobongwana, voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur, en Mosa Chabane, waarnemende voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake.

Hulle dring aan op dringende stappe teen amptenare in haar kantoor in verband met onbehoorlike verkryging in en konstruksie van die 40 km lange Beitbrug-grensdraad tussen Suid-Afrika en Zimbabwe.

Vukela beweer De Lille het hom op 28 Junie 2019 in ’n brief opdrag gegee om ’n spesifieke maatskappy, wat spesialiseer in wêreldwye gerief- en eiendomsbestuur, vir ’n tydperk van drie maande aan te stel.

Vukela sê in sy verklaring dié opdrag was onwettig. Dit “was ’n duidelike inmenging deur die minister in die administratiewe en verskaffingsproses van die departement”.

Volgens Vukela het De Lille op 16 Julie 2019 wéér ingemeng en onwettig opgetree deur hom opdrag te gee om die maatskappy Oryx Multi Media vir drie maande aan te stel om die daaglikse monitering van aktuele sake te behartig. Hy het geweier.

De Lille het Vukela glo ook in September 2019 “geïrriteerd en kwaad” gebel. “Sy het vir my gesê ek ondersteun haar nie as minister nie, want as sy vir my opdrag gee om iets te doen, dan doen ek dit nie.”

Vukela beweer hy het toe vir De Lille gesê hy is wetlik verplig om die korrekte prosedures te volg. Hy lê die ongerymdhede in die oprig en instandhouding van die Beitbrug-grensdraad voor De Lille se deur. Vukela sê De Lille het presies opdrag gegee oor wat in dié projek moet gebeur.

Nou word 14 amptenare deur dissiplinêre stappe in die gesig gestaar.

De Lille het deur ’n stemboodskap van Roger Solomons, haar stafhoof, gesê sy sal voortgaan met die dissiplinêre stappe teen die individue wat verantwoordelik was vir die betaling van buitensporige pryse vir die lendelam grensdraad.

In De Lille se beantwoordende verklaring aan Vukela betwis sy die aantygings van onbehoorlike inmenging, maar erken sy het Oryx Multi Media geïdentifiseer as ’n diensverskaffer “wat ek verstaan spesialisdienste lewer”. Sy hou voet by stuk “dit het nie beteken die applikant het opdrag gekry om verpligte vereistes van verkryging te verontagsaam nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.