Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC gaan soek feite in Venezuela

Die ANC en sy alliansievennote het Saterdag na Venezuela vertrek, maar beplan nie om Juan Guaidó (35), die land se selfverklaarde president, te ontmoet nie.

“Ons wil nie met iemand praat wat nie deur demokratiese prosesse verkies is nie,” het Bheki Ntshalintshali, hoofsekretaris van Cosatu, gesê.

Die SAKP stem saam. Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder, het gesê: “Ons sal geen interaksie hê met ’n onwettige gesag nie.”

Albei organisasies stuur twee afgevaardigdes saam met Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, en ander ANC-afgevaardigdes.

Magashule het gesê die ANC en sy alliansievennote bevestig hul solidariteit met die mense van Venezuela in hul soeke na ’n politieke oplossing. Hy het hul besoek aan die krisis­geteisterde land as ’n “feitesending” beskryf.

Suid-Afrika was Donderdag een van slegs drie onder die VN-veiligheidsraad se 15 lidlande wat téén ’n Amerikaans-geleide mosie gestem het om Guaidó as tussentydse president te erken totdat ’n verkiesing gehou kan word. China en Rusland het saam met Suid-Afrika gestem.

Suid-Afrika het diplomatieke bande met Venezuela hoewel die Europese Unie (EU) en Amerika ’n ekonomiese blokkade handhaaf. Amerika en meer as 50 ander Westerse en Latyns-Amerikaanse lande erken Guaidó as president van Venezuela en verwerp die oorwinning van pres. Nicolás Maduro (56) in verlede jaar se verkiesing. Die internasionale gemeenskap bestempel dit as “onwettig” en “ongeloofwaardig”. Maduro het 68% van die stemme gekry in ’n verkiesing wat deur die opposisie geboikot is.

Guaidó, hoof van die land se opposisiegeleide parlement, het hom in Januarie as president verklaar en veg nou teen Maduro om beheer van die land.

Maduro is in April 2013 verkies ná die dood van sy sosialistiese mentor, Hugo Chávez, met ’n meerderheid van slegs 1,6%.

Die land is tans vasgevang in ’n spiraal van toenemende politieke ontevredenheid wat aangevuur word deur hiperinflasie, kragonderbrekings en ’n tekort aan kos en medisyne. Meer as 3 miljoen burgers is reeds landuit.

Die krisis word vererger omdat die veiligheidsmagte, soos die afgelope week weer, weier dat Amerikaanse humanitêre hulp die land vanaf Columbia binnekom, berig Daily Maverick. Baie vrees dit kan lei tot ’n militêre botsing met die VSA.

Joseph Nkosi, Suid-Afrikaanse ambassadeur in Venezuela, het by ’n ambassadegeleentheid in Julie opspraak verwek toe hy gesê het Suid-Afrika sal “hulle (die Venezolaanse regering) ondersteun . . . indien dit nodig is dat ons ons soldate bring om teen die Amerikaners te veg, sal ons dit doen; ons kan nie toelaat dat ons deur die Amerikaanse administrasie oorheers word nie”.

Hy is later deur die Suid-Afrikaanse regering gedwing om sy woorde terug te trek en om verskoning te vra.

Jerry Matjila, Suid-Afrikaanse ambassadeur by die VN, het die afgelope week gesê Venezuela moet self oor sy eie toekoms besluit.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Juan Guaidó  |  Cosatu  |  Sakp  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.