Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘ANC gee geloofwaardig-heid aan onthulling’

Die heftigheid van die ANC se ontkenning gee juis geloofwaardigheid aan die “geheime vergadering” wat die faksie van oudpres. Jacob Zuma in die ANC glo Donderdag in Durban gehad het.

Hy twyfel nie oor die juistheid van die Sunday Times-berig oor die beweerde sameswering teen pres. Cyril Ramaphosa nie, sê die politieke ontleder Theo Venter.

Hy sê die “geheime vergadering” speel hom af teen die onvermoë van dié faksie om die ANC te dwing om ’n nasionale konsultatiewe konferensie te belê.

Die foto van Ace Magashule (links), Supra Mahumapelo, vorige premier van Noordwes, oudpres. Jacob Zuma en Meokgo Matuba, sekretaris-generaal van die ANC-vroueliga, is na bewering Donderdag in die Elangeni-hotel in Durban geneem. Foto: Sunday Times

“Die sogenaamde premierliga sou op só ’n konferensie groter druk op Ramaphosa, die ANC-leier, probeer plaas het.”

Venter sê die jongste verwikkelinge binne die ANC vind plaas teen die agtergrond van die party se sogenaamde “lys-seisoen” wat binnekort begin.

Dit is wanneer ANC-kandidate aangewys word vir volgende jaar se nasionale en provinsiale verkiesings.

“Om die nasionale konsultatiewe konferensie byeen te roep, het jy minstens ’n derde van die ANC se steun nodig.

“Dit sou kon werk met die steun van KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Noordwes, maar nou met die ontbinding van Noordwes se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) is dit onmoontlik,” sê Venter.

Die Zuma-faksie kan dit in die hof beveg, maar dit is binne die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se bevoegdheid om dit te doen.

Prof. André DuvenhageFoto: Sarel van der Walt

Die NUK se ontbinding ontneem Zuma-ondersteuners ook van die geleentheid om bepaalde optredes binne die ANC uit te voer, het Venter gesê.

“Dit wat nou gebeur, is waarskynlik vergelykbaar met die situasie wat voor verlede jaar se nasionale konferensie by Nasrec (in Johannesburg) geheers het.

“Ons sien ’n herhaling van die faksievorming voor Nasrec met die uitsluiting van (adj.pres. David) Mabuza, wat baie betekenisvol is,” sê Venter.

Theo Venter

Prof. André Duvenhage, politieke wetenskaplike en ’n kollega van Venter by die Noordwes-Universiteit, sê dit is duidelik die verdeeldheid wat verlede jaar by Nasrec geheers is, is nog nie bygelê nie.

Sy bronne sê Supra Mahumapelo, wat vroeër vanjaar die trekpas gekry het as premier van Noordwes, is selfs op distriksvlak besig om binne die strukture van die ANC die geveg na Ramaphosa te neem.

“As hierdie projek van die premierliga misluk, sal hulle uit die ANC padgee,” meen Duvenhage.

“Dit sal die ANC se kanse om volgende jaar met die algemene verkiesing meer as 50% van die stemme te kry, erg benadeel.

“Dit kan veroorsaak dat die EFF nader kan beweeg aan die Ramaphosa-ANC.”

Duvenhage meen Mabuza kan in die toekoms ’n al hoe belangriker buiteperd word.

“Mabuza kan enige rigting draai. (Mabuza het kort voor die ANC se leierskapsverkiesing sy steun aan Ramaphosa toegesê en hom só gehelp om die verkiesing teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma naelskraap te wen.) Sy steun is nie noodwendig by Ramaphosa nie.

“Op die oomblik het die Zuma-groep nie ’n baie sterk presidentskandidaat nie.

“Zuma kan nie weer president word nie en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (die ander kandidaat in die presidentsverkiesing) is deesdae hoofsaaklik belyn met die Ramaphosa-groep. Dit laat die deur oop vir Mabuza,” sê Duvenhage.

“Dit is nie onmoontlik nie dat hy deur sy eerste premierliga-vennote oorgekoop kan word met die belofte van die presidentskap.”

Venter sê hy twyfel of Mabuza in hierdie stadium sy lojaliteit sal verander.

“Die mense in die binnekringe sê vir my hy is in hierdie stadium baie sterk agter Ramaphosa.”

Meer oor:  Zuma  |  Jacob  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Theo Venter  |  Anc-Komplot  |  Faksie  |  Anc  |  Geheime Vergadering  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.