Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC gee glo geld, kos vir stemme in Qwa-qwa
’n Foto wat die DA verskaf het, wys Vusi Tshabalala (links), voormalige burgemeester van die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit en nou hoofsweep van die Vrystaatse wetgewer, tussen mense op ’n toneel waar stemwerwing oënskynlik gedoen word. Foto: Verskaf

Foto’s wat onlangs op die Facebookblad van die ANC se Vrystaat-koukus gelaai is, bewys dat dié party skaamteloos en opsetlik komberse, kospakkies en selfs geld uitdeel in sy pogings om stemme in Qwaqwa te werf.

Die ANC het glo in hierdie lokaal in Qwaqwa komberse uitgedeel, beweer die DA. Langs die stapeltjie komberse sit Vusi Tshabalala, voormalige burgemeester van die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit en nou hoofsweep van die Vrystaatse wetgewer. Foto: Verskaf

Só sê die DA-raadslid Alison Oates van die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit (Qwaqwa, Harrismith en Kestell) wat die ANC aan die vooraand van tussenverkiesings volgende week by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verkla het.

Dit is blykbaar ook nie net die DA wat ’n klag by die OVK ingedien het nie.

Mandisa Makesini, provinsiale voorsitter van die EFF, sê die party het ook ’n klag by die OVK ingedien nadat lede van die party glo vir Vusi Tshabalala, voormalige burgemeester van die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit en nou hoofsweep van die Vrystaatse wetgewer, kospakkies in Qwaqwa gesien uitdeel het.

Tshabalala word beskou as ’n vertroueling en steunpilaar van Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC. Hy het Magashule onlangs sterk op Vrystaatse wetgewersittings verdedig.

Boonop beweer Makesini dat Tshabalala ook vir mense geld gegee het.

Tshabalala het nie sy telefoon beantwoord of op ’n boodskap gereageer toe hy om kommentaar genader is nie.

Netwerk24 het vroeër berig altesaam 15 tussenverkiesings moet op 28 Augustus in die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit gehou word nadat die ANC vroeër 16 van sy raadslede hier afgedank het.

Die 16de raadslid was ’n proporsioneel verkose raadslid.

Oates sê op twee afsonderlike foto’s op Facebook kan stapels komberse gesien word en op ’n ander een is kospakkies sigbaar. Op een foto lyk dit of kontant ook uitgedeel word, sê Oates.

Vusi Tshabalala (naaslinks), vergesel deur wat lyk na ANC-amptenare, by ’n sak kos en een met komberse by mense in vermoedelik Qwaqwa. Ook dié foto is deur die DA aan Netwerk24 verskaf. Foto: Verskaf

“Dit is niks nuuts nie, omdat die ANC bekend is vir die misbruik van staatshulpbronne vir partypolitieke doeleindes.

“Die grense tussen die party en die staat word gereeld oorskry, soos in verskeie verslae van die openbare beskermer (OB) in die Vrystaat gesien kan word,” sê Oates.

Sy sê die DA het in die lig van die foto’s ’n klag by die OVK ingedien wat verband hou met verkiesingsbedrog en veral onbehoorlike beïnvloeding in terme van wetgewing.

Die DA beweer Vusi Tshabalala oorhandig hier geld aan ’n inwoner van Qwaqwa. Foto: Verskaf

Volgens haar gaan die DA se veldtog daaroor om ’n nuwe stadsraad op die been te bring wat die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit sal kan lei om ’n hoër lewensgehalte vir die armes te bring en gaan dit nie, soos in die ANC se geval, slegs oor geskenke wanneer stemme benodig word nie.

Sy sê intense verkiesingsveldtogte word nou gevoer omdat die tussenverkiesings in 15 van die 35 wyke plaasvind en verskeie van die voormalige raadslede nou as onafhanklike kandidate teen die ANC-kandidate sal staan.

Altesaam 14 van dié 15 wyke is in Qwaqwa en een in die Harrismith-omgewing.

Die DA, EFF en kleiner partye soos die ATM en ACM sal ook aan die tussenverkiesings deelneem.

Itumeleng Liba, bestuurder van die OVK in die Vrystaat, het bevestig dat ’n klag van die DA ontvang is, maar nog nie van die EFF nie.

“Ek kan ook nie bevestig of dit Tshabalala op die foto’s is wat die DA vir my aangestuur het nie, hoewel ek hom persoonlik ken. Wat ek wel kan bevestig, is dat ons die beskuldigde party gaan nader om ’n ondersoek te doen sodat ons kan optree indien die bewerings waar is.”

Paseka Nompondo, sekretaris van die Vrystaatse ANC, het beloof om kommentaar te lewer, maar het teen druktyd nog nie gereageer nie.

Thabo Meeko, woordvoerder van die Vrystaatse ANC, het ook teen druktyd nog geen kommentaar gelewer nie.

Meer oor:  Qwaqwa  |  Kiesers  |  Skenkings  |  Stemme  |  Geld  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.