Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC gee top-grond aan Gupta-groep

’n Stuk eiendom in die hart van Sandton wat dalk die waardevolste perseel in die hele land is, is so te sê verniet weggegee aan ’n maatskappy wat bande met die Guptas het.

’n Voorstelling van die Kgoro Gateway-ontwikkeling
’n Voorstelling van die Kgoro Gateway-ontwikkeling wat Cedar Park 39 beplan om bo-op die Gautrein-stasie te bou. Agter die twee toringblokke is die Michelangelo-hotel en Sandton City sigbaar. Foto: a3architects.co.za

Dié skandaal, uit die dae toe die ANC nog Johannesburg bestuur het, het toevallig op die lappe gekom toe die watertoevoer na die Gautreinstasie in Sandton afgesny is omdat die eiendomsbelasting nie betaal is nie.

Gautrein besit gedeeltes van die grond ingevolge ’n serwituut. Die 3 hektaar bogrondse eiendom behoort aan Cedar Park 39 (Edms.) Bpk., wat deel is van die Regiments-groep. Dié eiendomsjuweel is reg langs Sandton City, die vyfster-Michelangelo-hotel en die superluukse Nelson Mandela Square.

Regiments is in die staatskapingskollig weens die bedenklike kontrakte wat die groep glo danksy hul bande met die Gupta-familie by staatsinstellings gekry het.

Die direkteure van Cedar Park is Eric Wood, voorheen uitvoerende hoof van Regiments wat vort is na die ewe omstrede Trillian, Niven Pillay en Litha Nyhonyha, voorsitter van Regiments.

‘Dis nie net absurd nie, maar ook hoogs verdag.’

Onder die instellings by wie Regiments honderdmiljoene rande geskep het, tel die verarmde Transnet Tweede Vastevoordeelfonds, Transnet, Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, en nou ook die Johannesburgse metroraad.

Die ondersoekende eenheid amaBunghane het einde verlede jaar berig hoe Regiments minstens R600 miljoen direk aan frontmaatskappye van die Guptas oorbetaal het. Regiments ontken nog deurentyd dat sy sukses aan staatskaping te danke is.

Rapport het die koopkontrak vir die Sandton-grond en inligting van die aktekantoor nagegaan waaruit dit blyk watter ongelooflike meevaller Cedar Park by die metroraad gekry het:

  • Cedar Park het die grond in 2009 by die Johannesburg-metro gekoop vir R280 miljoen met ’n verband van R280 miljoen van die metro self.
  • Nie ’n sent van die koopsom is betaal nie. Cedar Park hoef ook nie ’n sent te betaal voordat hulle winste uit die ontwikkeling maak nie. Trouens, dit blyk uit die kontrak dat Cedar Park dalk nooit iets gaan hoef terug te betaal nie solank as wat hulle wooneenhede uitverhuur eerder as verkoop.
  • As ’n pasella het hulle nie net die grond gekry nie, maar belastingbetalers het R250 miljoen opgedok om die konstruksieplatform bo die stasie te bou wat ook aan Cedar Park behoort. Dit is sodat ’n wolkekrabber op die grond opgerig kan word wat lyk soos Sandton se eie “tweeling-torings”.
  • Cedar Park het nog nooit ’n sent eiendomsbelasting betaal nie en voer aan hulle is “kwytgeskeld” hiervan ingevolge die koopkontrak met die stad.
  • Die feit dat Cedar Park hierdie figuurlike goudmyn besit, het hulle in staat gestel om ’n ontwikkelingsverband van R4,2 miljard te bekom. Een belegger, Vantage Capital-fondsbestuurders, het toe in 2013 aangekondig hulle belê R150 miljoen in Cedar Park se Kgoro Gateway-ontwikkeling op die stuk grond.
  • Dié ontwikkeling van 200 000 m² sluit 304 wooneenhede, kantore, minstens een hotel en ’n spoggerige kunsgalery in, maar daar het nog niks van gekom nie.

    Vantage Capital het nou aansoek gedoen om Cedar Park te likwideer, maar aandeelhouers van Cedar Park wil die maatskappy in sakeredding plaas.

    Cedar Park se prokureur het ontvangs erken van Rapport se vrae, maar dit nie geantwoord nie.

    Herman Mashaba, uitvoerende burgemeester van Johannesburg, het Donderdag ná Rapport se vrae aangekondig hy gaan ’n volle forensiese ondersoek begin na die verkoop van die grond. Mashaba het bevestig dat Cedar Park nog niks geld betaal het nie.

    “ ’n Mens moet vra waarom die stad ooit die verkoop van sy eie grond aan ’n private maatskappy sal finansier? Dis nie net absurd nie, maar ook hoogs verdag.”

    Volgens hom ondersoek die stad die moontlikheid om die verkoop van die eiendom ongedaan te maak.

    Die ANC het die stad tot Augustus 2016 regeer.

    Mashaba beskuldig vir Geoff Makhubo, ANC-leier in Johannesburg, van belangebotsing met die transaksie.

    Makhubo was die burgemeesterslid vir finansies toe die verband in 2013 geregistreer is.

    Mashaba beweer Makhubo se maatskappy het in die verlede konsultasiedienste aan Regiments gelewer. “Die verhouding tussen Makhubo en Regiments is hoogs verdag en kan dalk lig werp op waarom die maatskappy voorkeurbehandeling van die stad gekry het ten koste van die stad.”

    Makhubo het enige ongerymdhede teenoor Rapport ontken en sê hy was glad nie betrokke by die Cedar Park-transaksie nie.

    Die Joburg Property Company (JPC), wat die eiendom verkoop het, het ten tye van die transaksie aan die burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling verslag gedoen, nie dié vir finansies nie. Hy is in elk geval eers in 2011 as burgemeesterskomiteelid vir finansies aangestel. Die registrasie van die eiendom in 2013 was net die implementering van die 2009-ooreenkoms, sê hy. Hy weet ook niks van die verband wat in die guns van die metroraad oor die eiendom geregistreer is nie, sê Makhubo.

    Die Johannesburgse metroraad bly onverbiddelik oor die uitstaande eiendomsbelasting en sê hulle sal nie die watertoevoer na die Gautrein-stasie herstel voordat Cedar Park se skuld betaal is nie. Die aansoeke van Cedar Park en die Gautrein om die watertoevoer te herstel, sal in Oktober in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

    As die maatskappy wel gelikwideer word en die metroraad doen regstappe om die koop te kanselleer, kan ’n uitgestrekte regstryd volg.

    Meer oor:  Litha Nyhonyha  |  Eric Wood  |  Niven Pillay  |  Trillian  |  Vantage Capital  |  Cedar Park  |  Regiments  |  Guptas
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.