Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC groot wenner in tussen-verkiesings

Die ANC was die groot wenner in Woensdag se tussenverkiesings in die land nadat dié party tien munisipale wyke landwyd behou én een elk by die DA en IVP afgerokkel het.

Die DA en IVP het onderskeidelik een wyk elk behou wat hulle in 2016 gewen het.

Fikile Mbalula Foto: Daily Sun

Die Verkiesingskommissie (OVK) het Donderdag die uitslae van dié 14 tussenverkiesings bekend gemaak.

Kate Bapela, OVK-woordvoerder, het namens die kommissie in ’n verklaring gesê die gemiddelde kiesersopkoms was 40,65%.

Een tussenverkiesing in wyk 20 in die Buffalo City-metro moes weens ’n hofgeding uitgestel word.

Luidens die OVK-uitslae het Lorraine Opperman die nuwe ANC-raadslid in wyk 11 in Knysna geword nadat die party dié wyk by die DA afgeneem het.

In wyk 5 in die Maphumulo-munisipaliteit in KwaZulu-Natal het Sibusiso Zulu die nuwe ANC-raadslid geword nadat die ANC dit by die IVP afgerokkel het.

Verder het die ANC nog raadslede bygekry nadat hy sy setels behou het in die volgende wyke: wyk 6 in eThekwini (Durban), wyk 7 in die Maphumulo-munisipaliteit, wyk 4 in die Ubuhlebezwe-munisipaliteit, wyk 20 in die Umzimkhulu-munisipaliteit, wyk 15 in die Groter Letaba-munisipaliteit in Limpopo, wyk 11 in die Lekwa-munisipaliteit in Limpopo, wyk 40 in Madibeng in Noordwes, wyk 2 in die Nama Khoi-munisipaliteit in die Noord-Kaap en wyk 2 in die Ga-Segonyana-munisipaliteit, ook in die Noord-Kaap, en wyk 4 in Beaufort-Wes.

Dineo Masiu is die nuwe DA-raadslid in wyk 20 (Delft) in Kaapstad nadat die party sy setel daar behou het.

John Steenhuisen Foto: Daily Sun

In wyk 5 in die KwaDukuza-munisipaliteit in KwaZulu-Natal is Enoy Dlamini die nuwe IVP-raadslid nadat hulle ook hul setel daar behou het.

Intussen het Fikile Mbalula, ANC-verkiesingshoof en minister van vervoer, Donderdag die ANC se “oorweldigende oorwinning van 86%” in die tussenverkiesings verwelkom.

“Die ANC is nederig oor die vertroue wat kiesers voortgaan om in sy leierskap, soos die uitslae wys, te demonstreer.

“Ons is vol vertroue dat ons volgehoue groei in steun in elke tussenverkiesing duidelik wys en dat ons boodskap en pogings om ons mense se omstandighede te verbeter, by kiesers op grondvlak aanklank vind.”

John Steenhuisen, DA-leier, het Donderdag op sy beurt gesê dat die uitslae bemoedigende tendense vir sy party toon, sowel as sommige gebiede “waar ons weet ons werk het om te doen tussen nou en later vanjaar se plaaslike verkiesings”.

“Ons grootste terugslag was in wyk 11 in Knysna, waar ons die wyk aan die ANC verloor het.”

Steenhuisen meen daar moet egter genoem word dat die DA ’n beginselvaste standpunt daar ingeneem het “toe een ons van gewilde raadslede (Opperman) daar saam met die ANC in die stadsraad vir ’n mosie om die regering te verbeter en vir ’n burgemeesterskandidaat gestem het.

“Ons het geweet dat die skorsing van hierdie raadslid die uitslag van die tussenverkiesing in die wyk sou raak. Sy het na die ANC oorgeloop, as kandidaat gestaan en gewen,” het hy gesê.

Die verkiesingsontleder Wayne Sussman het getwiet dat die “groot” ANC-oorwinning in die wyk in die Hornlee-woonbuurt beteken dat ’n ANC-koalisie in beheer van die Knysna-munisipaliteit bly.

Volgens Steenhuisen is die DA egter tevrede dat hy wyk 20 in Delft in Kaapstad kon behou, “hoewel dit met ’n kleiner meerderheid is”.

“Hierdie wyk was die lakmoestoets vir die party se steun onder bruin kiesers en die uitslag wys dat daardie steun sterk bly.

“Gegewe die DA se afname daar van 2016 tot 2019, is die behoud van hierdie wyk ’n teken dat ons inderdaad besig is om die skip om te draai,” meen hy.

Die EFF, wat ook aan verskeie tussenverkiesings deelgeneem het, kon geen wyk verower nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.