Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC gryp in by konflik tussen Nehawu en regering

Die ANC het ingespring om die konflik tussen die regering en Nehawu te ontlont.

Kenners sê dit kan dalk ’n taktiek van die ANC wees om sy geloofwaardigheid te herstel ná beweerde grootskaalse bedrog met geld wat vir die stryd teen Covid-19 bestem was en om stemme vir die 2021- munisipale verkiesing te werf.

Nehawu se nasionale leierskap het Maandag omstreeks 10:00 luidkeels voor die Uniegebou in Pretoria begin betoog nadat hulle op 3 September reeds ’n memorandum met eise hier oorhandig het.

Die vakbond sê die presidensie het sedertdien nog nie positief op sy eise gereageer nie en sê hy sal nie die gronde verlaat voordat daar aan sy eise gehoor gegee word nie.

Die nasionale leiers van Nehawu het Maandag by die Uniegebou in Pretoria begin betoog. Foto: Deaan Vivier

Mzwandile Michael Makwayiba, Nehawu se president, wat deel is van die groep betogers, sê hulle is hoofsaaklik ongelukkig omdat die regering nie sy ooreenkoms om salarisse te verhoog, gestand gedoen het nie.

Makwayiba sê die regering het in 2018 ’n ooreenkoms onderteken wat salarisse vir staatswerkers in 2018, 2019 en 2020 sou verhoog.

Die volgende verhoging moes op 1 April in werking getree het.

Makwayiba sê daar is vir hulle gesê daar is nie geld nie, “maar dan is daar mense wat geld steel en mens steel tog nie uit ’n leë beursie nie”.

Makwayiba sê betogings sal voortduur tot daar aan hul eise gehoor gegee word.

Die vakbond dreig ook met ’n nasionale staking deur sy 289 000 lede, wat hoofsaaklik uit gesondheidswerkers bestaan.

Vukani Mbhele, woordvoerder van Senzo Mchunu, minister van openbare dienste en administrasie, sê die geskil oor salarisverhogings draai tans in die arbeidshof.

Nehawu eis dat ’n ooreenkoms vir salarisverhogings wat in 2018 aangegaan is, nagekom moet word. Foto: Deaan Vivier

Mbhele sê vergaderings met die vakbond is al onderweg en dat die minister en die president besig is om die memorandum deur te werk.

Khaya Xaba, die vakbond se woordvoerder, het egter skuins voor 12:00 laat hoor die vakbondleiers gaan met die topses van die ANC se nasionale uitvoerende komitee vergader.

Xaba het verduidelik dit is die ANC as regerende party se verantwoordelikheid om die amptenare aan te stel wat aan hul eise gehoor moet gee, “en as die status quo nie verander nie, kan dit dalk vir ons moeilik wees om volgende jaar (vir die munisipale verkiesing) vir hulle stemme te werf. Dit lyk nie nou goed nie, want werkers is kwaad vir die regering en die ANC sal iets moet doen as hulle op ons werkers se stem wil staatmaak”.

Prof. Amanda Gouws, politieke wetenskaplike aan die Universiteit Stellenbosch, sê Nehawu is besig om die ANC af te pers met die weerhouding van hul steun.

“Die ANC moet hul bondgenote tevrede hou, anders werf hulle nie stemme vir die ANC nie. Ons staan voor ’n plaaslike verkiesing. As Nehawu tevrede gestel word, sal ander Cosatu-lede ook tevrede gestel wil word. Vakunies wat nie aan Cosatu behoort nie, sal dit minder rooskleurig tref,” sê Gouws.

Nehawu eis ook ’n gevaartoelaag vir gesondheidswerkers. Foto: Deaan Vivier
Die betogers se T-hemde is ingespan om hul boodskap tuis te bring. Foto: Deaan Vivier
Die Nehawu-vlag wapper voor die Uniegebou. Foto: Deaan Vivier

Prof. Jo-Ansie van Wyk, ’n politieke kenner aan Unisa, sê die ANC probeer sy geloofwaardigheid terugkry.

“Die party meng onlangs baie in regeringsake in. Die topses het ’n baie sterk hand en dit kan die president in ’n baie onbenydenswaardige posisie stel. Dit lyk na Luthuli-huis versus die Uniegebou,” sê Van Wyk.

Sy voeg by dat die land al hoe meer betogings van vakbonde kan verwag in die aanloop tot die 2021-verkiesing.

Nóg die ANC, nóg die presidensie het op Netwerk24 se navrae gereageer.

Xaba het ook nie op navrae oor die uitkoms van die vergadering gereageer nie.

Meer oor:  Nehawu  |  Anc  |  Uniegebou  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.