Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC ‘hang sy kop in skaamte’ oor korrupsie

Die ANC “hang sy kop in skaamte” oor van sy leiers en hul familielede wat Covid-19-hulpbronne met korrupte staatstenders plunder. Die party wil toesien dat diegene wat hierby betrokke is, so gou moontlik gestraf word.

Dié besluit van die regerende party se nasionale uitvoerende komitee (NUK), wat Dinsdag bekend gemaak is, is een van die ANC se mees beslissende besluite tot dusver hieroor namate grootskaalse verontwaardiging oor die beweerde korrupsie dwarsoor Suid-Afrika woed.

Die ANC meen dié openbare woede is geregverdig weens die “karakterlose en hartelose” gedrag van sommige mense in dié party, die regering en die private sektor.

Bogenoemde is deel van verskeie NUK-besluite wat die afgelope naweek geneem is op ’n aanlyn vergadering waar daar luidens mediaberigte glo vurige debatte tussen die verskillende ANC-faksies gevoer is oor veral die regstreekse betrokkenheid van ANC-leiers en hul families.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Daily Sun

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal wie se twee seuns self met beweerde Covid-19-korrupsie in die Vrystaat verbind word, het Dinsdag namens die NUK in ’n verklaring gesê die ANC sal voortaan ook “ ’n duidelike lyn trek tussen ons organisasie en diegene wat van die mense steel”.

Behalwe bogenoemde, het die NUK ook sy volle gewig agter pres. Cyril Ramaphosa se besluit gegooi om alle beweerde Covid-19-korrupsie na die Spesiale Ondersoekeenheid te verwys.

Die party wil egter ook sy etiese gedragskode laat hersien sodat dit duidelike rigting kan gee oor familielede van ANC-lede wat sake met die regering wil doen.

Dit kom nadat Ramaphosa, wat onder toenemende druk is om dringend op te tree teen korrupsie, Maandag in sy weeklikse nuusbrief belowe het dat daar behoorlik en hardhandig met “gewetenlose” Covid-19-korruptes afgereken sal word.

Ramaphosa se eie woordvoerder, Khusela Diko, en haar man word met ’n Gautengse tender van R125 miljoen verbind. Sy is tans op spesiale verlof hangende ’n ondersoek hierna.

Die KwaZulu-Natalse regering het Dinsdag aangekondig dat hy talle senior amptenare in sy departement van maatskaplike ontwikkeling weens beweerde Covid-19-korrupsie van sowat R30 miljoen geskors het. Hulle is ook strafregtelik aangekla.

Magashule het in die NUK-verklaring erken dat die “skandelike” onthullings oor ANC-leiers en hul families se betrokkenheid by tenders tot “robuuste” debatte in die vergadering gelei het.

Ramaphosa is ook internasionaal geloof vir sy regering se hantering van die pandemie. Hierdie sterk boodskap teen korrupsie kan nog verdere internasionale lof vir hom en die ANC meebring.

Volgens hom het ANC-lede “wat nie verdien om in die party te wees nie”, die ANC in die verleentheid gestel en sy “morele posisie” erg geskend.

News24 het Dinsdag berig dat voorstelle van Ramaphosa en sy ondersteuners op die NUK-vergadering om ANC-beleid te versterk sodat familielede van sy leiers wat sake met die regering doen, beter gereguleer kan word, heftig deur Magashule-ondersteuners teengestaan is.

Intussen het Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, in ’n verklaring gesê alle ANC-LP’s “skaam” hulle oor die “barbaarse gedrag” van Covid-19-tenderaars. Hulle meen alle gesteelde gelde moet verhaal word.

Die vakbond Nehawu het Ramaphosa ook Dinsdag versoek om Suid-Afrika onmiddellik te red van die “sinkende gewig van korrupsie”.

Zola Saphetha, Nehawu se hoofsekretaris, sê baie gesondheidswerkers het hul lewe verloor weens die gebrek aan voldoende PPE’s, wat insluit die verskaffing van PPE’s van swak gehalte deur “Covid-preneurs”.

Die EFF het Dinsdag die Gautengse regering versoek om die veiligheid van gesondheidswerkers te prioritiseer nadat agt dokters in die provinsie aan Covid-19 dood is.

Intussen sê prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die “ANC het baie lank nooit die daad by die woord gevoeg om korrupsie werklik uit te roei nie”.

Hy meen die skielike ANC-ommeswaai kan wees om korrupsievoos Suid-Afrikaners in die aanloop tot volgende jaar se plaaslike verkiesings te paai.

“Ramaphosa is ook internasionaal geloof vir sy regering se hantering van die pandemie. Hierdie sterk boodskap teen korrupsie kan nog verdere internasionale lof vir hom en die ANC meebring.”


Só wil die ANC verder korrupsie in sy midde uitroei:

Die ANC se NUK het besluit dat:

• Alle geïmpliseerdes by korrupsie en ander ernstige misdade tydelik van hul ANC- en regeringsposte moet afstaan hangende die ondersoeke teen hulle;

• Sy nasionale topleiers binne ’n maand ’n geouditeerde lys van geïmpliseerdes in die party moet saamstel en saam met die integriteitskommissie moet aanbeveel hoe daar teen hulle opgetree moet word;

• Alle ANC- provinsiale en streekstrukture verslag moet doen oor die stappe teen ANC-lede en openbare verteenwoordigers wat glo kospakkies en ander Covid-19-hulpverligting misbruik het;

• Die kapasiteit van die party se integriteitskommissie en tugkomitee versterk moet word;

• Alle ANC-lede en -ontplooides aan die party se etiese gedragskode moet voldoen;

• ANC-topleiers die aard en omvang van die huidige korrupsie moet ontleed en aanbeveel hoe die party se waardes versterk kan word; en

• Die ANC-regering dringend ’n multidissiplinêre wetstoepassingsagentskap moet stig om alle voorvalle van witboordjiemisdaad, georganiseerde misdaad en korrupsie te ondersoek.


Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Covid-19  |  Korrupsie  |  Nuk  |  Hulpbronne  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.