Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC herhaal steun aan Palestina

Enige vredesoplossing wat nie die deelname van Palestina én Israel insluit nie, sal geen legitimiteit hê nie.

Pule Mabe Foto: Daily Sun

Dít was Woensdagmiddag die reaksie van die ANC op die voorgestelde vredesplan wat pres. Donald Trump van Amerika Dinsdag saam met die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, in die Withuis aangekondig het.

Vroeër is berig hoe Trump op die bekendstelling van die plan glo voorgestel het dat ’n Palestynse staat met ’n hoofstad in Oos-Jerusalem gevorm word om sodoende vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig.

Ingevolge Trump se vredesplan sal Amerika Israelse nedersettings op die besette Wesoewer erken. In ruil daarvoor moet Israel instem om oor die volgende vier jaar geen nuwe nedersettings te vestig nie, terwyl onderhandel sal word oor Palestynse staatskap.

Daar is egter ook berig hoe Palestynse leiers Trump se plan verwerp het nog voordat dit amptelik aangekondig is omdat sy administrasie volgens hulle Israel bevoordeel. Daar was ook kritiek omdat daar geen Palestyne teenwoordig was toe die plan bekend gemaak is nie.

Samesprekings tussen Israel en die Palestyne het in 2014 skipbreuk gely.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het egter Woensdag in reaksie op die voorgestelde vredesplan namens die ANC gesê die regerende party herhaal sy “onomwonde” steun vir die vryheid van die mense van Palestina en bygevoeg dat hul stryd vir selfbeskikking “regverdig en onapologeties is”.

Ware oplossing

“Die ware oplossing sal op geen ander plek as in Palestina en Israel gevind word nie.

“Die ANC sal sy pogings van solidariteit voortsit om ’n regverdige oplossing te ondersteun wat onder meer die versterking van ’n soewereine, onafhanklike Palestynse staat insluit en wat sal help om vrede na die streek te bring en die konflik tussen die Israeliete en Palestyne te beëindig.

“Die ANC doen ook ’n beroep op die Israelse regering om alle politieke gevangenes vry te laat, om onmiddellik die uitbreiding van nedersettings op die Wesoewer te stop en om die moedswillige en voortdurende aanvalle op Palestynse mense in die Gaza-strook te beëindig.”

Vrye Palestina

Die ANC het volgens Mabe ook ’n beroep gedoen op alle organisasies en mense wat die saak van ’n vrye Palestina ondersteun om hul veldtog van eensgesindheid vir ’n vreedsame en regverdige oplossing te versterk.

As deel van sy eensgesindheid met die Palestyne het die ANC se Nasrec-konferensie in 2017 besluit dat die “Suid-Afrikaanse regering onmiddellik en onvoorwaardelik die Suid-Afrikaanse ambassade in Israel tot ’n skakelkantoor moet afgradeer” om praktiese uitdrukking vir sy steun aan die onderdrukte mense van Palestina te gee, het Mabe gesê.

“Die afgradering van die ambassade is ’n praktiese daad van eensgesindheid met die onderdrukte mense van Palestina te midde van ongeregtighede en gruweldade teen onskuldige burgerlikes,” lui die ANC-verklaring.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Woensdag in ’n verklaring gesê geen vredesplan mag toegelaat word om Palestina se soewereiniteit, die kontinuïteit van sy grense of sy ekonomiese lewensvatbaarheid te ondergrawe nie.

Luidens die verklaring sal sulke planne die mislukkings van vorige vredesamesprekings vererger, die lewensvatbaarheid van ’n twee-staat-oplossing in die gedrang bring en beide Israeli’s en Palestyne van blywende vrede ontneem.

Suid-Afrika onderneem dus om bankvas te staan agter internasionale pogings om ’n lewensvatbare Palestynse staat te steun, gegrond op grenslyne voor die Arabiese-Israeliese oorlog van 1967.

Dirco sê verder enige werkbare vredesproses maak staat op dialoog en inisiatiewe wat in volle samewerking met die mense van Palestina ontwikkel word.

Meer oor:  Donald Trump  |  Palestina  |  Israel  |  Vredesplan  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.