Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC ‘het soos gety van die see verander’

Dit wat die laaste ruk in die ANC gebeur het is soos die gety van die see – jy kan nie regtig sien hoe hy verander nie, maar ná ’n halfuur of wat kom jy agter die situasie het totaal verander.

Só sê prof. Dirk Kotze, politieke ontleder van Unisa oor die jongste verwikkelinge in die ANC.

Dit was in die naweek duidelik die faksie van pres. Cyril Ramaphosa het sy greep op die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die party versterk.

“Ek het die laaste paar dae opmerkings gesien van mense wat ondersteuners is van Ace Magashule (die geskorste sekretaris-generaal van die ANC) wat toegee dat hulle nou per implikasie in die minderheid in die NUK is en dat hulle gemarginaliseerd voel,” sê Kotze.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Argief

Magashule en adv. Bongani Bongo, ’n voormalige minister van staatsveiligheid, is die naweek gekeer om deel te wees van die NUK se aanlyn vergadering.

Hy beskryf dit wat die afgelope naweek gebeur het, as “waterskeidend”. Almal het hul egter nog nie finaal berus by wat gebeur het nie.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê dit is duidelik dat Ramaphosa sy houvas op die NUK versterk het. Dit blyk daaruit dat net sowat 29 van die byna 100 lede van die NUK Magashule se faksie steun.

“Dit wil vir my voorkom asof heelwat NUK-lede wat vroeër in die faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET) was, hul lojaliteit verander het.

“Daarom sal die RET-faksie nie daarin slaag om ’n spesiale verkiesingskonferensie uit te roep nie.”

Nóg ’n bewys dat Ramahosa en sy faksie ’n sterk greep het, is die feit dat Magashule en Bongo nie toegelaat is om aan die verrigtinge deel te neem nie.

Hoewel daar teenstand van die RET-faksie teen Ramaphosa was, is dit volgens hom baie insiggewend dat geen provinsiale voorsitters of sekretarisse bereid was om Magashule se skorsing te bevraagteken nie.

Daarom sal die RET-faksie nie daarin slaag om ’n spesiale verkiesingskonferensie uit te roep nie.

Kotze sê die posisie van iemand soos Magashule is egter net een van die belangrike kwessies wat die NUK moet bespreek.

Van die ander belangrike kwessies wat ook aandag moet geniet, is hoe die appèlproses gehanteer moet word van diegene wat appèl aanteken teen die opsystaan-besluit van die NUK dat ANC-ampsdraers wat strafregtelik aangekla is, binne 30 dae moet opsy staan.

Daar is ook verslae van die party se integriteitskommissie wat nie met die vorige vergadering afgehandel is nie.

Lees ook: Jan de Lange: Wat wag op ons ná die vertrek van Ace?

“In die lig van die onlangse gebeure word dié verslae van die integriteitskommissie nou nóg belangriker,” sê Kotze.

Een van die heel belangrikste kwessies is die finansiële probleme van die party. “Die inwerkingstelling van die nuwe Wet op die Finansiering van Politieke Partye sal alle partye se inkomste uit private skenkings raak. Dié skenkings sal baie minder as voorheen wees.”

Die ANC se hoofkantoor was tot dusver beslis te swaar gelaai met personeel, sê Kotze.

“Die ANC (en ander partye) sal moet aanpas om meer stroombelyn te wees.”

Die komende plaaslike verkiesing en die benoemingsproses van sy kandidate moet ook aandag kry.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Ret-Faksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.