Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-hoë het lys teen Ace

’n Voormalige ANC-hooggeplaaste gaan aan die staatskapingskommissie ’n lys verskaf van “projekte” waar Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, glo met die Guptas geheul het.

Mxolisi Dukwana, voormalige Vrystaatse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, het Saterdag aan City Press, susterskoerant van Rapport, gesê Tony Gupta het hom self van die projekte vertel.

“Hy het selfs ’n paar daarvan genoem wat hulle saam met Magashule gedoen het waardeur hy bevoordeel is, insluitende die Jagersfontein-myn.”

Dukwana het die afgelope week ’n opskudding veroorsaak toe hy in hofstukke Magashule regstreeks by staatskaping betrek het.

Tot dusver was die enigste getuienis by die kommissie wat Magashule raak, sy regering in die Vrystaat se voorliefde om in die Guptas se koerant, The New Age, te adverteer. Magashule se seuns word in die sogenaamde Gupta Leaks genoem as vertrouelinge van ondernemings met Gupta-bande, en ’n Gupta-luitenant is ontmasker as ’n “adviseur” van Magashule in die Vrede-melkplaasskandaal.

Dukwana het aan die hooggeregshof in Bloemfontein gesê hy het Magashule vergesel na ’n vergadering in Johannesburg met Tony Gupta.

‘Hy moet getuig dat ons kan sien wie lieg.’

Saterdag het hy aan City Press gesê hy is bewapen met nog méér inligting oor Magashule se verhouding met die Guptas – insluitende nog ’n vergadering wat hy persoonlik saam met Magashule bygewoon het by Sahara Computers in Midrand.

Op die eerste vergadering in 2011 het Tony Gupta vir Dukwana R2 miljoen per maand vir ongeveer tien jaar aangebied om seker te maak die Guptas kry beheer oor ’n projek van $2,9 miljard (sowat R42 miljard). Dukwana sê hy het dit van die hand gewys.

Magashule sou nie by dié spesifieke kontrak baat vind nie omdat hy reeds by soveel ander baat vind, het Gupta glo aan Dukwana gesê.

Die projek waarop die Guptas glo hul hande wou lê, was vir ’n “Stad van die Toekoms” in die Lejeleputswa-streek van die Vrystaat. Dukwana sê dié projek is in vertroulikheid met Magashule en ander leiers in die provinsie bespreek en hy was verstom dat die Guptas daarvan weet.

Tony Gupta het glo reeds ’n aanstellingsbrief op Dukwana se departement se briefhoof voorberei wat hy net moes onderteken. Dit sou Nulane Management Services aanstel as die implementeringsagent vir die hele projek. Nulane was glo verbind aan Iqbal Sharma, Gupta-luitenant en voormalige Transnet-raadslid. Dukwana het geweier om dit te onderteken omdat dit die verantwoordelikheid van sy departementshoof, Thuso Ramaema, was.

Gupta het egter aangehou en vir hom gesê hy moet Ramaema afdank en eerder Richard Seleka aanstel. Magashule en Duduzane Zuma was in die vertrek, sê Dukwana.

Magashule het daarna Ramaema self afgedank en ’n paar maande later ook vir Dukwana – kastig om meer vroue in sy uitvoerende raad te kry. Seleka het later die nasionale direkteur-generaal van openbare ondernemings geword, die as waarom die meerderheid van die beweerde staatskaping wentel.

Magashule het Saterdag ’n verklaring uitgereik waarin hy sê Dukwana se bewerings “is nie net ongegrond en kwaadwillig nie, maar ook versin. Die bewerings is ’n poging tot karaktermoord en afleiding van ons taak van eenheid en hernuwing.”

Sy verklaring kom nadat Netwerk24 berig het oor die hofsaak in Bloemfontein waar Dukwana ’n hofbevel bekom het om dokumente soos reisregisters, dagboeke en selfoonstate in sy ou kantoor en dié van die premier te gaan soek om sy getuienis by die staatskapingskommissie te staaf. Die balju kon egter nie die dokumente vind nie.

Dukwana sê hy daag Magashule uit om voor die kommissie te verskyn “sodat die publiek kan sien wie lieg”.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Mxolisi Dukwana  |  Tony Gupta  |  Eis  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.