Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-hoës maak voorspraak in Wes-Kaap vir verkiesing

Plaaswerkers van De Doorns sal Vrydag onder meer die geleentheid kry om hul griewe regstreeks met top-amptenare van die regerende ANC te bespreek.

Dit is wanneer Jessie Duarte, ANC-ajunksekretaris-generaal, en Nathi Mthethwa en Mcebisi Skwatsha, twee lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat in die Wes-Kaap ontplooi is, die gebied besoek.

Mthethwa is ook die minister van kuns en kultuur en Skwatsha is die adjunk-minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Die besoek is deel van die ANC en pres. Cyril Ramaphosa se nasionale Thuma Mina-veldtog en uitreikprogram wat van Vrydag tot Sondag oor die Wes-Kaap onder leiding van Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal, ontplooi word.

Die Thuma Mina-veldtog streef daarna om ANC weer met “ons mense” te verbind en “om onmiddellik oplossings vir hul kommer te vind”.

Jessie DuarteFoto: LULAMA ZENZILE

Die veldtog skop reeds Vrydagoggend af wanneer Duarte en die ander met ANC-takke in De Doorns saam met amptenare van die Onafhanklike Verkiesingskommissie deur die dorp gaan stap om inwoners aan te moedig om vir verkiesings te registreer.

Dit is ook ter voorbereiding van die tussenverkiesing wat binnekort in wyk 3 op die dorp plaasvind.

Die ANC-amptenare sal daarna ook plaaswerkers op omliggende plase besoek, waarna ’n openbare vergadering omstreeks 13:30 op die dorp gehou sal word.

Mthethwa sal onder meer Vrydagmiddag ook die Auwal-moskee in die Bo-Kaap, Kaapstad, besoek, waarna hy ’n openbare vergadering met inwoners in die Iziko-museum in Bo-Kaap sal hou.

Faiez Jacobs, Wes-Kaapse sekretaris van die ANC, het in ’n verklaring gesê Magashule en Duarte sal Saterdag ook inwoners se huise in Philippi besoek, waarna hulle die middag ’n gemeenskapsvergadering sal toespreek.

Hulle sal laat Saterdag ook weer die Bo-Kaap oor onder meer inwoners se kommer oor die gentrifikasie van dié historiese woonbuurt toespreek.

Sondag sal Bheki Cele, minister van polisie, in sy hoedanigheid as ’n afgevaardigde van die ANC se NUK saam met Khaya Magaxa, waarnemende Wes-Kaapse ANC-voorsitter, Nyanga besoek.

Magashule en Duarte sal Sondag Mfuleni en Delft besoek waar hulle onder meer voorspraak gaan maak dat inwoners moet registreer, terwyl hulle ook ’n monstervergadering in die gebied sal toespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.