Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-hoofsweep verdedig omstrede komitee-voorsitters

Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, het Dinsdag die verkiesing van die nuwe voorsitters van parlementêre toesigkomitees – waarvan sommige as omstrede beskou word – verdedig.

33 komiteevoorsitters is Dinsdag verkies.

Die DA het vroeër dié kandidate wat die ANC as voorsitters voorgestel het, “wolwe in skaapklere” genoem. Die party het met die verkiesing van elke komiteevoorsitter ook ’n alternatiewe kandidaat voorgestel, terwyl die EFF buite stemming gebly het.

Bongani Bongo
Bongani Bongo is die nuwe voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake. Foto: Adrian de Kock

Kandidate teen wie die DA beswaar gemaak het, was veral Mosebenzi Zwane, oudminister van minerale bronne, Faith Muthambi, oudminister van kommunikasie, Bongani Bongo, oudminister van staatsveiligheid, Supra Mahumapelo, oudpremier van Noordwes, en Tina Joemat-Pettersson, oudminister van energie.

Majodina en Dorries Dlakude, die ANC se adjunkhoofsweep, was teenwoordig tydens die verkiesing van Muthambi, Joemat-Pettersson en Mahumapelo.

Faith Muthambi
Faith Muthambi is die voorsitter van die portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Adrian de Kock

Sy het ná Muthambi se verkiesing as voorsitter van die portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake aan joernaliste gesê “vertragingstaktiek” is gebruik in die verkiesingsproses.

“Lede van die opposisiepartye teken beswaar aan gegrond op beweringe. Lede van die ANC is landburgers en hulle verdien respek net soos enige ander landsburger. Ons is ’n grondwetlike staat en as daar enige beweringe teen iemand is, moet dit in die hof en relevante strukture getoets word.”

Mosebenzi Zwane
Mosebenzi Zwane is die voorsitter van die portefeuljekomitee oor vervoer. Foto: Adrian de Kock

Sy het daarop gewys dat die tydperk verby is om beswaar aan te teken teen die benoeming van kandidate. “Die regter was hier om te sê dit is die lede van die parlement. Ons het ons bekwame kamerade ontplooi. As enigiets uitkom van enige van ons voorsitters wat ondersoek word, sal die ANC toepaslik optree, maar op die oomblik is daar regtig niks waarteen die ANC kan optree en sê hulle moenie die voorsitters van die komitees wees nie.”

Pemmy Majodina
Pemmy Majodina, hoofsweep. Foto: Adrian de Kock

Op die vraag hoekom sy op die komiteevergadering teenwoordig is, het Majodina gesê sy het as ANC-hoofsweep die reg om enige ANC-lid wat in ’n hoek geplaas word, te ondersteun.

“Ons almal streef na ’n goeie stel van etiek en integriteit van ons lede. As daar sekere kwessies geopper word oor ons lede moet ek in daardie vergaderings wees sodat ek ingelig is oor wat oor ons lede geopper is.

Tina Joemat-Pettersson
Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie. Foto: Adrian de Kock

“Ons kan nie toelaat dat enige Suid-Afrikaner in die gange of enige plek in die strate verhoor word nie, maar as dit voorkom in ’n formele vergadering, moet ons luister. Die ANC is ’n organisasie wat luister, daarom het die ANC opgetree ten opsigte van basiese onderwys.”

Die ANC het sy benoeming van Zukisa Faku om die voorsitter van die komitee oor basiese onderwys te word, teruggetrek ná beswaar uit verskeie oorde. Dié voormalige burgemeester van Buffalo City is vroeër tot drie jaar huisarres gevonnis weens bedrog.

Wat Bongo betref – hy is verkies tot voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake – het Majodina gesê daar is geen hofsaak teen hom nie.

Supra Mahumapelo
Supra Mahumapelo is die voorsitter van die portefeuljekomitee oor toerisme. Foto: Adrian de Kock

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.