Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC in krisis oor kapers op sy lys

Die ANC is in ’n krisis oor sy kandidatelyste vir die verkiesing omdat dit deurspek is met die hoofverdagtes in die staatskaping-treurspel.

Hulle weier boonop om terug te staan – al kan van hulle nog voor die verkiesing in hegtenis geneem word.

Malusi Gigaba, wat as minister van openbare ondernemings in die kabinet van oudpres. Jacob Zuma Gupta-meelopers in sleutelposte aangestel het in die direksies van Transnet en Eskom, het Saterdag deur die beeldpoetser Vuyo Mkhize erken dat hy ’n kandidaat hoog op die ANC se lys is.

“Die takke en die breë bevolking wil hê hy moet verkies word,” het Mkhize aan Rapport gesê.

Op ’n vraag waarom Gigaba nie bereid is om in belang van sy party terug te staan nie, het Mkhize gesê Rapport se verslaggewer “probeer die belange van ’n bepaalde faksie in die ANC bevorder”.

Van die ander bekendes op die lys wat as ’n verleentheid beskou word, is Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, en Vincent Smith, voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste.

Die takke en breë bevolking wil hê hy moet verkies word.

“Meer as die helfte van name wat nou op die lys is, is op die een of ander manier by staatskaping betrek. Dis ’n uitgemaakte saak dat sommige van hulle selfs voor die verkiesing in hegtenis geneem en voor howe gedaag gaan word,” het ’n senior lid van die party se nasionale uitvoerende komitee aan Rapport gesê.

Die NUK-lid is ook lid van die party se geloofwaardigheidskomitee, wat opdrag gekry het om die kandidate op die lys te oorweeg en vrot appels uit te skakel. “Dis ’n enorme probleem omdat hulle almal vasskop. Dis ongelooflik dat hulle hul eie belange so voorop stel dat hulle glad nie die gevolge oorweeg wat dit in die verkiesingsveldtog vir die ANC gaan inhou nie,” sê die bron.

’n Amptenaar in Luthuli-huis het kort ná die 8 Januarie-verklaring aan Rapport gesê die twis het op die NUK-vergadering begin. “Daar is gevra dat almal wat by staatskaping betrek word, terugstaan om die ANC die beste moontlike kans by die stembus te gee. In daardie stadium was daar veral kommer oor oudpres. Jacob Zuma, Gigaba en Bathabile Dlamini. Zuma was op die vergadering en het opgestaan. Hy het gesê hy is deur takke benoem en kan daardie takke nie teleurstel nie. As die partyleiers hom beskou as ’n verleentheid, moet hulle hom opdrag gee om terug te staan, maar uit sy eie kan hy dit nie doen nie.

“Sedertdien is dit die houding van al die benoemdes wat by staatskaping betrek word,” het die bron gesê.

Zingiswa Losi, president van Cosatu, het Vrydag gesê Cosatu waarsku die ANC dat hy in die verkiesing op 8 Mei steun gaan verloor as bedenklike kandidate op sy lys behou word.

Bheki Ntshalintshali, hoofsekretaris van Cosatu, het die beroep herhaal.

Dlamini is ook om kommentaar genader, maar het teen druktyd nog nie gereageer op vrae of sy haar kandidatuur sal terugtrek nie.

Die lysproses is in ’n vroeë stadium altyd ’n vloeibare proses. “Maar wanneer die verkiesing eers geproklameer is, raak dinge ernstig omdat daar dan ’n sperdatum is waarop die lyste by die OVK ingedien moet word. En as die lys eers ingedien is, kan daar vir die eerste twee jaar ná die verkiesing geen verandering aangebring word nie, tensy iemand op die lys sterf.

“Ons sit dan met daardie mense in die parlement, selfs al word hulle in hegtenis geneem,” sê die amptenaar.

Volgens Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, word die lyste gefynkam onder leiding van Ace Magashule, sekretaris-generaal, kragtens riglyne wat in Januarie by die nasionale lyskonferensie in Durban aanvaar is.

“Ons het van die provinsies se lyste teruggestuur. Ons gaan nie kompromieë aan nie.” Hy het bygevoeg: “Aantygings is aantygings.”

Ntshalintshali sê egter burgemeesters wat betrek is by die VBS-skandaal, en die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene, het bedank, al is hulle nooit in ’n hof skuldig bevind nie. “Want hulle het die organisasie in oneer gebring.”

ANC-kandidate sê hulle moet ’n lang lys invul, wat onder meer vra of hulle ondersoek word vir wandade.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.