Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC in Noord-Kaap kry groot F by DA

Terwyl skoolkinders in die Noord-Kaap Donderdag hul rapporte by hul skole gaan haal het, het die DA sy “rapport” vir die ANC in die provinsie bekend gemaak: Hulle druip met ’n F-gemiddeld.

Volgens Andrew Louw, die DA se provinsiale leier, het die Noord-Kaapse regering onder leiding van premier Sylvia Lucas klaaglik misluk.

Andrew Louw, die DA se provinsiale leier in die Noord-Kaap, met die “rapport” vir die Noord-Kaapse regering onder leiding van premier Sylvia Lucas. Foto: Christiaan Cloete

Op elke vlak het die ANC F-simbole gekry: werkskepping, die bekamping van misdaad, die vasvat van korrupsie, dienslewering en die wyse waarop die provinsie die probleem van onwettige immigrasie getakel het.

“Die regering van Sylvia Lucas en die mislukkende ANC het gedruip en dus hul reg verbeur om die provinsie in die toekoms te bestuur. Hulle kry ’n groot, vet F-gemiddeld vir die uiters swak prestasie,” het Louw Donderdag op ’n mediakonferensie in Kimberley gesê.

Louw het veral die Noord-Kaapse regering gekap oor hul gebrek aan werkskepping in ’n provinsie waar die uitgebreide werkloosheidskoers meer as 40% is en meer as 59% van die bevolking van die Noord-Kaap in armoede lewe en van staatsubsidies afhanklik is.

Uit sy luukse tronksel is die koning van korrupsie, John Block, steeds besig om toutjies van strategies geplaaste marionette in die regering oor die provinsie heen te trek
Andre Louw

Volgens Louw het die Noord-Kaap boonop die hoogste werkloosheidskoers vir jong mense tussen 15 en 24 jaar.

Hy meen dit is geen verrassing dat die Noord-Kaap die hoogste koers van belemmerde groei onder kinders het nie, weens ’n kombinasie van wanvoeding en fetale alkoholsindroom.

Louw sê dat misdaad meestal uit armoede spruit omdat baie mense kos en ander noodsaaklikhede steel om aan die lewe te bly.

Hy het ook die Noord-Kaapse regering gekap oor ’n onderbemande polisiediens wat nie behoorlik toegerus is of die kapasiteit het om misdaad te bekamp nie, en werk in die polisie wat meestal aan ANC-kaders uitgedeel word.

Volgens Louw het die Noord-Kaap die tweede hoogste koers van verkragtings in Suid-Afrika met geweld teenoor vroue en kinders wat hoogty vier.

Louw het veral die ANC bygekom oor korrupsie en gesê dat onregmatige besteding in die provinsie vir die 2017-’18-boekjaar R1,1 miljard beloop het.

Dit is tyd om mag by die ANC weg te neem en te begin om die provinsie te herbou. Dit is tyd vir verandering,
Andrew Louw

ANC-regeringsprojekte soos die Noord-Kaapse vlootbestuurhandelsentiteit en die EPWP-program in Kimberley om tydelike werk deur skoonmaakprojekte te skep, is deur hom as kontantkoeie vir ANC-kaders beskryf.

“Die premier word daarvan beskuldig dat sy glo ’n nabye familielid by die departement van vervoer beskerm het vir haar rol in die bedrieglike wyse waarop honderde taxi-lisensies aan provinsiale operateurs uitgereik is.”

Hy het ook vir Lucas gekap omdat sy vir Mac Jack, die Noord-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling en die provinsiale tesourie, as ’n lid van haar kabinet behou het, ten spyte daarvan dat sy hom by die Valke aangegee het oor bewerings van korrupsie.

“Dieselfde LUR het die ekonomiese ontwikkelingsfonds (EGF) bestuur, wat onthul is as ’n rookskerm vir korrupsie, bedrog en gunslone.”

Louw het ook te velde getrek teen John Block, die ANC se voormalige Noord-Kaapse voorsitter, wat onlangs met sy tronkstraf begin het vir sy aandeel in korrupsie by verskeie staatsdepartemente.

“Uit sy luukse tronksel is die koning van korrupsie, John Block, steeds besig om toutjies van strategies geplaaste marionette in die regering oor die provinsie heen te trek,” sê Louw.

Oor die F-simbool vir dienslewering, het hy veral die wyse waarop gesondheidsorg in die provinsie ineengestort het, uitgelig.

“Dit is tyd om mag by die ANC weg te neem en te begin om die provinsie te herbou. Dit is tyd vir verandering,” sê Louw.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Noord-Kaap  |  Skoolkinders  |  F-Symbool  |  Rapport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.