Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-jeuglede stook protes

Twee lede van die ANC-jeugliga was die voorbokke agter die afgelope weke se verlammende dienslewerings­betogings in die Alexandra-township noord van Johannesburg.

Mense is al verwyder van Stjwetla langs die Jukskeirivier, maar sommige het teruggekeer en strukture en geboue opgerig. Sommige verhuur dit aan buitelanders.

Die ANC hou egter vol inwoners van “Alex”, soos wat die digbevolkte buurt langs Sandton alom bekend is, is kwaad omdat die DA-beheerde Johannesburgse stadsraad die gebied so afskeep.

Thabang Lediga, ANC-jeugligavoorsitter van Alexandra en die breër omgewing, en Kenneth Mgaga, ’n ANC-jeugligalid, het die eerste vergadering in die Sankopano-sentrum gelei waar besluit is dat Alexandra tot stilstand gebring moes word. Hulle sou op Twitter die hutsmerk #AlexTotalShutdown gebruik.

Aanvanklik is die vergadering deur gemeenskapslede bygewoon, maar Zefrid Nuss (74), ’n DA-lid van wyk 91 in Alexandra, het Vrydag aan Rapport gesê hulle het onttrek toe hulle besef dit is ’n byeenkoms van die ANC.

" Ek het gesien Alex is vuil en julle wil dit nie hê nie.”
Cyril Ramaphosa

Die Alex-onrus is gevolg deur oproer in Hammanskraal, Orange Grove en Pretoria in Gauteng, asook Khayelitsha, Blackheath, Eersterivier en die Strand in die Wes-Kaap.

Betogers het ook in Soshanguwe buite Pretoria paaie versper.

Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane, het Vrydag gesê die ANC stook die geweld aan. Hy is verhoed om mense in Gomorrah in Pretoria-Wes toe te spreek nadat hulle geëis het dat hy dit doen.

Twee DA-manne in wyk 91: die DA-lid Zefrid Nuss en DA-voorsitter van die wyk, Ndou Johannes.

Die DA wys ook die vinger na Fikile Mbalula, ANC-verkiesingshoof, na wie se Twitter-rekening sommige van die twiets oor die #AlexTotalShutdown herlei kon word.

Die ANC en DA is gewikkel in ’n warm woordeoorlog oor die geweld, met die DA wat beweer die regerende party teiken gebiede onder sy beheer om onrus te stook. DA-peilings wys die ANC se steun in Gauteng trek by 42%.

“Die ANC is bang dat die DA in sy beheerde gebiede veld wen sowel as die beduidende verandering en ontwikkeling wat ons bring,” het Solly Malatsi, DA-woordvoerder, Woensdag gesê.

Geen aanduiding bestaan egter dat die onrus die ANC help nie. Die ontleder Dawie Scholtz het Woensdag getwiet: “Blykbaar maak die #AlexShutDown die ANC baie seer. Die party is verskeie punte laer in Gauteng die laaste paar dae . . . Ek het eerlikwaar gedink dit sou die teenoorgestelde wees.”

Kenneth Mgaga, ’n ANC-jeugligalid in Alexandra, was ’n voorbok in die #AlexTotalShutdown.

David Makhura, Gauteng se premier wat Alexandra Dinsdag besoek het, het die aantygings verwerp en het gesê Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het die inwoners se klagtes geïgnoreer.

Met Rapport se besoek aan Alexandra het vullis oral op straathoeke gelê, bokke het rondgedwaal en mense het onwettig in oop ruimtes gebou.

Met sy besoek aan Alexandra Donderdag het pres. Cyril Ramaphosa die DA vir die haglike toestande geblameer en gesê hy het gesien hoe riool in die strate loop. “Ek het gesien Alex is vuil en julle wil dit nie hê nie.”

Ramaphosa het voorts belowe dat die regering een miljoen huise oor vyf jaar in Alexandra sal bou, maar Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng, het Ramaphosa se belofte oor ’n miljoen huise aan flarde geskeur.

“Ek het ’n boodskap vir Ramaphosa en Makhura: Hou op om vir ons mense te lieg. Hoe kan jy 548 huise per dag bou? Die Gautengse regering het vroeër gesê hy het slegs die vermoë om 30 000 huise per jaar te bou,” het Msimanga gesê.

Hy wou ook weet hoekom Ramaphosa en die ANC na Alexandra hardloop pleks van na Emfuleni, wat oor en oor beoordeel is as die swakste bestuurde munisipaliteit in Gauteng. “Hy moet met dieselfde energie kom vra wat het gebeur met die Evaton-hernuwingsprogram (EHP).”

R870 miljoen is glo toegewys aan die EHP, maar volgens Bongani Baloyi, burgemeester van Midvaal, het geen ontwikkeling plaasgevind nie.

Inwoners het aan Rapport gesê hul grootste kwelling is onwettige grondbesettings. Mense bou op die oewer van die Jukskeirivier en gebiede wat vir toekomstige ontwikkeling toegewys is. In die meeste gevalle word strukture dan uitverhuur vir soveel as R1 500 per maand, meestal aan buitelanders.

Omdat behoorlike beplanning ontbreek, verstop rioolpype. Die strukture word ook onder oorhoofse elektriese kabels gebou. Een so ’n gebied, Stjwetla, langs die Jukskei, is ontruim. Mense is op ander plekke hervestig, maar het teruggekeer en onwettige geboue en ander strukture opgerig, met vullis wat ophoop.

Lediga het ontken dat politiek betrokke is. “Dis ongelukkig dat dit op die vooraand van die verkiesing gebeur. Maar die mense is gefrustreerd. As hulle nie verligting kry nie, gaan die protes ná die verkiesing net voort.”

Mashaba gaan môre die geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die gebied (IDP) aan die gemeenskap voorlê nadat hy Maandag geweier het om ’n memorandum in ontvangs te neem. Dit was weens die rassistiese behandeling van sy burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, Michael Sun, toe hy die vorige week in die township was om die griefskrif te ontvang.

Mashaba het Vrydag gesê Ramaphosa, wat hom geblameer het vir die situasie in Alexandra, is nie bereid om verantwoordelikheid te aanvaar vir jare se ANC-wanbestuur nie.

Hy wil hê Ramaphosa moet die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) aanstel om te ondersoek wat geword het van R1,3 miljard wat vir die opheffing van Alexandra bestem was.

Lediga het Vrydag gesê hulle wag nou op Mashaba. Volgens hom inspireer Alex mense in die res van die land.

Mgaga, wat vroeër gesien is waar hy ’n EFF-plakkaat van ’n muur afruk, sê aan Rapport dit was geplak op ’n pas geverfde muur van sy ouer broer se huis.

Hy sê hulle kla sedert 2016, want die DA het die ANC se skoonmaakprogram in Alexandra, wat ook werk geskep het, beëindig. Niemand anders wou die #AlexTotalShutdown lei nie – dit is waarom die ANC-jeugliga daarby ingegryp het.

Magaga beweer die EFF, wat Johannesburg saam met die DA regeer, plaas mense op grond en as Mashaba die strukture wil afbreek, keer die EFF.

Hy sê Mashaba het nooit op die gemeenskap se eise gereageer nie en maak van die strydpunt ’n politieke kwessie. “Al is ek ’n ANC-lid, kan dit my nie verhinder om gemeenskapskwessies aan te pak nie. Ek is lid van ’n gemeenskap voordat ek aan ’n party behoort.”

Hulle gaan môre ’n memorandum aan Mashaba oorhandig, al is die IDP-vergadering na Marlboro, sowat drie km weg, verskuif. “Hy weet ons mense het nie vervoer nie, maar ons sal soontoe gaan en hy sal ons memorandum ontvang voor hy met die IDP kan voortgaan,” het Mgaga gesê.

Meer oor:  Kenneth Mgaga  |  Thabang Lediga  |  David Makhura  |  Alexandra  |  Jeugliga  |  Anc  |  Diensleweringbetoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.