
Ace Magashule
Netwerk24
Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC-jeugliga, wat gelei is deur Collen Maine, is Dinsdag ontbind.
Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het op ’n nuuskonferensie in Luthuli-huis in Johannesburg, die ANC se hoofkantoor, gesê die besluit is deur die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) geneem.
Magashule het ná afloop van die ANC se NUK-vergadering gesê dat ’n nasionale taakspan aangewys is om oorsig oor die liga te hou en om dit tot ’n nasionale konferensie volgende jaar te begelei.
“Aangesien sy mandaat tot ’n einde gekom het, het die NUK die NUK van die jeugliga ontbind en ’n nasionale jeug-taakspan aangewys om toesig te hou oor die proses om die jeugliga te herbou, om ’n plan van aksie in werking te stel, om saam met die Progressive Youth Alliance en ander jeuggroeperinge te werk en om ’n suksesvolle nasionale kongres nie later nie as 31 Januarie 2020 te reël,” sê Magashule.
Lede van die jeugliga het Vrydag ’n betoging buite die NUK-vergadering by die St. Georges Hotel in Irene, Pretoria, gehou waar hulle gevra het vir die ontbinding van die liga se provinsiale en nasionale leierskap.
Van hul klagtes was dat die verkiesingskonferensie om nuwe leiers te kies al etlike kere uitgestel is omdat daar nooit ’n kworum was nie en ook weens takke waarvan die lidmaatskap nie ge-oudit is nie. Die ouderdom van die huidige jeugleiers is ook ’n bron van omstredenheid.
Ingevolge die liga se grondwet is sy lidmaatskap oop vir lede jonger as 35 jaar. Maine en ander lede van die NUK is egter glo reeds ouer as dit.
Ingevolge die liga se grondwet is sy lidmaatskap oop vir lede jonger as 35 jaar.
Die laaste verkiesingskonferensie is in September 2015 in Johannesburg gehou waar Maine tot president verkies is.
Ondertussen het die liga in Johannesburg ook aangebied om aan hul lede militêre opleiding, wapenhantering en guerrilla-taktieke by Camp Zenith in Heidelberg te leer.
Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het die stap veroordeel.
“Ons aanvaar nie die besluit van ’n jeugliga-tak êrens in Gauteng, ons dink dit is in die groter Johannesburg, dat hulle opleiding sal verskaf nie. Trouens, ons verwerp dit en sal die dié liga vra om dit aan ons te kom verduidelik,” sê Duarte.
Bheki Nkutha, ’n lid van die jeugliga wat die geleentheid reël, het Dinsdag geweier om kommentaar te lewer.
“Ons het nie die verklaring van (Duarte) gesien of van gehoor nie,” sê Nkutha.
Prof. Bheki Mngomezulu, verbonde aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) se departement van politieke wetenskap, sê die liga moet homself herskep sodat hy die harte van jong mense in Suid-Afrika kan wen.
“Die liga was vir te lank betrokke by kwessies wat nie die jeug raak nie. Hulle het vasgevang geraak in die faksiegevegte van hul moederorganisasie. Die ontbinding is ’n goeie stap. Op die volgende (verkiesings)konferensie moet ’n klousule aanvaar word dat jy nie president kan word as jy 35 word voordat jou termyn verstryk het nie,” sê Mngomezulu.