Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC ‘kaap’ lughawens in Bloem, Kimberley

Met die ANC se viering van sy 108ste bestaansjaar het die party verlede naweek nie net die hele Kimberley oorgeneem nie, maar ook die openbare lughawens daar en in Bloemfontein erg ontwrig.

Alle private vliegtuie is deur die Burgerlugvaartowerheid (BLO) verbied om op dié lughawens te oornag – iets wat laas tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 gebeur het.

Kenners het dit as “ongehoord” beskryf dat staatsbates ingerig word om ’n politieke party ter wille te wees.

Die BLO het naamlik kort voor die 8 Januarie-vierings in ’n kennisgewing aan vlieëniers wat bekend is as ’n Notam (notice to airmen) gesê “verminderde parkering (is) beskikbaar as gevolg van die ANC se geleentheid in Kimberley. Daar sal geen oornag-stop van enige vliegtuie toegelaat word gedurende hierdie periode nie”.

Luidens die kennisgewing kon vliegtuie slegs ’n uur op dié lughawe staan om passasiers af te laai. Daarna moes hulle elders gaan parkeer. Vliegtuie moes ook genoeg brandstof inneem by hul oorsprong sodat hulle daarheen kon terugkeer.

By die Bram Fischer-lughawe in Bloemfontein het die BLO versoek dat vliegtuie wat passasiers vir die ANC-feesvieringe wil aflaai, lughawe-owerhede 24 uur kennis moet gee. Parkeerbeperkings het ook gegeld, hoewel vliegtuie wel daar kon brandstof inneem.

’n Vlieënier, wat met Rapport gepraat het op voorwaarde van anonimiteit, het gesê hy het net twee gehuurde vliegtuie by die lughawe opgemerk, wat vermoedelik vir die ANC-verrigtinge daar was, en dis nie eens seker of dié vliegtuie parkeerplek nodig gehad het nie. Hy kon verstaan dat sulke beperkings vir staatsgeleenthede sou geld, maar dit is in sy ervaring “ongehoord” dat ’n politieke party ’n staatsbate vir ’n hele naweek kan toe-eien.

Hy self het die Notam te laat gesien en moes inderhaas ’n ander naweek-parkeerplek vir sy vliegtuig gaan soek.

Adele Nkomo van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), wat ook namens die BLO praat oor bedryfskwessies, het gesê hulle was “bewus daarvan dat daar ’n toename in passasiers en lugverkeer sou wees wat dalk ons bedryfsvermoë sou oorskry”.

Sy het gesê die lughawe moes só bestuur word om veiligheidsredes en dat dieselfde reëls gedurende die Wêreldbeker-sokkerwedstryde gegeld het. “Ons het wel voorsiening gemaak vir private vliegtuie en toegelaat om passasiers af te laai en by ander lughawens te herposisioneer.”

Die enigste uitsondering was vir pres. Cyril Ramaphosa, sy adjunk, David Mabuza, en die Ethiopiese eerste minister, Abiy Ahmed.

Nkomo het ontken dat dié besluite op versoek van ANC-politici geneem is. Dit was eerder ’n bedryfsplan van die lughawe se bestuur.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, se woordvoerder het nie met die ter perse gaan op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Guy Leitch, redakteur van die tydskrif SA Flyer, het gesê die parkeerbeperkings was ongehoord. “Dit is onaanvaarbaar dat die BLO Notams uitreik in reaksie op politieke druk. Lugvaartveiligheid moet nie bevuil word met politiek nie.”

Die misbruik van staatsbates vir die ANC se plesier het reeds verlede week die wenkbroue laat lig toe TimesLive berig het soldate patrolleer die strate van Kimberley se Galeshewe-township tydens Ramaphosa se besoek. Die soldate, in volle kamoefleerdrag, is beveel om terug te keer na hul barakke toe die media oor die onwettige ontplooiing berig het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.