Die ANC het as regerende party die reg om aan die regering voor te skryf watter lojale kaders as senior bestuurders en direksielede van staatsentiteite (SOE’s), sowel as hoofde van regeringsdepartemente aangestel moet word, sê oudpres. Jacob Zuma.

Oudpres. Jacob Zuma Woensdagoggend voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24Foto: Felix Dlangamandla
“Geen party ter wêreld sal verkiesings wen en daarna van sy eie ondersteuners vergeet en ander mense (in topposisies) aanstel . . . wat die ANC-regering se werk kan saboteer en maak dat jy die volgende verkiesings verloor nie,” het Zuma Woensdagoggend op die derde dag van sy langverwagte getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê.
Adv. Paul Pretorius, getuienisleier, het hom hieroor uitgevra nadat Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, vroeër in haar getuienis voor die kommissie onder meer getuig het dat faksiebelange ná die ANC se Polokwane-verkiesingskonferensie in 2007 hoogty gevier het en as deel van hul netwerke van patronaatskap het hulle finaal besluit oor wie in sekere posisies aangestel moes word.
Hogan meen dít het uiteindelik ’n negatiewe effek op die bestuur van SOE’s gehad.
Zuma is op die Polokwane-konferensie vir sy eerste termyn as ANC-president verkies.
Zuma het gesê dít is Hogan se mening.
Ons moes lojale mense aanstel wat geglo het in ANC-beleid en wat dit in die regering en SOE’s moet implementeer.
“Dit is nie waar dat mense ná Polokwane net hul eie faksies versterk het nie. Kamerade van opponerende faksies is ook in sulke posisies aangestel.”
Zuma het gesê sy probleem met Hogan se getuienis is dat sy oor gebeure binne die ANC uitwei.
“Dit is nie akkuraat nie. Die ANC se ontplooiingskomitee – wat kandidate vir topposisies in SOE’s en regeringsdepartemente aanbeveel het – het lede van verskillende faksies gehad.
“Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en nasionale werkkomitee) het die ontplooiingskomitee aangestel en daarom kan ons nie sê dat dit net uit een faksie bestaan het nie.”
Volgens Zuma kon die ANC egter nie onbekende mense in topposisies aanstel nie.
“Ons moes lojale mense aanstel wat geglo het in ANC-beleid en wat dit in die regering en SOE’s moet implementeer.
“Die bedoeling was egter nie om jou vriende in sulke poste aan te stel nie. Die ontplooiingskomitee sou bespreek watter tipe mense hy wou hê en sou dan aanbevelings doen. Dit het nie gegaan oor watter vriende om aan te stel nie.”
Volgens Zuma is daar egter ook na aangewese persone se ervaring, vermoëns en geskiktheid gekyk voordat hulle aanbeveel is.
“Daarom kon ’n mens nie ’n regering hê wat op faksies gegrond is nie. Dit is egter haar (Hogan se) mening,” het Zuma gesê.
“Wêreldwyd wanneer politieke partye verkiesings wen, plaas hulle hul eie gewillige en lojale mense in die regering om hul beleid uit te voer. Lojaliteit is egter nie die enigste vereiste nie,” het Zuma gesê.
Die sitting duur voort.