Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC kinderagtig, sê Msimanga
Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Michael Hammond

Terwyl die ANC blou moord skree oor die burgemeester van Tshwane se besoek aan Taiwan, het die kollig gister geval op ’n sakebesoek wat Rob Davies, minister van handel en nywerheid, in 2014 na dié land gelei het.

Volgens Dean Macpherson, ’n DA-woordvoerder oor buitelandse sake, het die DA geen beswaar teen dié besoek gehad nie omdat Taiwan Suid-Afrika se naasgrootste handelsvennoot in Asië is. Agttien sakelui het Davies op die reis vergesel, wat ook ’n besoek aan Thailand ingesluit het.

’n Storm het die afgelope week rondom Solly Msimanga se besoek aan Taiwan losgebars.

Hy is deur die ANC-koukus in die Tshwane-metroraad van “verraad” beskuldig.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het gister gesê Msimanga se “grootste sonde” was dat hy ereburgerskap van Taipei, die Taiwannese hoofstad, ontvang het.

Volgens hom het Msimanga se aanvaarding van dié eer ’n politieke ondertoon gehad omdat hy as ’n politieke ampsdraer (en nie as ’n amptelike regeringsverteenwoordiger nie) die eer ontvang het. Dit, en nie sy poging om nuwe handel- en beleggingsmoontlikhede te ondersoek nie, was strydig met Suid-Afrika se “een China”-beleid.

Indien Msimanga se besoek suiwer ’n handels- en beleggingsbesoek was, was dit nie ’n oortreding van Suid-Afrika se beleid jeens China nie, het Monyela gesê.

China beskou Taiwan as ’n wegbreekprovinsie.

Die Suid-Afrikaanse skakelkantoor in Taipei het geen politieke mandaat nie.

Taipei het in 1983 in die ou politieke bedeling ’n susterstad van Pretoria geword.

Msimanga, wat terug is in Suid-Afrika, het op Twitter gesê onder die ANC-bewind is ’n susterstad-ooreenkoms met die stad Taichung in Taiwan onderteken.

Msimanga het gister in ’n verklaring teruggekap en gesê die ANC en die regering se klagte teen sy besoek is niks anders nie “as ’n kinderagtige poging” om die vordering wat hy sedert die plaaslike verkiesing gemaak het ongedaan te maak.

Monyela het gesê daar is geen verbod op handel tussen Suid-Afrika en Taiwan nie.

“Ons verhouding met China laat toe dat ons [Suid-Afrika en Taiwan] skakelkantore in mekaar se lande het.”

Macpherson het gesê hy het ’n brief aan Davies gestuur waarin hy hom vra om die werk wat Msimanga gedoen het om handel en beleggings na Pretoria te lok te bekragtig.

Met staat se seën

Die departement van handel en nywerheid het in 2014 die volgende hulp aan maatskappye gebied wat sy toer na Taiwan wou meemaak:

* ’n Retoerkaartjie na Taipei in die ekonomiese klas vir tot ’n maksimum van R17 000;

* ’n Dagtoelae van R2 300; en

* Afsprake is namens hulle met Taiwanse sakeleiers ­gereël.

Bron: Departementele webwerf

Meer oor:  Rob Davies  |  Solly Msimanga  |  Buitelandse Besoek  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.