Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-komitee sê NUK moet Bongo uit sy ampte verwyder
Bongani Bongo Foto: Argief

Die ANC se integriteitskomitee het aanbeveel dat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) vir adv. Bongani Bongo, voormalige minister van staatsveiligheid, met onmiddellike ingang uit alle openbare ampte verwyder waarin die party hom ontplooi het.

Die ANC se maatreëls moet van krag bly tot die strafregtelike saak teen hom afgehandel is.

Die Valke het Bongo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, voorverlede Donderdag in hegtenis geneem, waarna hy later die dag in die landdroshof in Kaapstad op aanklagte van korrupsie verskyn het. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Die aanklagte teen Bongo spruit uit sy beweerde poging in November 2017 om adv. Ntuthuzelo Vanara, die getuienisleier in die parlementêre ondersoek na beweerde ongerymdhede by Eskom, om te koop. Luidens ’n verklaring van die integriteitskomitee neem hulle kennis van die inhegtenisneming.

Ons aanbeveling is dat Bongo uit alle openbare ampte verwyder word totdat die strafsaak afgehandel is. Ons beveel ook aan dat Bongo homself daarvan weerhou om bewerings teenoor ander kamerade te maak. Dit veroorsaak onnodige spanning en skaad ons openbare beeld.

“Ons aanbeveling is dat Bongo uit alle openbare ampte verwyder word totdat die strafsaak afgehandel is. Ons beveel ook aan dat Bongo homself daarvan weerhou om bewerings teenoor ander kamerade te maak. Dit veroorsaak onnodige spanning en skaad ons openbare beeld.

“Indien Bongo enige kwelpunt met ’n medekameraad wil opneem, kan hy die ANC se interne prosedures en strukture daarvoor gebruik.”

Die NUK moet die besluit neem om die publiek te oortuig en gerus te stel dat die ANC erns het daarmee om daadwerklik teen korrupsie op te tree, lui die verklaring.

Bongo het na bewering vir Vanara ’n “blanko tjek” aangebied om siekteverlof te neem op die dag waarop die ondersoek begin het in ’n poging om dit te ontspoor. Vanara het egter sy seniors daaroor ingelig, waarna die Valke se ondersoek gevolg het.

Bongo was Dinsdag terug in sy pos as komiteevoorsitter en het gesê hy sien uit daarna om sy onskuld in die hof te bewys.

Vroeër het lede van die ANC-veteraneliga gesê Bongo behoort vrywillig te bedank en moet verantwoording aan die ANC se integriteitskommissie doen.

Van die lede wat Vrydag dié standpunt ingeneem het, sluit in Mavuso Msimang, Cheryl Carolus, Murphy Morobe, Thami Ntenteni, Siphiwe Nyanda, Aziz Pahad, Fazel Randera, Wally Serote en Sheila Sisulu.

Hulle het daarop gewys dat Bongo se inhegtenisneming onversoenbaar is daarmee dat hy ’n openbare amp beklee. ANC-resolusies vereis dat die NUK die party se belange en reputasie beskerm.

Die lede van die veteraneliga het in hul verklaring verwys na die resolusies wat die ANC op sy 54ste konferensie in Nasrec, Johannesburg, aanvaar het.

Dit behels onder meer dat elke ANC-lid wat daarvan beskuldig word of wat na berig is by korrupte praktyke betrokke is, dadelik aan die integriteitskommissie verantwoording moet doen of ’n tugproses ondergaan.

Meer oor:  Bongani Bongo  |  Nuk  |  Anc-Komitee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.