Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-konferensie: Praat as gelykes, sê Motlanthe
Kgalema Motlanthe, oudpresident van Suid-Afrika en voormalige adjunkpresident van die ANC. Foto: Daily Sun

As die ANC ’n konsultatiewe konferensie hou wat gaan kyk na die stand van die party, moet partyleiers afstaan sodat almal as gelykes kan praat.

Kgalema Motlanthe, oudpresident van Suid-Afrika en voormalige adjunkpresident van die ANC, het Maandagaand laat in ’n onderhoud met die radiostasie PowerFM gesê dit is hoe dit gedoen is op die Morogoro-konferensie in 1969.

Dit was die eerste konsultatiewe konferensie wat die party, toe nog in ballingskap, gehou het om ’n krisis in die ANC te hanteer.

Volgens Motlanthe het Oliver Tambo, toe waarnemende president, en Duma Nokwe, toe sekretaris-generaal, afgestaan as leiers sodat daar op die vergadering behoorlik debat gevoer kon word oor die probleme.

Volgens Motlanthe is die eerste stap egter om die partyleiers daarvan te oortuig dat daar hoegenaamd ’n krisis is.

Meer as 100 ANC-veterane het reeds in 2016 gevra dat ’n konsultatiewe konferensie gehou moet word omdat hulle meen dit is die enigste manier om die party te red.

Daar word steeds besluit of dit afsonderlik van die beleidskonferensie in Junie gaan plaasvind en of dit soos goedgekeur deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) die eerste twee dae van die beleidskonferensie gaan beslaan.

Hulle (moet) afstaan as leiers sodat almal teenwoordig as gelykes kan praat.
Kgalema Motlanthe

“Vir hulle om ’n omgewing te skep of te fasiliteer wat bevorderlik is vir diepgaande gesprekvoering, moet hulle (die ANC se leiers) dit (die konferensie) saamroep, en so gou as wat dit saamgeroep is, moet hulle afstaan as leiers sodat almal teenwoordig as gelykes kan praat,” sê Motlanthe.

Hy sê diegene teenwoordig moet dan die probleem diagnoseer, met oplossings vorendag kom en ’n span verkies wat die voorstelle kan uitvoer.

In die aanloop tot die ANC se leierskapsverkiesing in Desember vanjaar, het Motlanthe, wat in 2012 teen pres. Jacob Zuma as presidentskandidaat gestaan het, se naam weer opgeduik.

Motlanthe het dit egter in die onderhoud baie duidelik gestel dat hy dink dit “is ’n slegte idee om leiers te herwin”.

Hy sê hoewel daar eers ’n benoemingsproses moet plaasvind voordat ’n leier wat in goeie stand lid van die ANC is, reageer op die benoeming, het hy dit duidelik gestel dat hy persoonlik nie lus is nie.

Hulle moet nie eens daaraan dink nie. Dit is ’n slegte idee.
Kgalema Motlanthe

Hy meen hy kan ’n beter bydrae lewer ten opsigte van politieke opvoeding, waarmee hy tans binne die ANC besig is.

“Hulle moet nie eens daaraan dink nie. Dit is ’n slegte idee,” sê Motlanthe. Hy sal so ’n benoeming nie net van die hand wys nie, maar ook aan diegene wat hom wil benoem, verduidelik hoekom dit ’n slegte idee is.

Op die vraag of hy die tradisie steun dat die adjunkpresident van die ANC die president opvolg, soos wat gebruik is in Zuma se veldtog, het Motlanthe vaag gebly en gesê hy was nie so nou betrokke in Zuma se veldtog om tot president van die ANC verkies te word nie.

Op die vraag of die ANC gereed is om ’n vrou as leier te hê, sê hy “Suid-Afrika was nog altyd reg vir ’n vrou – sedert 1994”.

Meer oor:  Anc  |  Kgalema Motlanthe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.