Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC, korrupsie ‘rede vir SA se hoë armoede-vlakke’

Die ANC-regering, korrupsie en staatskaping waardeur miljarde rande geplunder is, moet die blaam dra vir die hemelhoë vlakke van armoede waaronder net minder as die helfte van alle Suid-Afrikaners leef.

Verskeie opposisie-LP’s het dít Dinsdag in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gesê nadat Risenga Maluleke, die statistikus-generaal, die jongste beskikbare statistieke oor armoede in die land bekend gemaak het.

Hy het gesê dié statistieke is gegrond op die armoedevlakke soos in 2015 omdat daar weens ’n gebrek aan geld nie sedertdien peilings gedoen is nie.

“Ná 2015 weet ons nie hoeveel mense in Suid-Afrika arm is nie.”

Verskeie LP’s was dit eens dat die armoedesituasie sedertdien, veral met die koronaviruspandemie, baie vererger het.

Risenga Maluleke, statistikus-generaal. Foto: Daily Sun

Maluleke het gesê die jongste statistieke toon dat ’n persoon in Suid-Afrika sowat R840 per maand moet hê om genoeg kos (teen April vanjaar se pryse) te kan koop om daagliks aan die lewe te kan bly. Diegene wat nie minstens R840 per maand verdien nie, val in die onderste band van die armoedevlakke.

Sowat 13,8 miljoen mense in Suid-Afrika word as arm geklassifiseer. Hiervolgens is 41,7% vroue arm vergeleke met 38,2% mans.

Werkloosheid en mense se vlak van skoolopleiding is die grootse bydraers tot armoede.

Tot 47,1% van swart Suid-Afrikaners word as arm geklassifiseer en 23,3% van bruin landsburgers.

Sowat 0,4% van wit mense word as arm geklassifiseer en sowat 1,2% van Indiër landsburgers.

Die statistieke wys ook dat 40% van arm huishoudings net 8,34% van alle inkomste in die land verdien.

Landelike provinsies soos Limpopo, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal word die ergste deur armoede geraak.

Maatskaplike toelae is volgens Maluleke die grootste rede waarom nie nog meer mense in daardie provinsies as arm geklassifiseer word nie.

Gauteng en die Wes-Kaap het die laagste armoedevlakke met onderskeidelik 13,6% en 12,7% van hul inwoners wat as arm geklassifiseer word.

Sowat 19,9% van huishoudings het iewers in die 12 maande voor die 2015-peiling nie geld gehad om kos te koop nie.

Stephanus du Toit, VF Plus-LP, het in die debat ná Maluleke se voorlegging gesê die “grootste redes waarom so baie mense in Suid-Afrika in armoede leef, honger ly en nie voldoende skoolonderrig kry nie, is weens die geld wat die ANC-regering deur korrupsie en staatskaping steel en waarvoor niemand aangekla word nie”.

Hy meen ook die ekonomie word ook nie genoeg deur die regering gestimuleer nie.

Hildegard Boshoff, DA-LP, wou weet hoe Suid-Afrika ná 26 jaar van demokrasie “steeds herstel van apartheid met betrekking tot ongelykheid terwyl dit ’n inklusiewe Grondwet het”. Sy meen die ANC-regering het “klaaglik misluk” om ongelykheid op te los.

Andrew Arnolds, EFF-LP, het gesê niks het in Suid-Afrika verander nie omdat “voedsel-ekonomie steeds deur die wit minderheid op alle vlakke – van grondeienaarskap tot die produksie en verpakking van landbou- en voedselprodukte – oorheers word.”

Arnolds meen ’n permanente basiese inkomstetoelae moet ingestel word, terwyl die regering ook kospryse moet reguleer.

Seiso Mohai, hoofsweep in die NRP, het gesê die statistieke wys dat armoede en ongelykheid in Suid-Afrika verdiep het en steeds op ras, klas en geslag gedefinieer word.

Hy meen pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan moet daarom suksesvol in werking gestel word.

Thembi Siweya, adjunkminister in die presidensie, het in reaksie op die statistieke gesê dat die regering daartoe verbind bly om die probleme van armoede, werkloosheid en ongelykheid op te los en verskeie programme daarvoor het.

Tien munisipaliteite met die armste Suid-Afrikaners:


• Intsika Yethu (Comfimvaba, Oos-Kaap)

• Msinga (Tugela Ferry, KwaZulu-Natal)

• Umzimvubu (Mount Frere, Oos-Kaap)

• Port St. Johns (Oos-Kaap)

• Engcobo (Oos-Kaap)

• Ntabankulu (Oos-Kaap)

• Mbizana (Oos-Kaap)

• Umhlabuyalingana (KwaZulu-Natal)

• Emalahleni (Lady Frere, Oos-Kaap) en

• Ngquza Hill (Flagstaff, Oos-Kaap).



Meer oor:  Risenga Maluleke  |  Korrupsie  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.