Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC krabbel terug oor name wat verander in O-Kaap

Die stof oor die naamsveranderinge van dorpe en stede in die Oos-Kaap het nog lank nie gaan lê nie.

Terwyl beskuldigings van politiekery teen die ANC rondgeslinger is en vrae gevra word oor wat naamsveranderinge kos, het die ANC in Gqeberha (Port Elizabeth) gesê verdere konsultasies is nou met plaaslike rolspelers nodig.

Nathi Mthetwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Dinsdag aangekondig dat die name van Port Elizabeth (Gqeberha), Uitenhage (Kariega), King William’s Town (Qonce) en Maclear (Nqanqarhu) verander.

VF Plus kap naamsveranderings

Die VF Plus sê in ’n verklaring die naamsveranderings is ’n klinkklare bewys dat die ANC politiekery en sy “gefaalde ideologie” belangriker ag as die finansiële krisis waarin Suid-Afrika tans verkeer.

Hy sê die koste verbonde aan die naamsveranderings is groot en dat die geld beter aangewend kan word om ekonomiese verligting op voetsoolvlak in die Oos-Kaap te bring.

Volgens die VF+ het verskeie partye aan die amptelike proses van die naamsveranderings deelgeneem en hulle het daarop gewys dat die projek finansieel onbekostigbaar is.

“Die transformasie-agenda te midde van ’n pandemie en ekonomiese krisis is onaanvaarbaar terwyl die inwoners van die Oos-Kaap onder meer deur ’n voortslepende droogte geknou word.

'Geld so gemors'
naamsverandering, oos-kaap

“Die gevolge van die inperkingsregulasies was vernietigend vir baie mense in Suid-Afrika, soos sportmanne en -vroue asook kunstenaars, en geld wat nou met die sinlose naamsveranderings gemors word, kon eerder gebruik word om hierdie mense weer op die been te help.

“Nuwe plekname hou nie vir enigiemand volhoubare werkskepping óf inkomste-sekerheid in nie. Die ANC en sy verwronge ideologie wys dat hy bereid is om mense terwille van transformasie te laat honger ly,” lui die party se verklaring.

Die DA-LP Veronica van Dyk sê die DA gaan geskrewe vrae aan die parlement voorlê.

Dit sal fokus op wat die koste gaan wees om die veranderings aan te bring en wat presies die openbaredeelnameprosesse behels het voordat die nuwe name in die Staatskoerant afgekondig is.

“Dit is belangrik om vas te stel of die publiek, veral die inwoners wat in die dorpe en stede woon, genoeg tyd gegee is om hul stemme oor die kwessie dik te maak.

“Gegewe die reaksie van die publiek ná die aankondiging wil dit lyk asof die regering net die nodige onder die dekmantel van transformasie gedoen het.”

139 teenkantings is van hand gewys

Van Dyk sê die ANC het dit ’n stap te ver geneem deur 139 teenkantings, waaronder twee versoekskrifte met 180 handtekeninge, van die hand te wys.

Sy wys daarop dat Mthetwa se departement nie die Suid-Afrikaanse kuns-en-kultuur-sektor tydens die pandemie ondersteun het nie.

Die DA staan agter die burgemeester van Gqeberha, Nqaba Bhanga, en sy sentiment dat die naamsverandering van die stad ’n fout is wat verreikende gevolge kan inhou.

Luyolo Nqakula, streekvoorsitter van die ANC in Gqeberha, sê die ANC dra kennis van die talle klagtes oor hoe die proses ontvou het.

Volgens Nqakula is die ANC in die streek van mening dat verdere konsultasieprosesse met gemeenskappe moet geskied. Hy meen die proses moet gelokaliseer word.

Nqakula sê omdat die ANC tekortkominge geïdentifiseer het met hoe die prosesse geskied het, gaan die party ’n konstruktiewe manier vind oor hoe om in die toekoms met die owerhede oor die verandering van plekname in die Nelson Mandelabaai-streek te raadpleeg.

Meer oor:  Pe  |  Gqeberha  |  Oos-Kaap  |  Naamsveranderings  |  Anc  |  Naamverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.