Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-lede stook geweld in KZN... en maak reeds reg vir 10 Augustus

Terwyl ’n betoging reeds gereël word vir wanneer oudpres. Jacob Zuma op 10 Augustus weer in Pietermaritzburg in die hof verskyn, word Zuma-lojaliste se rol in verlede maand se onluste al hoe duideliker, en is die polisie bekommerd dat ’n groot hoeveelheid gesteelde ammunisie in hernude aanvalle in die provinsie gebruik kan word.

Fabrieke by die industriële area in Cornubia, Durban is in puin gelê. Foto: Dawie Boonzaaier

Die ANC in KwaZulu-Natal (KZN) is egter magteloos om teen vermeende saboteurs in sy midde op te tree aangesien die party deurspek is van die Zuma-ondersteuners.

So verdeeld is die party dat die ANC-koukus in die eThekwini-metroraad Donderdag nie kon saamstem oor wie hul kandidaat moet wees vir die vakante onderburgemeesterspos nie.

Konflik tussen die ANC se radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie in KZN, wat Zuma goedgesind is, en die Luthuli-huis-hoofkantoor in Johannesburg het ook in Meimaand uitgebars toe eThekwini-takke die party se skorsing van Ace Magashule, sekretaris-generaal, veroordeel en geëis het dat hy heringestel word.

Gesteelde ammunisie ‘voorspel niks goeds nie’.

Toe Zuma op 7 Julie in hegtenis geneem is, het die ANC amptelik by monde van Sihle Zikalala, KZN-premier, gevra vir kalmte, maar op WhatsApp het ANC-lede en selfs kontrakteurs van die eThekwini-metroraad die vlamme van anargie gestook.

Skermgrepe van WhatsApp-boodskappe wys dat ANC-lede plunderaars aangehits het om die “land tot stilstand te bring”, “howe en polisiekantore te brand” en “alles te vernietig”.

Die beweerde ANC-kwaadstokers op WhatsApp sluit in:

* Mbali Ncube, ’n jarelange werknemer by die ANC se provinsiale kantoor in KZN, wat op 11 Julie ’n stemboodskap op ’n WhatsApp-groep met die naam Free Zuma Information gestuur het. Daarin vra sy dat Zuma-ondersteuners “amptelik terroriste in Suid-Afrika moet word”. “Kom ons vernietig alles wat in ons pad staan,” het sy gesê. Ncube se maatskappye het so onlangs as Februarie vanjaar kontrakte losgeslaan by die eThekwini-metroraad en KZN se departement van vervoer. Sy het in Mei vanjaar ’n foto van haar saam oudpres. Zuma by ’n geselligheid op haar Facebook-blad geplaas. Toe Rapport vir Ncube met haar stemboodskap konfronteer, het sy gesê sy sal inloer by haar persoonlike assistent “wat gewoonlik my foon bestuur”, en dan op die beweringe reageer. Dit het nie teen druktyd gerealiseer nie.

Kitsbanke wat gedurende die betogings in KwaZulu-Natal geplunder is.

* Sanele Zakhele Masuku, ’n lid van die ANC-jeugliga in KZN, het ’n video op die WhatsApp-groep geplaas van vragmotors wat gedurende betogings ’n hoofweg blokkeer. Masuku bedryf die onderneming Thokozilethula saam met oudpres. Zuma se dogter Brumelda. Masuku het nie op Rapport se vrae gereageer nie, maar teenoor ama­Bhungane, ’n organisasie vir ondersoekende joernalistiek, ontken dat hy self die video geneem het.

* Zinhle Zee, ’n sekretaresse by die ANC se eThekwini-tak, het betogers gewaarsku om hul selfone se GPS-funksie af te skakel sodat hulle nie opgespoor kan word nie. Zee het by navraag eers ontken dat sy aan “enige WhatsApp-groep behoort”, waarna Rapport die skermgreep van haar boodskap vir haar aangestuur het. Hierna het sy beweer dat sy “geen idee” oor die boodskap se stuur het nie.

* Lindani Sosibo, ’n ANC-lid van Pietermaritzburg, het ’n boodskap gestuur waarin hy Zuma-ondersteuners aanmoedig om die land “tot stilstand te bring”. “Paaie moet gesluit word en brande moet brand in alle areas vanaf Maandag,” lui Sosibo se boodskap op 10 Julie aan dieselfde WhatsApp-groep. Sosibo het by navraag sy ANC-lidmaatskap bevestig, maar ontken dat hy geweld aangehits het. “Die boodskap was gekopieer en gestuur om seker te maak dat mense veilig is, maar ek het dit nie begin nie,” beweer hy.

’n Foto van Mbalu Ncube saam met oudpres. Jacob Zuma wat sy in Mei op haar Facebook-blad geplaas het.

Rapport verneem dat hierdie Whats­App-groep, saam met die Shutdown eThekwini-groep, deur die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) ondersoek word. Prominente ondersteuners van oudpres. Zuma, soos Carl Niehaus en Andile Lungisa, is ook op die groepe, maar ontken dat hulle geweld help aanhits het. Natjoints het hierdie week amptelik alle navrae omtrent die betogings in KZN en Gauteng begin hanteer.

Rapport is ook in besit van video-opnames van werknemers van Durban Solid Waste (DSW), die stad se vullisverwyderaar, wat vullisvragmotors gebruik het om paaie gedurende die betogings te versper. ’n Bron by die eThekwini-metroraad sê werknemers by DSW is mees­al ondersteuners van die voormalige burgemeester Zandile Gumede, wat ’n Zuma-lojalis is.

Gumede en 16 munisipale amptenare staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met die toeken van tenders van meer as R400 miljoen terwyl sy burgemeester was. Sy het na bewering haar amp misbruik om die toeken van tenders aan DSW te beïnvloed.

Bronne sê die metroraad wemel van Gumede-ondersteuners.

Van die boodskappe wat deur ANC-lede op ’n WhatsApp-groep met die naam Free Zuma Information gestuur is.

Die eThekwini-metroraad het by navraag bevestig dat hy bewus is van die bewerings teen sy werknemers en dat dit ondersoek word. Nhlakanipho Ntombela, woordvoerder van die ANC in KZN, het gesê die party is besig met sy eie ondersoek na individue wat betrokke was by die “organiseer van die anargie”. “Wanneer die verslag gefinaliseer is, sal dit met ons hoofkantoor gedeel word sodat daardie lede dissiplinêr verhoor word. Waar daar duidelike bewyse is van misdade sal ons die inligting met die polisie deel sodat hulle daarop kan reageer.”

Die Zuma-familie, by monde van Duduzane Zuma, sê dat hulle ook nie verantwoordelik gehou kan word vir die geweld nie (lees meer hier).

Met Rapport se besoek aan Durban die afgelope week was die stad plek-plek nog ’n ramptoneel. In die Cornubia-nywerheidsgebied, waar ’n fabriek van die tegnologiereus LG afgebrand is, het ’n sekuriteitswag vertel hy het ’n kaart in die puin opgetel waarop fabrieke met rooi pen gemerk was.

By Massmart se verspreidingsentrum in KwaMashu het ’n sekuriteitswag voorspel nog lyke sal in die puin van die uitgebrande fabriek gevind word – toe word drie verkoolde lyke die volgende dag uitgegrawe.

Dean Macpherson, DA-kiesafdelingshoof vir Durban-Noord en die party se voorsitter in KZN, sê die eThekwini-raad kan binne die volgende jaar bankrot wees en dat baie maatskappye aangedui het hulle sal nie langer hier kan sake doen nie.

KZN is Donderdag as ’n rampgebied verklaar, wat sal help om noodfondse vir die herbou van infrastruktuur beskikbaar te stel. Maar rondom Durban was daar steeds geweld en vrees.

Phoenix is op ’n naaldpunt (lees berig hiernaas) en in Lamontville is ’n vrou Donderdag deur die polisie doodgeskiet terwyl hulle gesteelde goedere probeer terugkry het. Die gemeenskap het hulle teen die polisie verset.

’n Polisiebron in KZN sê die groot bedrae kontant wat uit honderde vernietigde kitsbanke gesteel is, asook die sowat 1,1 miljoen rondes ammunisie uit ’n pakskuur in Mobeni, skep ’n “teelaarde vir ’n groter en veel meer gewelddadige betoging”.

News24 het gisteroggend berig van die gesteelde ammunisie is reeds gebruik om op polisielede te skiet.

Die Valke ondersoek die moontlikheid dat polisielede self by die misdaad betrokke was. “Jy sit met baie kontant en baie ammunisie in misdadigers se besit. Dit voorspel niks goeds nie,” sê ’n polisiebron.

Die polisie het die afgelope vyf jaar 11 700 beamptes weens ’n vermindering van die begroting verloor.

Meer oor:  Lindani Sosibo  |  Zandile Gumede  |  Jacob Zuma  |  Sanele Zakhele Masuku  |  Mbali Ncube  |  Kwazulu-Natal  |  Durban  |  Plundery  |  Onluste  |  Anc  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.