Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC loof Cyril oor ambassade-afgradering in Israel

Die ANC het pres. Cyril Ramaphosa en die regering geluk gewens dat hulle ’n resolusie van dié party se nasionale konferensie in 2017 deurgevoer het en die Suid-Afrikaanse ambassade in Israel tot net ’n belangekantoor afgegradeer het.

Die ANC se verklaring kom net ’n dag nadat die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD) gewaarsku het dat Suid-Afrika se besluit om die ambassade af te gradeer sy rol in die Midde-Oosterse vredesproses irrelevant maak.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: Deaan Vivier

Die ANC sê sy besluit oor die Suid-Afrikaanse ambassade is op die onversetlike houding van Israel teenoor die Palestyne gegrond.

Die party wys daarop dat Israel Palestynse grondgebied en die ooste van Jerusalem nou al langer as 50 jaar beset.

Die ANC voer aan dat die Israelse nedersettings in die besette gebiede ’n oortreding van die internasionale reg en verskeie resolusies van die Verenigde Nasies is.

Volgens die ANC is die besluite bindend wat hy op sy nasionale konferensies neem, ook op die kabinetslede wat dit moet uitvoer.

Die SAJBD het Ramaphosa en Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, daarvan beskuldig dat hulle nie uit een mond oor Israel praat nie.

Die organisasie sê die uitlating van Sisulu dat die afgradering van die ambassade afgehandel is, is in skerp teenstelling met wat Ramaphosa in September in die sinagoge in Tuine in Kaapstad, en ’n maand later op die organisasie se kongres in Gauteng gesê het.

Sisulu se departement ontken dit en sê Ramaphosa het op 7 Maart vanjaar in antwoord op ’n parlementêre vraag geantwoord dat die proses om die ambassade af te gradeer nog aan die gang is.

Die president het terselfdertyd gesê Suid-Afrika bly daartoe verbind om met alle betrokke partye oor die konflik tussen Israel en Palestina in gesprek te tree sodat gehelp kan word om vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê die ANC het gewys hy is moreel bankrot met sy houding teenoor Israel.

Aan die een kant  brei hy 'n eensydige boikot teen Israel uit, terwyl hy terselfdertyd moeite doen om bande te smee met lande soos Venezuela, Noord-Korea en Kuba wat internasionaal 'n swak aansien het.

"Die ANC moet teen die agtergrond van sy openlike vyandigheid teenoor Israel daarvan kennis neem dat talle Islamitiese lande soos Egipte, Turkye, en selfs Nigerië steeds volle ambassades in Israel het," sê Groenewald.

"Israel kan baie vir Suid-Afrika beteken. Hy is bereid om te help, veral  op belangrike gebiede soos waterbestuur en vergroening in 'n stadium waar die land al hoe meer waterskaars word."

 

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Israel  |  Afgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.